Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om alles vir almal te wil wees

Teen dié tyd is dit reeds ou nuus dat die Suid-Afrikaanse kiesers met die pas afgelope munisipale verkiesing bykans volledig van ‘n veelparty-demokrasie afgestap het en ‘n tweepartytbedeling omarm het. Kenner op kenner wys op die misplaaste euforie wat hiermee saamgaan, omdat die kiesstelsel op so ‘n wyse aan die grondwet gekoppel is juis om te verseker dat die land se heterogene bevolkingsbelange ten beste deur ‘n rits koalisies op verskillende vlakke ondervang word. Europa dien in dié verband as voorbeeld.

Dat die grondwetskrywers wel deeglik misgetas het, blyk daaruit dat die land die enigste ter wêreld mis waar die meerderheidsparty bykans nooit van ‘n koalisie gebruik hoef te maak nie. In ‘n groot mate word ‘n eenpartybedeling dus gehandhaaf, en dit is om hierdie rede nog belangriker dat ander demokratiese instellings, soos persvryheid, behoorlik deur praktyk en konvensie gevestig is en bly.

Word die politieke lewe buite die politieke sfeer kortliks ontleed, blyk dit dat daar ‘n groot verskil is tussen hoe baie mense, ook die Afrikaner, hul politiek in die politieke en daarbuite beleef en uitdruk. Die susterkerke sien onder meer manifestasies van standpuntinname vir en teen Belhar, die NH Kerk se apartheidsbesluit, en die GKSA se besluite rondom Totiusberymings en vroue in die amp.

Op die politieke terrein, so lyk dit egter, is ‘n besonder gekonsolideerde stem uitgebring vir ‘n party wat tydens die verkiesingsveldtog verklaar het dat dit die ware erfenis van Mandela verteenwoordig, dat dit die Freedom Charter onderskryf met die gevolglike implikasies van die nasionalisering van landbougrond, myne en banke, ‘n party wat uiters selde ‘n mediaverklaring in Afrikaans uitreik, veral op nasionale vlak, en wie se reaksie op plaasaanvalle en selfs plaasmoorde op nasionale vlak so skaars soos hoendertande is.

Die DA – soos sy geskiedenis aandui – is ‘n party van saamgestelde belange. Terwyl dit lid is van Liberaal Internasionaal, laat dit ten opsigte van sekere kwessies keusevryhede aan lede en verteenwoordigers toe, by oor gay huwelike, die doodstraf en aborsies. Hierdie soort keusevryhede maak egter slegs sin solank so ‘n party in die opposisie is – sodra dit aan bewind kom moet keuses gemaak word.

In ‘n groot mate is die twee pole geïdentifiseer rondom die voorsitter van die party, Athol Trollip, en die sê-ryke Dianne Kohler-Barnard. Enkele jare gelede is dit goed gedemonstreer toe die regering sy omstrede planne vir uitgebreide aborsies aangekondig het, wat onder meer sou insluit dat 13-jariges aborsies sonder ouerlike toestemming sou kon ondergaan. Kohler-Barnard het dadelik ‘n mediaverklaring uitgestuur waarin die beoogde wetgewing met groot entoesiasme omarm is. Later dieselfde dag het Trollip, ‘m belydende Christen, ‘n verklaring uitgereik waarin die wetgewing veroordeel word.

Pas egter het Trollip sy kop in ‘n swerm siedende bye gaan steek deur in ‘n e-pos aan ‘n kollega te stuur, waarin hy skerp te velde trek teen die voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersvereniging, mnr. Jaap Kelder. Die e-pos is per abuis ook aan Kelder gestuur, en lui: “Please answer this Aresehole once and for all, deal with the Afrikaner issue that he raises and tell him to stop masquerading as a rate payer organization especially if he is the reincarnation of the AWB, KP, FF+ , NAZI. Stuur die IDIOOT in sy moer in sy moer asseblief. Athol”.

Bitter baie Afrikanerkeiers het hul stemme aan hierdie party toevertrou.

Tot krediet van die DA het die party openlik in die verkiesing gesê waarvoor dit staan. Dit verskil minstens van era’s uit die verlede waar veral landelike gemeenskappe omtrent toeplak was van plakkate wat lui: Eie woongebiede, eie skole,” of later “Ons sal jul stem wees.” ‘n Besonder stil stem.

Selfs ‘n baie goeie grondwet beskerm minderheidsregte net tot by ‘n sekere punt. Daarna is dit ‘n feitlike daaglikse opweg van demokrasie teen grondwetlikheid – nie net in Suid-Afrika nie maar ook in lande soos Australië waar die gedagte sterk loop dat die oppergesag van die reg – of te wel ‘n grondwetlike demokrasie, die bewind in die hande laat van nie-verkose regters eers as die verkose politici.

Wat Suid-Afrika betref, is ‘n debat hieroor voortydig. Nou is die kernkwessie om konvensies verskans te kry waar individuele en minderheidsregte behoorlik opweeg, en dit vereis eerbare politici en denkende, ingeligte kiesers.

NS: Weens siekte was my nuuskommentaar ‘n par dae van die “lug af.”

Herman Toerien