Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Persepsie oor munisipale dienslewering

Tussen al die 1 April-slaggate in die media, is daar een berig wat opval – slegs een uit elke tien Suid-Afrikaners is met die vlak van munisipale dienslewering tevrede. In 2006 was dit nog byna vier uit elke tien.
Volgens die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika, IDASA, is daar verskeie redes waarom Suid-Afrikaners so lang lippie is oor die gehalte dienslewering wat hulle van hul munisipaliteite kry. Hieronder is die groeiende gaping tussen verwagtinge wat geskep word, en dit wat die staat realisties kan lewer.
Dié peiling is wel net in vier van die nege provisies gedoen, naamlik Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal. Hierin het dit geblyk 15% van Limpopo se inwoners is tevrede, en net 5 % in Noordwes.
Verlede jaar het Cath Schefer en Chris Barker verslag gedoen oor twintig jaar dienslewering, met die fokus op watersake, in Brittanje, en die lesse wat dit vir Suid-Afrika inhou. Hulle skryf dat dit in die 60’s en 70’s onmoontlik was om in die Merseyrivier te verdrink, omdat die drenkeling eers van vergiftiging sou sterf. Vandag voldoen die rivier aan internasionale skoon water-standaarde. Na begin is om die rivier te rehabiliteer van ‘n oop rioolsloot tot skoon rivier, is die eerste salm reeds in 2001 in die rivier gevang.
In hul verslag, wat erg deur die Suid-Afrikaanse regering aangeval is, het hulle onder meer beweer dat 5 van Suid-Afrika se 19 waterbestuursgebiede watertekorte het. Vier gebiede, Polokwane, Durabn, Kaapstad en die Vaal-area het dringende aandag nodig. Net 7,4 % van die land se watersuiweringsaanlegte kon groendruppel-status verwerf.
Hulle wys ook daarop dat teen 2008, die paaie wat ‘n dekade tevore nog as “goed” geklassifiseer is, van 75 % tot 30 % afgeneem het. Swak paaie het van 5 % tot 33 % toegeneem en die agterstand in padinstandhouding het R100 miljard beloop.
Hierdie syfers skep ‘n gans ander beeld as die statistieke wat die regering graag voorhou oor onder meer hoeveel Suid-Afrikaners nou toegang tot kraanwater het teenoor 15 jaar gelede, en hoeveel persent spoel-geriewe het teenoor ‘n dekade of wat gelede. Hierdie statistieke vertel natuurlik nie die verhaal oor hoe groot die rekening vir onbetaalde water is nie, en ook nie dat die Ouditeur-generaal in sy mees onlangse algemene evaluasie van plaaslike regerings se ouditverslae, onder meer gemeld het dat sommige Vrystaatse munisipaliteite in groot ywer met die emmerstelsel weggedoen het, en met water-gedrewe stelsels vervang het – maar plek-plek versuim het om die water op te koppel.
Die regering se statistieke knoop selde die probleem van rioolbesoedeling van waterbronne met die uitgebreide vlakke van dienslewering.
Schefer en Barker se voorstelle oor wat Suid-Afrika uit die Britte se voorbeeld kan leer is omvattend. Dit stel sakeplanne voor met privaatsektor-inbinding, dit het die filosofie van goeie dinge eerste, en die res wat daaruit voortvloei.
Maar om ‘n probleem aan te spreek moet dit eers erken word. Statistieke moet die volle prentjie skets, nasionaliseringspraatjies moet begrawe word, hemel-op-aarde-praatjies te midde van aanhitsing om nog meer kinders te verwek behoort op die ashoop.
Ander ontwikkel persepsies, en word resultate in opnames verkry wat die regering laat wens dis maar Aprilgek-grappe. Maar dorpe brand, en dis nie ‘n grap nie.