Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Obama en Sjina

Pres. Barack Obama, al geniet hy nog oorweldigende steun van swart Amerikaners, se gewildheid oor veral binnelandse aangeleenthede is onder enorme druk, veral onder mans. Hy vaar egter beter in die afdeling van buitelandse betrekkinge, wat moontlik te wagte is te midde van sy onttrekking van soldate uit Afganistan en Irak.

Die peilingdata sou sy adviseurs nie ontgaan het nie, en dit sal interessant wees hoe hy sy steun vir buitelandse sake benut om sy weg terug na die harte van Amerikaanse kiesers te vind. Sy aanval op Sjina tydens ‘n besoek aan Australië, is daarom van belang. Die basis van die wydlopende kritiek op Sjina is dat welvaart sonder vryheid maar net ‘n ander vorm van armoede is. In die fynskrif gaan hy egter verder as om bloot uit die bevrydingsteologie te leen, hy striem Sjina sy skending van menseregte, die dwarsboming van vryhandel, die kunsmatige onderwaardering van die geldeenheid wat kompetisie moeilik maak, die negering van intellektuele eiendom en om sy eie burger huil vryheid te ontneem. Die koerant, Trouw, wat sy inligting uit die Sydney Morning Herald neem, noem dit dreigende taal teenoor die Sjinese owerhede.

Oor die algemeen fokus die wêreldmedia oor ‘n ander aspek van Obama se toespraak voor die Australiese parlement, naamlik om te bevestig dat daar in die loop van volgende jaar 2 500 Amerikaanse soldate in Australië gestasioneer sal word. Obama maak ook geen geheim oor hoekom hulle juis in Darwin, Australië se mees noordelike stad, gehuisves sal word nie: Dit is om sy aanwesigheid in Oseanië te verstewig en om druk op Asië te kan uitoefen. In die praktyk is 2 500 soldate teenoor die grote van die Sjinese weermag egter bloot simbolies.

Analiste se vertolking dat dié teenwoordigheid, ten spyte van pogings om die VSA se militêre begroting te snoei, op ‘n teenreaksie dui teen Sjina se toenemende ontluiking en bedreiging as groot moondheid, moet dus in konteks beskou word. Dit is grootliks simbolies en in ‘n mindere mate logisties. Die doel is eerder om die uitbreek van konfrontasie te voorkom.

Hoewel die Australiese regering Obama se woorde toegejuig het, is dit ook so dat Sjinese ondernemers en beleggers die grootste dryfkrag agter die Australiese mynindustrie is, wat nou die belangrikste dryfkrag van die Australiese ekonomie is. Australië is ook baie afhanklik van die markte wat Sjina en omringende ekonomieë bied. Ironies is Sjina ook die VSA se grootste geldvoorskieter. In Mei vanjaar het dit reeds $1,16 Amerikaanse triljoen beloop.

Die Christian Science Monitor wys daarop dat die VSA kennis neem daarvan dat Sjina hom in die gebied militêr en ekonomies posisioneer om die VSA uit te daag, maar dat die VSA meer bekommerd is daaroor dat die Sjinese nie deursigtig in hul planne en tegnologiese vooruitgang is nie. Dit het dus tyd geword dat die VSA sy bondgenote in die gebied gerusstel. Die VSA se rugstyfmakery hou ook verband met die jaarverslag van die US-China Economic and Security Review Commission voor die Amerikaanse kongres waaruit dit duidelik blyk dat Sjina munt slaan uit die VSA se militêre kwesbaarheid.

Intussen sorg die Tibettaanse kwessie dat Sjina se menseregterekord onder druk bly. Sedert Maart het elf Tibettane hulself reeds aan die brand gesteek, en ses is oorlede. Die Sjinese regering se harde reaksie hierop help nie juis om die Weste gerus te stel nie, en in een geval is die selfverbrander verder aangerand sodat hy gesterf het.
Obama se rugstyfmakery teen Sjina klink dus soos musiek in die ore van die Amerikaners, wat hul land steeds graag as die sterkste ter wêreld wil beskou.

Vir Suid-Afrika, wat nouer en nouer betrekkinge met Sjina aanknoop, ook deur die Brics-vennootskap, is dit weer ‘n geval van hom bevind aan die ander kant van die wêreldmening.

Opgestel vir MaroelaMedia
Herman Toerien