Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Politiek en die aanloop tot die verkiesing

Die demokrasie kry dikwels ‘n slegte naam deur die karakter van sommige van die rolspelers – die politici. Onder die stereotipes wat gevorm word is dat politici die waarheid slegs inspan waar dit nuttigheidswaarde het, dat politici opportunisties is en ‘n gaping vinniger kan vat as wat Super Sarel vanjaar in die Super-rugbyreeks daardeur kan glip.
Lae stempersentasies is dikwels die gevolg.
Onder die jongste juweeltjies is dié van Julius Malema dat apartheid sal terugkeer as die ANC nie meer die pyp rook nie. Malema versuim om te meld dat die laaste apartheidswet vanjaar, 20 jaar gelede, uit die wetboek geskrap is. Dit is drie jaar voor die ANC onder ‘n nuwe grondwetlike bedeling aan bewind gekom het.
Hy versuim voorts om te meld dat die rassewetgewing wat nou op die wetboek is, deur die ANC aangebring is.
Hy verswyg ook dat die huidige grootste opposisieparty, die DA, ‘n voortsetting is van die ou Progressiewe Party van Helen Suzman. Dit ontgaan Malema skynbaar dat die huidige leier, Helen Zille, ‘n lid van die Black Sash was, wat weer by die United Democratic Front geaffilieer was – in ieder geval volgens die ANC se webwerf. Die UDF het kort na sy ontstaan die ANC se Freedom Charter aanvaar, en hoewel sonder formele bande, as binnelandse vleuel vir die ANC opgetree, op ‘n baie soortgelyke wyse as waarop Sinn Fein as wettige, binnelandse vleuel vir die verbode Ierse Republikeinse Leër opgetree het. Zille was ook ongelukkig dat die UDF ontbind het toe die ANC gewettig is.
Voorts is die DA se nasionale nuusverklarings feitlik alles slegs in Engels, tot nadeel van die party in ‘n media-omgewing waar gemeenskapsmedia gegroei het wat lesers en luisteraars betref, maar nie oor vertalers beskik nie. Die afgelope paar maande se nasionale mediaverklarings sluit ook nie iets in oor plaasmoorde nie, en daar is ook geen verwysing na die haatspraakverhoor teen Malema nie.
Malema soek dus die apartheidspook agter die verkeerde deur. Ook as hy die ander groter partye, soos Cope, die UDM en die IVP ontleed, gaan hy minder rassegedrewenheid as by die ANC opspoor.
Hy kan ook maar die Vryheidsfront Plus se webwerf en beleidsdokumente met ‘n fyn kam deurgaan om ‘n rasbeheptheid te probeer opspoor. Die VF + neem sorg dat sy beleid versoenbaar is met die Volkereg – ‘n stel norme wat hoë aansien aan minderheidsregte bied. Ook by die konserwatiewe Christen-Demokratiese Party sal Malema vergeefs soek na iets wat op apartheid dui.
As Malema werklik op jag is na rassisme, kan hy gerus ondersoek instel na wie polarisasie in die land aanblaas deur aan te dring om haatspraakliedjies te sing. Hy kan ook kyk watter party het die geledere gesluit om bedenklike uitsprake deur die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi.
Hy kan voorts let watter party het ‘n rits rasgebaseerde wetgewing op die wetboek geplaas, in weerwil daarvan dat die vorige regering die bevolkingsregistrasiewet en ander apartheidswette afgeskaf het.
Malema se skadelike invloed strek egter veel wyer. Hy is een van die voorste eksponente van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie. Die wyse waarop Malema die woord “demokrasie” aanbied, laat staatswetenskaplikes se hare regop staan en klink eerder na naakte diktatuur van die meerderheid. Dit help ook nie dat hy tydig en ontydig die woord “rewolusie” opper nie. Teen wie? Met die ANC snoesig aan bewind, kan dit slegs teen die grondwet gemik wees.
Malema is iemand sonder wie die land goed kan klaarkom. Dat hy soveel statuur geniet tot skade van die land, kan net op die brood van die ANC-ringkoppe gesmeer word.