Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Polarisasie en staatkunde: België en Malema

Die voortslepende regeringskrisis in België herinner tegelyk aan die polariserende werklikheid wat met die haatspraak-verhoor in Suid-Afrika aksént gekry het, en hoe dit binne ‘n demokrasie aangespreek kan, en behoort te word.

Benewens die regsbeginsels wat gister in regter Collin Lamont se uitspraak in die Julius Malema-haatspraakverhoor na vore gekom het, staan ‘n realiteit duidelik uit: Die sing van die liedjie wakker polarisasie in die land aan.

Dit is bykans ironies dat heelwat van die kritici van die uitspraak, trouens teen die ganse hofgeding, juis bekommerd is oor die polariserende uitwerking wat die hofsaak op die gemeenskap het. Van die land se grootste partye waag nie eens ‘n mening nie, waarskynlik uit vrees dat dit die polarisasie-lyne n die partye kan deutrek.

Regter Lamont het omsigtig te werk gegaan en groot moeite gedoen om die uitspraak so te lewer dat dit as vertrekpunt vir ‘n versoeningsproses kan dien. Nou hang dit van die gemeenskappe af of hulle die bal laat val. Afriforum het dadelik aangedui dat dié organisasie, soos voorheen, bereid is om met die ANC-Jeugliga koppe bymekaar te sit.

Die rolspelers wat hul speelgoed uit die kot gooi se reaksie is egter nie bemoedigend nie. Dit dui eerder op ‘n rug-styfmakery teen die hele konsep van ‘n onderhandelde skikking, waarvoor oud-president Nelson Mandela internasionaal soveel lof kry.

In België het die voortslepende dooiepunt om ‘n nuwe federale regering te vorm, pas sy 456de dag en 177ste probleem opgelewer. Die afgelope Sondag het die partye in totaal weer 17 uur spandeer om struikelblokke uit die weg te ruim. Die koning se ongeduld, en probleme met begrotingsgoedkeurings, het stellig heelwat met die sterk ywer te make.

Die ironie is dat die skikking slegs ‘n haarbreedte weg is, maar dat tegelyk geen snars gevorder is nie. Om die haarbreedte te kan vorder, moet van die partye effense toegewings maak, maar hulle het by ‘n punt gekom waar hulle voel hulle kan nie ‘n tree verder die rug buig nie.

Sentraal, maar nie die enigste probleem nie, is die posisie in en om die hoofstad Brussel, bekend as die BHV. Dit sluit gebiede in wat deels Franstalig – of Waals – is, en deels Vlaams, oorwegende Waalse gebiede, en oorwegende Vlaamse gebiede. Die hele gebied val boonop binne Vlaandere.

Histories het ‘n aantal staatkundige ontwikkelings hier plaasgevind wat op die oog af nie sin maak nie. Franstaliges in Vlaamse gebiede kan stemreg vir die Franstalige dele uitbring, terwyl die omgekeerde nie plaasvind nie.

In Vlaandere is Frans ‘n verpligte skoolvak, maar die omgekeerde geld nie in Wallonië nie.

Onder die oppervlak is die vermoede dat die gewoonlik eentalige Franssprekendes op Vlaams neersien. Toe die Vlaamse regering die gedagte geopper het om naas Frans ook Engels as verpligte taal in Vlaamse skole aan te bied, was die Wale dadelik op die agterpote, en is gemeen Engels sou Frans as skoolvak vervang. Die verduideliking dat dit as gelyke taal met Frans aangebied sou word om veeltaligheid te bevorder, is steeds as ‘n klap in die gesig ervaar. Uit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief sou die gevoel bloot wees wat die hele saak die Wale aangaan, synde hulle nie Vlaams met dieselfde respek behandel nie.

Die werklikheid is dat Vlaandere 6,1 miljoen inwoners het, en Wallonië 3,5 miljoen. Die Vlaminge het hul lewensstandaard van ‘n agterstand verby tot veel hoë as die Wale ontwikkel, en die Vlaminge dok jaarliks miljarde Euro’s op om te verseker dat hul Franstalige landgenote soortgelyke dienstestandaarde beleef.

Dit kan dus nie as verrassing dien nie dat daar sterk sentimente onder die Vlaminge is vir ‘n onafhanklike Vlaandere. Namate die Europese Unie al meer die karakter van ‘n regering ontwikkel, maak die behoud van die Belgiese federale regering as iets tussenin nie veel sin uit nie.

Jare lank word al voorspel dat België “binnekort” uiteen sou spat, iets wat steeds baie moontlik lyk.

Maar intussen manifesteer die verdeeldheid nie in opruiendheid en vandalisme nie. Word nie aangedring dat maar gesing kan word dat die ander doodgeskiet moet word nie.

Herman Toerien