Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om in die duister gehou te word

Die verkiesing is skaars afgehandel, of blou moord word geskree dat die ANC teruggaan op sy woord oor die weglating van konsessies in die wetsontwerp oor toegang tot inligting.

Verslaggewers sonder Grense het reeds voor die konsessies Suid-Afrika laat tuimel op die persvryheidsindeks, en dié wetsontwerp as een van die redes daarvoor aangegee. Die ander redes was die voorgenome mediatribunaal en Julius Malema se optrede teenoor ‘n BBC-joernalis.

Mediavryheid bly een van die hoekstene van demokrasie, en is ‘n belangrike maatstaf om ‘n land se verbintenis tot die stryd teen korrupsie te meet.

Daar is egter ‘n mate van pikantheid oor die oorde waaruit die grootste ontsteltenis nou kom.

Juis omdat die media so ‘n integrale deel van die demokrasie is, word strepe ontledings ook nou gedoen om te kyk watter rol die media gespeel het om veelparty-demokrasie te bestendig. Of, soos die regering dit graag stel, ‘n diversiteit menings in nuusdekking te bied. Die internet maak dat dit ook nie so danig moeilik is om veral die gedrukte media te ontleed nie.

Sonder om bevindings vooruit te loop, is dit duidelik dat kleiner partye gereeld goed gesnoep is. Een van die groot koerantgroepe het selfs bo-aan sy politieke beriggewing op sy internet-weergawe ‘n lysie van partye, asof dit al is wat deelgeneem het. Van die partye op die lysie het egter swakker gevaar as partye wat nie die lysie gehaal het nie, dus word vrae gevra of iets soos ideologie, eerder as vermeende steun, ‘n rol gespeel het by daardie keuse.

‘n Christen-party, wat effektief deur daardie groep geïgnoreer is, het wel swak gevaar, maar anders as die ander klein partye nie steun ingeboet nie. Dié party het met sy mediaverklarings gereeld SAPA gehaal, en selfs die media in die buiteland, was gereeld op radiostasies onder meer danksy die feit dat al hul mediaverklarings van Afrikaanse teks voorsien is, en het ook met reëlmaat groot koerante in ander groepe gehaal. Dié party het selfs meer dikwels – via SAPA – dekking in Son gekry as die Afrikaanse koerante in dieselfde omgewing.

Dit is uiteraard hierdie mediagroep, synde in privaat besit, se reg om partydig te wees.

Dit spreek vanself dat kleiner partye – ook wat die aanwending van hul beperkte fondse betref – hulle sal toespits op die media wat hulle nie stief behandel nie, en die internet asook verwante tegnologie. Min partye sal dit waag om die media met wie hulle ongelukkig is aan te durf, want niemand wen ‘n geveg teen hulle wat hul ink by die vat aankoop nie. En hoe meer mense hulle na ander nuusbronne wend, hoe meer begin vra hoe dit moontlik is dat Suid-Afrikaners in die duister is oor verwikkelinge rondom moontlike Skotse onafhanklikheid, dat die liberaliste in Kanada op hul baadjie gekry het, en vele meer. Te midde van Afrikadagvieringe was nuus oor noordelike Soedan se besetting van die Abyei-streek, en die gevaar wat dit vir die skikking inhou, wêreldwyd reeds groot nuus voor dit op beperkte skaal die Suid-Afrikaanse media gehaal het.

Die media wat ideologiese selfsensuur toepas, of soos Rhoda Kadalie dit stel, meedoen aan die diktatuur van die liberalis – politieke korrektheid – is dit aan die stryders vir persvryheid buite die media verskuldig om nie net persvryheid te koester nie, maar dit wat daar reeds of steeds is uit te leef. Anders beteken persvryheid niks. Dan word demokrasie deur ‘n idiotekrasie vervang waar kiesers in onkunde hul kruisies gaan trek en ander besluite neem. Dan sal hulle vatbaar bly om stemvee te word vir rasse-opsweping soos wat die ANC nou gedoen het, eerder as om sinvol vir beter dienslewering of selfs hul eie beginsels te stem.

Terwyl partye nou hul dankies in massaversending aan die media stuur oor nuusdekking tydens die verkiesingsveldtog, is daar sommige media wat spesiale, persoonlike oproepe van dank kry. In hierdie demokrasie is almal gelyk en ongelyk tegelyk.
Herman Toerien