Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Perspektiewe op omkopery-indeks

Die indeks oor korrupsie wat gister deur Transparency International bekend gemaak is, is wel nie dieselfde as die gewone korrupsie-persepsie-indeks nie, maar dit is nie minder belangrik nie. Gister se indeks meet die persepsie oor betalers van omkoopgeld in ‘n land se geneigdheid om buitelandse maatskappye om te koop. Dit gee dus byvoorbeeld geen aanduiding van hoeveel omkopery in Suid-Afrika self plaasvind nie, waar sommige kenners dit as endemies beskryf. Dis egter nie minder belangrik nie.

Op die lys van gister beklee Suid-Afrika die 18de plek uit van die wêreld se 28 grootste ekonomieë.

Die lys van 21 lande waar die lande se vertoning met die vertoning van 2008 gemeet word, is moontlik meer insiggewend. Hierop beklee Suid-Afrika, die enigste Afrikaland op die indeks, die 16de swakste posisie, en het een plek gesak.

Suid-Afrika bevind hom nietemin in “goeie” geselskap deurdat drie van sy Brics-vennote nog swakker plekke beklee: Indië (18), China (20) en Rusland (21). Die vierde vennoot, Brasilië beklee die 13de posisie en het sy posisie op die ranglys aansienlik verbeter.

Hoewel ‘n behoorlike prentjie eers gevorm sal kan word wanneer die jongste persvryheidsindeks en beleggersvertroue-indeks die lig sien, is die verslag van Transparency International nogtans baie belangrik en staan sterk binne verskeie kontekste.

Gister het adjunk-president Kgalema Motlanthe ontken dat die nasionaliseringspraatjies wat in omloop is, veral deur die ANC-jeugliga gedryf, beleggers afskrik. Boonop het die voorsitter van die portefeuljekomitee vir Minerale, Fred Gona, gister die mynhuise tydens ‘n openbare verhoor die kop gewas omdat hulle nie self alternatiewe vir nasionalisering voorstel nie. Dit is duidelik dat hy nie iets in die dampkring van die status quo as gewens beskou nie. Lonmin Platinum het aan die komitee gesê dat openbare debatvoering oor nasionalisering onstabiliteit tot gevolg het wat beleggings in die wiele kan ry. Gona het gesê mynhuise moet ophou hamer op slegte gevolge van nasionalisering.

Teen dié agtergrond was Motlanthe se uitspraak op die vooraand van die G-20-beraad in Frankryk, pikant, en ‘n dawerende teenstelling van wat die minister van Minerale, Susan Shabangu gister voor ‘n internasionale mynkonferensie in Londen gesê het. Media 24 haal haar soos volg aan: “Dit maak nie saak hoe dikwels ons regering die voor die hand liggende – dat nasionalisering nie Suid-Afrikaanse regeringsbeleid of ANC-beleid is nie – stel nie, die omstredenheid en moontlike vrese wil net nie verdwyn nie.”

Is die nasionaliseringspraatjies werklik gevolgloos? Heelwat ekonome verskil van die adjunk-president.

Die hoof van die Nederlandse Ontwikkelingsbank, Nanno Kleiterp, het gister ‘n gans ander deuntjie gesing. Dié bank se investeringporefeulje maak dit die grootste Europese ontwikkelingsbank vir die privaatsektor. Kleiterp het breedvoerig uitgewei oor hoe ontwikkelingslande toenemende aantreklike beleggingsheenkomes word, en onder meer herhaaldelik gemeld dat Nigerië die potensiaal het om so ‘n aantreklike heenkome as Brasilië te word.

Sy onderhoud staan teen die agtergrond dat die groeitendense van die ontwikkelde lande na die ontwikkelende lande verskuif, en hy wys onder meer daarop dat Bangladesj en Mongolië meer kredietwaardig is as Griekeland. Griekeland het gister juis ‘n onrustigheid op wêreldmarkte veroorsaak deur onverwags aan te kondig dat dié land ‘n referendum gaan hou om te bepaal of die Europese reddingspakket aanvaar gaan word. Hoewel dit by die Grieke oor die politieke ongewildheid van die bitter medisyne handel eerder as dat privaat banke as deel van die hulppakket die helfte van die Griekse skuld afskryf, het Europa dit as ‘n klap in die gesig ervaar. Die Christian Science Montor se opskrif oor dié saak het die vraag gevra of Griekeland nou ‘n ramp uit die kake van ‘n uitkoms ruk.

Kleiterp verwys in sy onderhoud egter glad nie na Suid-Afrika nie. Die naaste wat Suid-Afrika aan vermelding kom, is ‘n verwysing na die beleggingspotensiaal in die Brics-lande, maar hy sluit Suid-Afrika weer uit wanneer hy pertinent die Chinese, Brasiliaanse en Indiese banke noem.

Dat ‘n berugte korrupte land soos Nigerië as beleggingsbestemming aangeprys en Suid-Afrika uitgesluit word dui op slegs een aspek: Suid-Afrika word as ‘n minder veilige beleggingsbestemming as Nigerië beskou.

Verskeie bekende Nederlandse maatskappye, soos Shell en Philips maak deel uit van die bloudruk vir volhoubare ontwikeling van die Wêreld-Sakeraad vir Volhoubare Ontwikkeling met sy oog op 2050. Dié strategie behels dat die wêreld teen 2030 veertig persent meer vars water, en 50 % meer energie en voedsel beskikbaar moet hê.

Met elkeen van hierdie aspekte meen Kleiterp klaarblyklik dat Suid-Afrika kleitrap. Nie net skakel nasionaliseringspraatjies van die gelyste rolspelers in Suid-Afrika uit nie, maar grondgryp-praatjies is voedselsekerheid se doodskoot.

Suid-Afrika se prioriteite lê nie by die sus van die jeugliga nie. Die land moet gevurkte tong-uitsprake staak. In ‘n moderne kommunikasie-omgewing bly versekerings aan bepaalde gehore nie tot daardie gehore beperk nie, en die oplossing is nie om die media te snoer nie.

Die veldtog teen korrupsie moet vertroue inboesem, en het nie teenstrydighede nodig soos dat dit blyk dat, terwyl die bom oor die polisie se huurkontrakte met Roux Shabangu gebars het, die Onafhanklike klagtedirektoraat self kantore van dié sakeman betrek het en dat hul huur van R4,2 tot R15,6 miljoen gestyg het nie.

Suid-Afrika moet noodwendig sy posisie op indekse begin verbeter, of gaan agterbly in ‘n beleggingsomgewing waar ander ontwikkelde lande beleggingsvoorkeur geniet – juis noudat Europa as beleggingsbestemming die agterhoede begin vorm.

Opgestel vir MaroelaMedia