Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Peperduur prys van persvryheid

Elke oggend maak ons die koerant oop en lees die berigte daarin sonder om vir ‘n oomblik te dink aan die koste verbonde daaraan om die nuus te bekom het. Ons luister radio terwyl ons werk toe bestuur, en besef nie dat die frustrasie met verkeersknope ‘n vulletjie is taan die gevare wat joernaliste loop om daardie nuus uit te delf nie.

Op TV is ons gereeld binne-in gevegstonele, sonder om te waardeer dat dit wat ons sien die werklikheid is – nie maar ‘n toneel wat in ‘n Hollywoodse filmstel geskep is nie.

Vanjaar is reeds 30 joernaliste en twee medewerkers wêreldwyd dood. Onder hulle tel Anton Hammerl wat aan die hand van Ghaddafi se magte gesterf het. Altesaam 148 joernaliste, 9 media-assistente en 120 internet-joernaliste is wêreldwyd in aanhouding.

Sedert die Amerikaans-geleide inval in Irak het 365 joernaliste reeds in daardie land die lewe gelaat. Hoewel dele van Irak veiliger as ander is, meen kenners dat dieselfde nie vir joernaliste geld nie – dwars oor die land is die jagseisoen op joernaliste nog oop.

Toegegee, nie alle joernaliste bevind hulle op gevegsfronte of te midde van dwelmoorloë nie. Nie almal ken die reuk van kruit en kordiet nie, nie almal ken die geluid van skrapnel wat by ‘n mens se ore verby trek nie. Nie almal werk onder omstandighede waar ‘n sandstorm die enigste dekking teen koeëls is nie.

Vir nie almal is die verysde oppervlak van ‘n rivier die brug na ‘n storie in doodsgevaar nie. Maar tussen klappende skote klik kameras op konflikgrense.

Hoewel Suid-Afrika nie in ‘n oorlog betrokke is het dit ‘n jaar gelede, vlak voor die wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied het, die 49ste plek op ‘n konflikindeks beklee. Misdaad en korrupsie het daarvoor gesorg dat Suid-Afrika swakker gevaar het as plekke waar burgeroorlog woed – selfs op die Afrika-kontinent. Kort na die toernooi is plaasmoorde hervat en het gewelddadige stakings weer voorgekom.

Onlangs is berig dat ‘n Suid-Afrikaanse koerant veiligheidsmaatreëls moes tref vir twee joernaliste wat op ‘n ongemaklike plek gaan krap het. Om by nuus uit te kom, moet Suid-Afrikaanse joernaliste dikwels na gebiede beweeg waar die gewone burgery nie sommer sal kom nie. Op die oomblik woed dienste-onluste, is verskeie mense al met die halssnoermoorde om die lewe gebring, die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere is die hoogste ter wêreld, Tik- en ander dwelmoorloë het deel van die kultuur van bendegeweld geword.

En oplaas is die land se paaie, ook danksy die swak toestand van baie daarvan en die voorliefde om met ‘n paar doppe tiermelk agter die stuurwiel in te klim, ‘n slagveld.

Die vraag is hoe die nuusverbruikers op die regering se koue skouer vir persvryheid en toegang tot inligting reageer? Word die bloedprys enigsins verreken?

Watter meer gepaste respek vir diegene wat hul lewens opgeoffer het, kan gebring word as om vir persvryheid ‘n lansie te breek? Die stryd gaan om veel meer as net die optrede van die regering – dit sluit selfopgelegde sensuur en politieke korrektheid in, dit sluit in dat die kostefaktor ‘n stroom onervare joernaliste trek met ‘n gehalte-afname as gevolg van gebrekkige algemene kennis wat selfs die Persombudsman al laat stem dik maak het. Gemeenskapsradiostasies wat die beginsels van mediavryheid wil toepas en daarom probleme met hul lisensies begin ondervind, moet op meriete en beginsel gesteun word.

Tog wys baie vingers na die regering. Dit smag na inligtingsweerhouding, maar gee vrye teuels aan Pofpokkel se uitsprake wat polariseer – duidelike ongrondwetlike uitsprake maak. Verslaggewers sonder Grense het Julius se optrede as een van die redes uitgelig toe Suid-Afrika einde verlede jaar met vyf plek op die persvryheidsindeks die kreeftegang gegaan het.

Herman Toerien