Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Oorloë van vergetelheid

Dikwels pas dit ‘n regering dat die wêreld van ‘n oorlog moet vergeet, of liefs, glad nie van kennis moet neem nie.

Die redes is duidelik: Die wêreld neem behoorlik kennis van die opstand in Sirië, en geleidelik stapel die veroordelings of vermanings – ook van eertydse bondgenote soos Saoedi-Arabië en Iran, op. Al hoe meer sanksies word ingestel, en voorstelle vir nog strenger maatreëls neem toe. Die kollig wyk nie, en die skroewe word sterker aangedraai.

In Sirië het na raming sowat 2 300 mense omgekom sedert die opstand teen pres. Bashar al-Assad begin het. Assad probeer alles in sy vermoë om inligting van die slagtings te smoor.

Hierteenoor het 4 700 mense reeds in die Moslem-insurgensie van suid-Thailand omgekom, maar bitter min mense weet van hierdie insurgensie. Toegegee, die insurgensie het reeds in 2004 begin, en het ‘n sporadiese karakter. Met die wêreld wat siende blind is, is dit te wagte dat die insurgente – of terroriste – sal maak soos terroriste altyd maak – hul bloedlus verskerp om gesien te word. Die afgelope ses maande het die getal motorbom-aanvalle meer as verdubbel, Boeddhistiese monnikke word onthoof, en in verbyjaag-skietvoorvalle word enigeen van onderwysers tot rubberplantasiewerkers vol lood gejaag.

Hierdie getalle is steeds gering teen die sowat 50 000 mense wat volgens skattings hul lewens tot dusver in die Libiese opstand verloor het. Boonop het Sirië meer as 20 miljoen inwoners, terwyl Libië se bevolking op ongeveer 6 miljoen staan.

Die burgeroorlog in Soedan was ‘n goeie voorbeeld van ‘n oorlog wat dikwels in vergetelheid verval het. Dit het op wisselende sterkte oor etlike dekades gestrek, en is periodiek deur skietstilstand-ooreenkomste min of meer tot stilstand gekom. Die dodetal word in miljoene gereken, terwyl daar vanjaar reeds, na vrede met die noorde gesluit is, na raming meer as ‘n duisend mense in Suid-Soedan omgekom het. Die onderlinge gevegte van Suid-Soedanese stamme is deel van die wêreld se vergete konflikte.

Wes-Sahara is nog ‘n voorbeeld van ‘n grootliks vergete oorlog. Die oorlog met Marokko se besettingsmag het in die middel tagtigerjare op ‘n de facto skietstilstand uitgeloop toe Marokko ‘n sandwal opgerig en die land in effek in twee dele verdeel het. In 1991 is ‘n formele skietstilstand gesluit onder die veronderstelling dat ‘n referendum die volgende jaar gehou sou word. Die afgelope paar jaar stel Marokko ‘n vorm van outonomie voor, maar die Polisariofront wil niks hiervan weet nie.

Intussen bly Wes-Sahara ‘n land wat uit sy bestaan uit bevry is.

Nog ‘n vergete oorlog, is die moord-aanslag op Suid-Afrikaanse boere. Onlangs is ‘n boek geskryf oor die 1 363 boere en hul gesinslede wat die afgelope twintig jaar op hul plase vermoor is. “In plaas van openbare veroordeling deur die owerheid, heers daar ’n dawerende stilte terwyl daar terselfdertyd met gewaande arrogansie vinger gewys word na boere asof hulle die sondebokke is waarop die kollektiewe skuld van so baie ander gepak kan word…Dit skrei te hemele.” So skryf een van die mede-skrywers en oud-weermaggeneraal, Chris van Zyl.

Die moorde vertel maar ‘n fraksie van die verhaal van getraumatiseerde aanvalle, veediefstal in die orde van R500 miljoen per jaar, gereedskap- en implementdiefstal van amper dieselfde omvang, ontsaglike oesdiefstralle en veldbrande wat nie net ontsaglike skade aanrig nie, maar vanjaar reeds minstens vier lewens geëis het.

Dit is nie net die aantal moorde wat diegene wat geraak word en dié wat kennis neem skok nie, maar die ongelooflike wreedheid waarmee dit gereeld geskied. Dit is ‘n oorlog wat nie in vergetelheid mag verdwyn nie, en wat in sy wortels gestuit moet word. Daarom moet haatspraak kortgevat word – daarom rus daar ‘n groot onus op leiers om skadelike persepsies wat as die waarheid in omloop is nek om te draai.

Herman Toerien