Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om die stem van redelikheid te vind

“Die media, burgerlike samelewing en opposisie sal al die ondersteuning wat hulle kan kry nodig hê die ANC se planne (met die nasionale demokratiese revolusie) teen te staan.”

So rapporteer Rapport gister in ‘n verkorte weergawe van ‘n toespraak wat oud-president FW de Klerk op 1 Julie gelewer het.

Presies hoe kompleks dit is, blyk uit ‘n onlangse rubriek van Tim du Plessis, redakteur van Beeld, waarin hy opmerk dat die stem van redelikheid stil geword het, en dat dit nou deur die heethoofde en randeiers oorheers word.

Word De Klerk en Du Plessis se opmerkings (ongevraag) deurmekaar geklits, lyk dit of ten minste ‘n deel van die oplossing daarin geleë is dat koerante “spreekbeurte”, veral in rubrieke, aan die stem van redelikheid moet gee.

In ‘n heterogene land is die probleem egter wat as die stem van redelikheid beskou kan word. Tradisioneel is iemand ‘n stem van redelikheid as hy objektief na sake kyk en dit objektief beoordeel. Tradisioneel sal hy hom nie aan die rand(eier)-spektrum, hetsy rewolusionêr of reaksionêr bevind nie, maar gebalanseerd iewers in die middel. Dit word dikwels as sinoniem met die stem van ‘n tegnokraat beskou – maw waar iemand hom deur feite eerder as politiek laat lei.

Waar hierdie punt van ewewigtigheid is, is egter die vraag. Ook in Sondag se Rapport skryf die adunkredakteur, Zelda Jongbloed in ‘n rubriek oor Zwelinzima Vavi van Cosatu die volgende: “Maar dis glad nie ’n slegte gedagte nie, gegewe die feit dat ons ’n president het wat meer swyging gee as wat hy leierskap gee, en ’n politieke binnekring het van papperds wat in die meeste gevalle óf swyg óf maar saam met die stroom gaan oor kernaspekte van ons samelewing. Dis in hierdie klimaat dat Vavi soms ’n uiters verfrissende en welkome openbare stem is.”

Dat Vavi soms die regte ding in ‘n gegewe situasie sê is so, maar dat hy as die stem van redelikheid voorgehou sal kan word, sal deur relatief min mense gekoop word. ‘n Ander Vavi-sentiment was gisteraand ook duidelik op RSG se program, Kommentaar, waar die stemme van redelikheid volgens baie se boekies, soos Theo Venter en prof. André Duvenhage, feitlik uitgeskakel is.

Die onlangse geskiedenis van die land maak dit inderdaad moeilik vir die stem van redelikheid om die blootstelling en aksente te kry wat dit verdien.

Die antwoord hierop kan volgens die jongste denkrigtings op die alternatiewe stemme op die internet, teruggevoer word na ‘n rubriek-opmerking van die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadali. Sy het geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

In die alternatiewe media is dit uitgebou tot die konsep dat die liberale media, wat per definisie as prima-ondersteuners van veelparty-demokrasie, veronderstel is om hul gehore aan ‘n diversiteit van menings bloot te stel, juis streng sensuur aan die dag lê teenoor alternatiewe menings – ook die stem van redelikheid, en voorkeur gee aan sekere ideologieë en dus partye – of in hierdie geval, na bewering ‘n spesifieke party.

Dit sluit by ‘n volgende groep aan wat De Klerk as kragbron teen die nasionale demokratiese revolusie wil ingespan – die opposisie. In ‘n demokrasie beteken dit die kollektief van opposisiepartye wat die dominante, en gewoonlik droogmakende, regerende party opponeer. Dat De Klerk dié konsep in die oog het blyk uit sy verdere opmerking: “Net jammer dat die meerderheid Suid-Afrikaners steeds volgens ras gestem het, alhoewel daar verblydende tekens was dat baie hulle wel laat lei het deur persoonlike waardes en die prestasie van die deelnemende partye.”

Die meeste politieke partye, wat bykans almal steun aan die DA afgestaan het, sal nie met De Klerk se waarneming oor laasgenoemde stempatroon saamstem nie. Daar was trouens onrusbarende tekens dat ‘n tweepartystelsel aan die ontwikkel is, wat in ‘n koukusgebonde samelewing nie aan die kriteria van ‘n demokrasie voldoen nie.

Of die DA die geskikte rytuig is om as tussentydse maatreël die ANC-hegemonie te breek, is ook nie noodwendig met die stem van redelikheid te versoen nie.

Binne die DA se parlementêre geledere is die vorige president van Agri-SA, Laurie Bosman, maar hy is lank reeds stil en skynbaar gesnoer. Mev. Helen Zille gebruik eerder die jeugdige Lindiwe Mazibuku as woordvoerder vir Landbou en Grondake, wat dadelik in terme van ‘n stem van redelikheid problematies geword het toe die DA bevestig het dat dit ook die Vryheidsmanifes onderskryf, en slegs in metodiek van die ANC se grondhervormingsplanne verskil. Op nasionale vlak is die DA net so stil oor plaasaanvalle as wat eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP daaroor is. Met ‘n huidige geval van grondgryp is dit ook nie Mazibuku wat as stem van redelikheid voorgehou word nie, maar tree die voorsitter, Athol Trollip in. Dit laat dadelik weer die vraag ontstaan of dit ‘n strategie is om Mazibuku se beeld onder swart mense onaangetas te hou – al het Malema haar “die miesies se tea girl” genoem, of is dit om Trollip kans te gee om die DA se beeld onder Afrikaanse kiesers gangbaar te hou – veral na Trollip se onlangse e-posblaps.

Dit is nie moontlik om alles vir almal te wees nie. In Suid-Afrika is dit verder kompleks omdat iemand wat ‘n beeld van links of regs het, vreeslik deur lesers op die uiterstes bygedam word as hulle ‘n stem van redelikheid laat hoor. Van die linkerkant word hulle onder meer as reaksionêr en nieu-konserwatief uitgeskel, en van regs as verlooptes wat nou mense velle oor die oë probeer trek.

Ja, die media en die burgerlike samelewing het ‘n stywe bult om te loop om die stem van redelikheid – veral die objektiewe, te vind en blootstelling te gee.

Herman Toerien