Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Persepsie van die werklikheid

Terwyl ekonome syfers bekend maak om aan die hand van konkrete bewyse op die gevolge van die ANC-Jeugliga se nasionaliserings- en grondonteieningsbeleid te wys, en veral Zimbabwe as voorbeeld voorhou, vind dié feite nie oral in persepsies neerslag nie.

Pas het die ANC in Noordwes die eerste provinsie geword om ‘n resolusie te aanvaar vir die nasionalisering van myne. Dié besluit is in Klerksdorp, ‘n mynstad, geneem, in ‘n provinsie met besonder baie myne. Die persepsie is egter dat die inwoners van die provinsie min baat vind by die myne.

Die syfers wat die ekonome uitlig, soos gisteraand op RSG se Kommentaar deur mnr. Roelof Botha, is ontstellend. Dertig jaar gelede het Zimbabwe nog in verskeie opsigte by Suid-Korea kers vasgehou. Zimbabwe het egter met nasionalisering en grondonteiening begin. Werkloosheid het die hoogte ingeskiet, die ekonomie is verwoes en die welvaart per individu in Zimbabwe is ongeveer 200 keer laer as in Suid-Korea.

In 1990 was die Zimbabwiese lewensverwagting sowat 60 jaar; nou is dit volgens sommige bronne laer as 40 en die laagste ter wêreld.

Daar word na ander voorbeelde verwys. Die miljarde euro’s wat die voormalige Wes-Duitsland nou al sedert die val van die Berlynse muur in die voormalige Oos-Duitsland moet inpomp om die twee dele van Duitsland se lewenstandaard min of meer op gelyke vlak te kry.

Met die verdeling van Korea was die noorde, veral danksy minerale en ander hulpbronne wat goed deur die Japannese ontwikkel is, die meer geïndustrialiseerde en vooruitstrewende land. Die res is geskiedenis, met die Suide wat nou in welvaart baai, en die noorde wat gereeld selfs hongersnood beleef.

Malema se kamma-utopia’s druip verskeie ander toetse ook, soos hul plek op die persvryheidsindeks, ‘n seker aanduiding dat dit broekskeur met selfs ‘n namaaksel van demokrasie gaan. Omtrent die enigste land wat Malema as voorbeeld voorhou en waar dit ekonomies nie te gebrekkig daaraan gaan nie, is Hugo Chavez se Venezuela, met sy groot olie-inkomste. Maar demokrasie en spraakvryheid is bykans volledig afgetakel.

Verskeie kere is – selfs uit die ANC – aangevoer dat Malema nie ernstig opgeneem moet word nie – iets waaroor die ANC-jeugliga bitter ontevrede is. Sommige kommentators het selfs gesê dis die mediadekking wat Malema kry, wat hom ‘n profiel gee en belangrik maak. Gelukkig is daar senior joernaliste soos Gert Coetzee van Volksblad wat beter insig het en daarop wys dat Malema dekking kry en verdien omdat die ANC hom toelaat om so ‘n invloed en profiel te kry. Dit sou gewoon onverantwoordelik en dom wees om Malema se uitsprake en reperkussies te ignoreer.

Daar is ander redes hoekom Malema nie maar geïgnoreer kan word nie. Wat Malema eis, is immers presies in pas met wat die Freedom Charter bepaal – nasionalisering van myne en banke by die naam, en die nasionalisering van grond wat deur die mense wat dit bewoon, benut moet word.

Die ANC-besluit in Noordwes dui ook daarop dat Malema se praatjies ‘n groter impak op die deursneelid uitoefen as die ANC se halfhartige pogings om met versekerings potensiële beleggers gerus te stel. Nie eens almal in die ANC kry daardie boodskap nie.

Herman Toerien