Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om te té te wees

Die keer is die twee vegters in die hoeke die staatsregkenner, prof. Pierre de Vos, en in die ander hoek, die skryfster Marie Heese.

Of dan, Peertjies de Vos en Oumatjie Heese.

Die debat handel op die oppervlak oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, maar dit kon net sowel die ander universiteite gewees het soos die Tukkies of Kovsies, of die Sentrale Universiteit van Tegnologie… En uiteindelik is dit ook ‘n kwessie wat veel wyer strek as die posisie van Afrikaans op universiteite … dit gaan oor Afrikaans, en die regte van die mense wat dié taal gebruik en wat die kultuurerfenis daarvan saamdra.

Dat De Vos ‘n staatsregkenner is, is bloot interessant en nie bepalend nie. Die eintlik debat hier handel oor politiek en ideologie. In die Heese-kamp is daar ook verskeie staatsregkenners, en die FW de Klerk-stigting se aandeel hier is om verskeie redes insiggewend. Dis nie net ‘n organisasie wat die samelewing grootliks deur ‘n juridiese bril betrag nie, dit is waarskynlik die instansie met die meeste eerstehandse kennis oor wat die bedoeling was hoe die grondwet hierdie kwessies sou moes hanteer.

Word die politiek-wetenskaplike, die politiek-sosiologiese, die opvoedkundige en die antropologiese wetenskappe holisties in die debat ingeklits, staan diegene in die De Vos-dampkring betreklik naak.

Negrofilisme, kan op verskeie maniere gedefinieer word maar ‘n gewilde, eenvoudige is: “’n vreemde, oordrewe liefde van blankes vir die swart rasse.”

Die HAT beskryf dit meer klinies as ‘n persoon wat besonder toegeneë is teenoor Negers.

In Suid-Afrika het die persepsie oor negrofilisme regstreeks voortgespruit uit die denkrigtings van ‘n groep Franse filosowe met as grondslag die gedagte van die edele barbaar, wat hier beslag gekry het in die persone van sendelinge soos Reid, Van der Kemp en dr. John Phillips. Piet Retief maak in sy manifes wat in die Graham’s Town Journal geskryf is ook melding van die rol van die sendelinge: Ons kla oor die ongeregverdigde blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo is tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel; en ons voorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders nie as die totale ondergang van die land.

Negrofilisme kom ooreen met die begrip van feminisme in die konteks van vroueregte – ‘n ingesteldheid waar dit wil lyk of dié mense eers tevrede sal wees as vroue meer gelyk is as mans. ‘n Belangrike verskil is egter dat feministe gewoonlik self vroue is, terwyl negrofiliste gewoonlik blank is, dikwels gedryf deur ‘n skuldgevoel eerder as om ‘n element van inhaligheid te openbaar. Omdat negrofiliste byna altyd self min gevaar loop om weens hul welvaart, beroepsposisie of ander faktore wat hul welvaart beïnvloed, skade deur hul filosofie te ly, word hulle dikwels as baie naïef voorgehou. Sonder om te suggereer dat De Vos self ‘n negrofilis is, verwys hy lesers in reaksie op Heese se aanval gou na die data wat die akademikus-ekonoom, prof. Sampie Terblanche versamel het en versprei. Prof. Terblanche se posisie is ook geïnsuleerd van dit wat hy bepleit.

Ten slotte is negroflisme dikwels paternalisties, en as sodanig eintlik vernederend teenoor swart mense omdat dit ‘n gebrekkige eie vermoë impliseer.

Al moet die kwessie wyer beoordeel word as die grondwetlike in die besonder, en juridiese in die algemeen, is dit belangrik dat die grondwet wel in die oog gehou word. Artikel 6 (2) van die grondwet bepaal dat alles moontlik gedoen moet word om die amptelike inheemse tale te bevorder, waarvan Afrikaans immers een is. Die uitsluiting van Afrikaans sou juis op ‘n wanpersepsie van die geskiedenis en taalkunde dui – die kontekstuele agtergrond waarna Heese verwys. Artikel 30, dus deel van die handves van menseregte, handel ook oor taalregte met die voorbehoud dat dit nie so uitgeleef mag word dat dit ander se fundamentele regte skend nie. Artikel 31 verskaf meer substansie. Voorts maak die grondwet voorsiening daarvoor dat provinsies ook uit die groslys van elf amptelike tale enkeles as provinsiale amptelike tale kan verklaar.

Dit is ook belangrik om te let na dit wat in die benaming bedoel word van die Kommissie vir die beskerming en die bevordering van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe. Hoewel die regering deur wetgewing die funksie grootliks gekaap het sodat die VF+ daarteen gestem het, is die konsep duidelik dat taalgemeenskappe oor meer regte beskik as bloot taalregte. Dan sou dié kommissie se funksies immers deur Pansat ondervang kon gewees het.

Die regte van Taal-, Kultuur- en Godsdiensgemeenskappe maak immers deel uit van regte wat as groepregte bekend staan, of in die Suid-Afrikaanse en Volkeregtelike konteks, as minderheidsregte. Onder die mees relevante bepalings hier is die beperkings wat die grondwet op vryheid van uitdrukking plaas, naamlik dat daardie reg nie insluit die reg om haat teen groepe aan te blaas nie, en die kriteria vir groepe word gelys as ras, etnisiteit, geslag, of godsdiens. Ras word in die volkereg en die HAT egter by die definisie van volk uitgesluit.

Dié artikel is besonder belangrik in die konteks van die haatspraak-uitspraak teen Julius Malema, waarmee De Vos en bekende negrofiliste probleme het. In hooftrek behels dit dat gevoel word die blanke / Afrikaner word van minderheidsregtebeskerming uitgesluit omdat dit, minderheid ten spyt, nie ‘n blootgestelde gemeenskap is nie. Artikel 233 van die grondwet bepaal egter dat die howe ‘n uitleg moet volg wat versoenbaar is met internasionale reg, en aan so ‘n uitleg voorkeur moet gee bo uitlegte wat daarmee in stryd is. Dit verskraal dus die alternatiewe opsie waar die grondwetlike dryfkrag veral in die burgerlike samelewingsinstellings gesoek word. En selfs al sou dit nie die geval wees nie, die klagtes teen Malema het juis uit burgerlike organisasies gekom, soos wat die saak wat reeds ‘n uitslag opgelewer het, Afriforum en die TLU-SA. Instansies soos die Afrikanerbond en talle individue het ook formele klagtes gelê.

As De Vos en geesgenote voel hierdie instansies was of is verkeerd, beteken dit in wese dat hulle meen die grondwet is gebrekkig omdat Malema juis in terme van die oortreding van die grondwet, en deur gebruik te maak van die grondwet en die voortspruitende meganismes, aangekla is.

Deur Afrikaansprekendes die geleentheid tot moedertaalonderrig te ontneem, word hul pretasiekanse beperk, en hul regte dus geskend. Hiervoor plaas Heese en geesgenote meer as genoeg bewyse op die tafel. Die feit van die saak is dat bykans 60 persent van die Wes-Kaap se bevolking Afrikaanssprekend is, maar dat die ander twee akademiese universiteite in die gebied beide Engelstalig is. Afrikaanssprekendes by Ikeys of die UWK sal beswaarlik op moedertaalonderrig, of selfs die reg om vraestelle in Afrikaans te kan antwoord, aandring.

Die strewe na transformasie plaas die hoër opvoedkundige instellings onder druk omdat dit raskwotas impliseer, en baie, soos De Vos hulle in sy repliek noem, African swart mense ‘n historiese probleem met Afrikaans het.

Dan weer terug grondwet toe, wat nie die terme transformasie, regstellende aksie of kwotas gebruik nie. Dit word meer afgelei uit die beperkings op die gelykheidsbeginsel, en ‘n beperkende maatreël mag nie so uitgelê word dat dit die oorspronklike reg – gelykheid – in effek tot niet maak nie. Om in ‘n omgewing met twee Engelstalige universiteite die enigste Afrikaanse universiteit sy volwaardige aanbieding van Afrikaans te ontneem, is ‘n skending van die hoofreg, en het meer met politiek as die reg uit te waaie.

Dit is belangrik om daarop te let dat liberalisme en negrofilisme nie sinonieme is nie. Trouens, weens die onverdraagsame paternalistiese element in negrofilisme, is dit eintlik ‘n vorm van rassisme is dit eerder iets wat tot die ander kant van die politieke landskap hoort. In die post-1994-bedeling het die woord negrofilsme in wese bykans in onbruik geraak. Dié woord kom glad nie in Die Burger en Volksblad se elektroniese argiewe voor nie, en net een keer, in 1993, in Beeld se elektroniese argiewe. Google dui ook op ‘n bykans volledige vakuum uit die post-1994-bedeling tot betreklik onlangs toe kommentators alarm begin maak het dat dié begrip liberalisme probeer kaap het, en eertydse liberaliste as neo-konserwatiewes, reaksionêre en vele meer begin uitskel het.

Fopspene word soms wel ingespan – soos ‘n tydige en ontydige opdwing van Bram Fischer as voorbeeld van ‘n Afrikanerheld. Dit gaan by die Afrikaner in die breë sleg af, nie soseer oor Bram ‘n kommunis was nie, maar dit was in die dae toe Stalin ‘n bloedige diktatuur bedryf het. Dit maak ‘n bespotting van die Afrikaner se intellek om ‘n kommunis uit daardie era as ‘n held en kampvegter vir menseregte voor te hou – tensy natuurlik aangevoer word dat hy eintlik ‘n klassieke voorbeeld van die “nuttige idioot” was.

In hierdie erg onverdraagsame dampkring het die aanslag teen Afrikaans by Stellenbosch ‘n vyeblaar van fatsoenlikheid probeer verwerf. Liberalisme self het skade begin ly, en die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadalie het onder meer politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalisme beskryf.

Daar is ‘n teenreaksie teen hierdie negrofilistiese denke. Tim du Plessis, nou hoofredakteur van die Nasionale Pers se Afrikaanse koerante, skryf in Maart verlede jaar soos volg in ‘n rubriek: “ ’n Nuwe tydsgees is aan die ontwaak. Mense, gemeenskappe, minderhede, noem maar op, staan op en sê: genoeg is genoeg. Nou vat ons ons regte terug.

“Groepe en instansies uit alle sfere kom in verset teen die versmorende ANC-hegemonie van die afgelope tien jaar. Die Pretorianers veg vir hul stad se naam. Belastingbetalers weerhou dienstegeld uit protes. In die townships is die middele van protes anders, maar die boodskap dieselfde: ons eis die regte wat die staat aan ons verskuldig is. Solidariteit sleep hulle hof toe (en wen) oor die sotlike toepassing van regstellende aksie. ENB is tot ommekeer gedwing oor sy diskriminerende (teen wit mense) hulpskema vir werknemers wat swaar betaal aan kinders se skoolgeld.

Cosatu het sy stem teruggekry ná Polokwane en protesteer luidkeels teen tenderpreneurs. Hy hou aan vra, totaal oneerbiedig, vir leefstyl­oudits vir die ANC se vetkatte.
Swart redakteurs en meningsvormers word weer, soos in die apartheidsjare, die stem vir gewone mense. Hulle skrik nie vir die ANC se raspolitiek nie en kritiséér. Sportbase wat jare lank gesidder en beef het voor die ANC, begin al hoe meer moed kry om ou Butana Komphela en sy lot in hul swernoot te stuur. Oral word die regerende party se groot projek – die “nasionale demokratiese revolusie”, gemik daarop om die ANC in elke uithoek van die SA gemeenskap te laat domineer –  in trurat gedwing.

Oral behalwe by die Universiteit van Stellenbosch (US). Daar gebeur die teenoorgestelde  –  regte word geabdikeer. Die US se reg om ’n universiteit met ’n Afrikaanse skering en inslag te wees in ’n oorweldigend Afrikaanse gebied word algaande prysgegee. Dit terwyl die Wes-Kaap reeds twee Engelstalige universiteite het. Die res van Suid-Afrika se burgerlike gemeenskap staan op en oefen hul regte uit. Stellenbosch kyk eerder hoe hulle dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en die land se laaste oorblywende Stalinis, kan paai en ter wille wees.
Die stutte vir Afrikaans as ’n volwaardige akademiese taal word stelselmatig op Stellenbosch uitgekap. Met die ironiese “uitkoms” dat die universiteit nie meer swart word nie, maar meer Engels, bepaald wit Engels.”

Miskien sal sekere negrofiliste beter sonder hul bril kan sien … dis miskien net nie nodig om dit van hul gesigte af te klap nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien