Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om die eie hakskeen raak te byt

In die aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi is ‘n beroep op vakbonde gedoen om nie vir hoër lone te staak nie, en die minister van Samewerkende Regering het gedreig om soos in die ou dae Caspirs in woongebiede in te stuur om opstande teen dienslewering te onderdruk.
Sommige vakbonde het gehoor gegee.
Ander het egter gestaak en gedreig om te staak, uitspattige verhogings geëis en gekry. Die meer verantwoordelike vakbonde het gekyk wat die beloftes oplewer, en toe tot hul verbystering agtergekom hulle word erg snoep behandel in ruil vir hul lojaliteit en patriotisme.
Die stakings wat hierop gevolg het, het die land bykans tot stilstand gebring. Onderwys is so ernstig geskaad dat die matriekslaagsyfer in baie kringe steeds bevraagteken word.
Die regering het bloot ‘n tendens sterk bevestig – die beste tyd om beloftes by die regering af te dwing is voor belangrike gebeurtenisse, soos verkiesings.
Dat daar nou ‘n bykans onophoudelike stroom diensleweringsproteste is, en beloftes in ruil vir stemme opgeëis word, is dus heeltemal te wagte.
Dit is egter ‘n uiters gevaarlike spel. In die politiek is 24 uur dikwels ‘n baie lang tyd, en ‘n vonk beland so maklik in die kruitvat.
Die kruitvate is behoorlik gelaai met die stand van veral munisipale dienslewering wat dikwels uiters beroerd is. Die wyse waarop kandidatelyste hanteer is, het nog ‘n paar skoppies dinamiet bygevoeg. Die vaatjies springstof is op onstabiele rakke van hoë werkloosheid, armoede gepak en is boonop gelaai met die konflikpotensiaal opgesluit in sosio-ekonomiese dispariteit.
Met die verdediging van sogenaamde “struggle”-liedjies wat volgens ‘n TNS-peiling deur driekwart van die bevolking, en ook 66 % van die swart mense as haatspraak beskou word, klink roekeloos. Koerantberigte op die internet wat oor die hofsaak teen Malema geplaas word, se internetkommentaar van lesers is in ‘n ommesientjie ongelooflik lank en adem die gees van erge ontevredenheid.
Die lysie van sake wat die vaatjies met springstof laai, kan baie lank gemaak word – soos die vullisverwyderingsgemors in Johannesburg waar korrupsie na bewering ‘n sterk onderliggende faktor is.
Of die voorval in Ficksburg waar ‘n betoger deur die polisie op kort afstand doodgeskiet, en ‘n ander ten aanskoue van die TV-kameras – en dus die bevolking – erg aangerand is, die vonk in die kruitvat gaan wees, moet nog gesien word. In die Arabiese domino-revolusie het ons gesien hoe Twitter en ander sosiale netwerke onrus soos ‘n veldbrand kan versprei.
Danksy die media is die bevolking ook taamlik op die hoogte daarvan dat sake op diensleweringsvlak in die Wes-Kaap, die enigste provinsie nie in ANC beheer nie, veel beter verloop. Die ANC se reaksie is om die media as die grootste opponent in die aanloop tot die verkiesing te beskryf – dus die doodmaak van die boodskapper van slegte tyding.
Word die maand tot die verkiesing inderdaad vir die A NC ‘n baie lang dag, en daar is verkiesingskade, het die ANC nog die prerogatief om dié termyn baie kort te knip. Daar is juis sprake om al drie regeringsvlakke se verkiesing op een dag te laat saamval. Dié twee jaar, indien dit so uiteenval, sal dus baie sinvoller regering op al die regeringsvlakke vereis. Anders is ons oor twee jaar waar ons nou is, met die bykomende faktor dat die regering ook op die ander vlakke getoets gaan word.