Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Politici en die media

Nuuskommentaar: Politici en die media

In Suid-Afrika is die media na Lethulihuis opgekommandeer vir ‘n belangrike aankondiging wat geblyk het ‘n narrepoging te wees om die media met lang ore toe rus – in Nederland noem die hoofredakteur van Trouw in ‘n spesiale kommentaar ‘n minister ‘n leuenaar.

Daar is ‘n reuse verskil tussen Suid-Afrika en Nederland se hantering van die media, maar ook enkele ooreenkomste. Nederland deel die derde plek op die persvryheidsindeks met die voormalige Sowjetrepubliek, Estland, terwyl Suid-Afrika die 42de posisie met Botswana deel. Nederland het verlede jaar nog die topposisie met ‘n paar lande gedeel, en Suid-Afrika het in 2003 nog die 21ste posisie beklee, en was toe die mees persvrye land in Afrika. Nou klop die Kaap Verde (9de), Namibië (20), Mali (25), Niger (29), Tanzanië (34) en Ghana (41) Suid-Afrika.

Tradisioneel beteken die vasvat van insurgensie dat ‘n land nie juis goed op die persvryheidsindeks vaar nie, maar beide Mali en Niger voer al jare lank ‘n stryd teen gewapende Toearegs en ander radikale groepe wat onafhanklikheid of oorname van die state nastreef.

Beplande muilbandwetgewing, die wetsontwerp op die beskerming van staatsinligting, ‘n voorgestelde mediatribunaal en Julius Malema se tirade teenoor ‘n BBC-joernalis het volgens Verslaggewers sonder Grense (VSG) veroorsaak dat Suid-Afrika so flink op hul indeks die kreeftegang gegaan het. VSG is egter nie al persvryheidswaghond wat oordeel dat Suid-Afrika so swak vaar nie; Freedom House het Suid-Afrika twee jaar gelede ook tot slegs gedeeltelike persvrye land afgeradeer.

Om die Nederlandse en Suid-Afrikaanse analoog te verstaan, moet net kortliks na die Nederlandse situasie geloer word. In Nederland is die regering en hul departement van Veiligheid ‘n paar jaar gelede voor die hof gesleep omdat die kommunikasie van ‘n joernalis en haar koerant afgeluister is oor ‘n aangeleentheid wat met die Dalai Lama se besoek aan die land verband gehou het.

Trouw se hoofredakteur se aanval was op die minister van Immigrasie en Asiel, Gerd Leers. In groot detail word bewys dat Leers en sy adjudant se aanval op Trouw oor beriggewing oor Leers se uitsprake, op ‘n wilde omgaan met die waarheid neerkom. Trouw het immers die onderhoud op band. Boonop ontken Leers stellings wat nie eens in die berig vervat is nie.

En, skryf die hoofredakteur, dis nie die eerste keer dat Leers hom aan ‘n donkievyeverkwanseling skuldig maak nie.

Die hoofredakteur sluit af: “Hoe ongemaklik die situasie vir die minister van Asiel ook al is, die manier waarop Leers met die media omgaan is onbehoorlik.” ‘n Vertaling sou die laaste sin nie tot sy reg laat kom nie: “En Frank Wassenaar haalt het vak van woordvoerder zo ver naar beneden dat zijn collega’s hem met pek en veren zouden moeten afvoeren.”

Vervang “Frank Wassenaar” met “Jimmy Manyi” en Suid-Afrikaners sal ’n idee vorm van wat Trouw eintlik vir Wassenaar toewens.

Die media-orgie by Lethulihuis kan as niks anders as ’n belediging vir die media en Suid-Afrikaners se intellek beskryf word nie. Onder die voorwendsel dat ’n baie belangrike aankondiging gedoen gaan word, is al wat media is opgekommandeer om na die narreparade te gaan kyk. Dis regstreeks op TV uitgesaai. In wese is aan Suid-Afrikaners die donkievye probeer verkwansel dat daar eenheid in die ANC is. Die gegrinnik het ‘n kommentator laat skryf dat dit gelyk het of die paneel van daai berugte ysies gesuig het – verwysend na ‘n besending ysies wat met rum gedokter was wat met ‘n skool se skoon ysies omgeruil is, met heel voorspelbare gevolge.

Die ANC het bloot daarin geslaag om die land van die teenoorgestelde te oortuig. Wat egter wel ook deeglik waarneembaar was, was dat pres. Jacob Zuma twee senior ringkoppe afgeransel het wat by was tydens Malema se aanvalle op Zuma, en niks gesê of gedoen het nie. Adjunk-pres. Kgalema Motlanthe en mnr. Matthews Phosa moes simbolies voor die grinnikkende president ‘n knieval doen. Veral Phosa, wat die verhoog gedeel het toe Malema vir Zuma onlangs ‘n diktator genoem het, het duidelik ongemak beleef, en volgens media-inligting, was hy hoogs die swernoot in.

Die media in die land moes dus in wese gade slaan hoe Zuma nou reeds sy potensiële teenstanders voor die land gaan probeer verneder.

Die hele Lethulihuissirkus het hom afgespeel teen die agtergrond wat vir die land veel onheilspellender is, en om verskeie redes. Dit handel om die advertensieveldtog deur die Departement van Staatsveiligheid. Dat die departement R5 miljoen se belastingbtalersgeld gebruik om ‘n wetsontwerp, en dus nog nie ‘n wet nie, mee te adverteer is ‘n gruwelike miskenning van die skeiding van gesag soos in die grondwet vervat. Hoewel die bedrae verskil; as iemand die destydse inligtingsdebakel van die vorige regering as skandaal wil beskryf, is hierdie ook een want presies dieselfde beginsels van ongrondwetlikheid is ter sprake. MaroelaMedia het dit reeds bespreek. (Lees: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/nuuskommentaar-snoerwetsontwerp-se-advertensies-deel-van-aftakeling-van-skeiding-van-mag/ ).

Bykans net so kommerwekkend is hoe lank dit die media geneem het om agter te kom hier word vlak onder hul oë gekierang. Selfs die opposisiepartye was skynbaar met die wind uit die seile gelaat oor die blatantheid van die advertensies. Die klein Christen-Demokratiese Party (CDP) was die eerste politieke party om alarm te maak in ‘n verklaring wat op 1 April uitgereik is, maar is byvoorbeeld nie as nuuswaardig genoeg beskou om deur SAPA oorgeneem te word nie. ‘n Aantal onafhanklike radiostasies het egter dadelik op die mediaverklaring gereageer.

Eers na die DA op 2 April gereageer het, het die groot media begin berig oor die saak.

Net so kommerwekkend is dat die ANC en die Departement van Staatsveiligheid steeds nie kan, of wil insien wat nou eintlik verkeerd gedoen is nie.

Niemand betwyfel die belangrikheid van die vrye media vir die behoud van enige vorm van demokrasie nie. Yves Leterme, voormalige Belgiese premier, het by geleentheid die media as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie genoem.

In Wes-Europa is daar egter kommer oor die impak wat die ekonomie en die opkoms van die internet het op die lewensvatbaarheid van gedrukte koerante – juis dit wat as die vernaamste demokrasie-waghond beskou word. Ter wille van besnoeiings word die redaksies al hoe jonger en minder ervare. Meer en meer foute sluip in. Onlangs is berig dat Suid-Afrika se persombudsman tydens ‘n opleidingsessie van nuusredakteurs ontsteld was oor die gebrekkige vlakke van algemene kennis van die nuusredakteurs.

‘n Goeie algemene kennis is immers baie belangrik vir die identifisering van die nuusrelevansie van nuus, en uiteindelik vir die vertolking daarvan.

Die stellings: “Die pen is magtiger as die swaard” en “’n mens kruis nie swaarde met hulle wat die drukkersink by die konka aanskaf nie” kan immers slegs geld as daar ook hoë vlakke van kundigheid, kennis en eerbaarheid in die betrokke media teenwoordig is. Anders gaan die kolommetjies onder die opskrifte “Regstellings”, “Verskonings” en “Koerant verloor hofsaak” al hoe langer word.

Suid-Afrikaanse mediakunde-akademici kan maar kla dat Freedom House en VSG te rof met hul oordeel oor Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindekse omgaan. Dis immers hierdie akademici wat baie mense sonder die nodige kundigheid aan die praktyk offer. Die mediawese handel immers oor veel meer as om tog sulke alte mooi opstelletjies te kan skryf.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien