Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om te mag weet

Met kommentators wat nog verskil oor of Suid-Afrika reeds ‘n land is waar korrupsie endemies is, en of dit dreig om so ‘n land te word, is daar nog heelwat koppestamp oor die omstrede inligtingswetsontwerp.

Al het die ANC in die jongste verlede verskeie konsessies gemaak om van die drakoniese maatreëls te laat glip, meen die organisasie Right2know dat daar nog veel haper. Onder andere loop verklikkers steeds die gevaar om as buitelandse spioene geklassifiseer te word en aan die pen te ry.

Baie van die antwoorde oor hoekom dit so moeilik gaan om die wetsontwerp fatsoenlik getimmer te kry lê waarskynlik in die rede vir sy geboorte en aanvanklike ontwerp. Dit is baie makliker om van nuuts af ‘n Mercedes-sedan van die monteerbaan af te laat kom, as om ‘n dieselaangedrewe vragmotor in so ‘n blink ryding te omskep. En ongelukkig kom te veel fundamenteel-opgeklitste wetsontwerpe nou vir regtimmerwerk in die parlement aan.

Nog ‘n manier om korrupsie sy gang te laat gaan is om die liggame wat dit moet ondersoek, van die nodige fondse te stroop. Om ja-broers in bevel te laat van hierdie liggame is nog ‘n metode.

Die ironie was dat dit gister die media ‘n lang ruk geneem het om vas te stel wie as waarnemende president sal waarneem terwyl die president en adjunk-president in die buiteland sal wees. Vir die rekord, minister Jeff Radebe is met die takie opgesaal, maar selfs die presidensiële woordvoerders het dit aanvanklik nie geweet nie.

Veel wysheid is te leer uit die Brasiliaanse voorbeeld. Daar het ‘n heelwat beter inligtingswetsontwerp by die parlement aangekom, maar baie parlementslede skarrel verwoed om dit in die teenoorgestelde rigting te stuur as wat opposisiepartye hier die Suid-Afrikaanse weergawe probeer stuur. Die antwoord is eenvoudig – korrupsie in Brasilië is bykans endemies, en ondersoeke deur soortgelyke liggame as ons Openbare Beskermer wys die vinger na parlementslede, onder andere uit die regerende alliansie.

Endemiese korrupsie word tradisioneel beskou as daardie vlak waar korrupsie, en nie meer gewone markkragte nie, die gang van die ekonomie bepaal. Onlangs is beraam dat Suid-Afrikaners weens korrupsie gemiddeld 20 % per item wat hulle aanskaf, meer betaal danksy korrupsie iewers in die pyplyn.

Voeg daarby talle inhaligheidspraktyke wat nie aan die definisie van korrupsie voldoen nie, maar dieselfde mentaliteit aan die dag lê – die, soos Volksblad dit onlangs gestel het – vulgêre verhogings en bonusse wat mense in die bestuursposte van semi-staatsinstellings en ander openbare liggame kry, terwyl daardie instellings eerder in die grond in bestuur word – en die ganse ekonomie daaronder ly.

So lank Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie in die doofpot bly, sal dit die verkeerde boodskap aan ander bly uitstuur oor presies hoe verkeerd korrupsie is. So lank sal die stroom simptomatiese arrestasies van amptenare wat tsjôtsjô by grensposte en elders vat nie opdroog nie. So lank sal tenders in die howe bly beland.

Uiteindelik is dit voorbeelde wat lei. Om iemand met meer as twintig kinders as hoof van ‘n gesinsbeplanningsaksie aan te stel stuur maar net nie die regte boodskap uit nie. Om iemand wat self lekker buite die eg rondslaap as hoof van ‘n morele herlewingsaksie aan te stel, gaan ook nie werk nie.

Die politieke spreekwoord lui immers: In ‘n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.

Die ongelukkige waarheid is dat ook diegene wat nie vir daardie regering gestem het nie, daarmee opgesaal sit.

Herman Toerien