Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Om ‘n skerpioen se angel te trek en lesse vir mediavryheid

Dat dit ‘n politieke besluit was om die Skerpioene te ontbind, was ‘n ope geheim.
Dié feit is nou in wese deur die Grondwethof bevestig. Die staat het nou 18 maande tyd om ongrondwetlike wetgewing wat hiermee verband hou, reg te stel.
Die Wêreldbank beskou korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms. Korrupsie word egter ook as ‘n groot bedreiging vir demokrasie beskou, en internasionaal word walgegooi teen dié euwel.
Die VSA se stelsel waar Kongreslede in die reël nie aan koukusbesluite gebind is nie, het tot ‘n uitgebreide stelsel van beïnvloeding, bekend as lobby, ontwikkel. Hierdie beïnvloedings- en drukgroepe, van belange soos dié van die Armeniërs tot fundamentalistiese Christene deur die Christian Coalition of America, werk openlik, en het dikwels ‘n beleid net soos ‘n politieke party elders in die wêreld.
Dit spreek vanself dat so ‘n stelsel hom ook tot misbruik kan leen, en omvattende etiese maatreëls word ingestel, en voortdurend opgeskerp veral na ‘n skandaal op die lappe gekom het. ‘n Voorbeeld is waar ‘n groep kongreslede op ‘n ten volle betaalde luukse uitstappie na ‘n Skotse gholflandgoed geneem is.
Die probleem is dat geleenthede en versoekings opduik waar dit waarvoor kiesers hul verteenwoordiger parlement toe gestuur het, in die tande geskop word en ‘n saak wat buite orde is bevorder word – in ruil vir ‘n ruim ietsie.
Die aard van korrupsie maak dit ook noodsaaklik dat dit internasionaal beveg sal word, en daarom word dit dikwels as belangrike onderdeel in internasionale en bilaterale ooreenkomste ingesluit, en ons grondwet bepaal ons verbintenis tot sulke ooreenkomste.
In stryd hiermee is die Skerpioene, as ‘n bykans onafhanklike liggaam, ontbind. Die grootste albatros om die nek bly maar die onverkwiklike wapenskandaal, en dit was ook geen verrassing nie toe die Skerpioene se opvolger, die Valke, besluit het om die ondersoek na die wapenskandaal te staak nie.
Nou het die grondwethof beslis dat dié besluit in wese op ‘n skending van die grondwet en voortspruitende internasionale ooreenkomste neerkom. Die wol rondom die besluit was in wese foefies wat gebruik is toe die Skerpioene die angel ook p ongemaklike plekke begin inlê het.
Dit het ‘n wye reeks implikasies, heelwat daarvan waarskynlik nou simbolies van aard. ‘n Groot aantal doelwitte wat met die ontbinding van die Skerpioene beoog is, is reeds bereik. Dit is teoreties moontlik dat die feit dat pres. Jacob Zuma nou die regeringshoof is in plaas van om vir korrupsie verhoor te word, ook hiermee verband hou.
As die grondwethof se jongste bevinding beteken dat die regering omsigtiger gaan wees met planne en gedagtes oor grondonteiening en mediavryheid, het dié saak vir Suid-Afrika besonder baie beteken. Hier is van die mees basiese grondwetlike beginsels ter sprake, wat boonop in die handves van menseregte self opgeneem is.
Die saak toon ongelukkig ook hoeveel skade aangerig kan word voor die regsmeuel sy volle verloop geneem het. Die individu wat eiehandig die rol van ‘n Gideonsbende gespeel het, mnr. Hugh Glenister, moes nie net die hand diep in die sak steek nie, maar het gesê die vier jaar wat dit geneem het, het hom erg uitgemergel, en hy het menigmaal gedink om die handdoek in te gooi.
Vier jaar sonder behoorlike mediavryheid terwyl die meul maal is ‘n lang tyd met die gevolglike gebrekkige demokrasie, en gestroop van ‘n belangrike wapen teen korrupsie. Die mediavryheidskwessie durf nie dieselfde pad loop nie.