Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Nominasietwiste simptoom van eenpartymentaliteit

Die ongedurigheid oor die ANC se kieslyste bykans landswyd, is ‘n ernstige aanklag teen die land se kiesers se gebrekkige omarming van veelpartydemokrasie.
Wat nou gebeur is kenmerkend van ‘n eenpartystaat, waar die nominasieproses ook bepaal wie die sogenaamd verkose verteenwoordiger sal wees.
In Suid-Afrika is daar tegnies ‘n veelpartydemokrasie in die grondwet bepaal, en op ‘n kiesstelsel besluit wat veral op nasionale en provinsiale vlak elders ter wêreld selde ‘n volstrekte meerderheid oplewer.
In Suid-Afrika is die posisie van die ANC so oorweldigend dat die land verskeie kenmerke van ‘n eenpartystaat dra. Die ontsettende twis in die nominasieproses wys dit, omdat die wenner in baie gevalle reeds in die nominasieproses bepaal word. Ontevrede kiesers dreig ook om eerder weg te bly van die stembus, as om, soos ‘n ware demokrasie vereis, vir ‘n opposisieparty te stem.
Soos ‘n eenparty-regerende party is die ANC ook in ‘n groot mate ‘n sogenaamde breë kerk. ‘n Breë uiteenlopende stel politieke ideologieë word ondervang, en beleidkonferensies, eerder as die stembus, bepaal sake soos hoe sosialisties of nie, die land moet wees.
Talle faktore sluit hierby aan, soos die geheimhouding van skenkings aan politieke partye. Daar sal dus altyd vrae wees of baie van die skenkings nie die gevolg van korrupte motiewe is nie – in wese as tsjôtsjô dien vir latere bakhand van tenders en ander ooreenkomste.
Verder word dié eenpartymentaliteit verdiep deur die wegdoen met ‘n stelsel wat as verraad teen die kiesers bestempel is, naamlik die oorloopstelsel. In die verlede het kleiner partye skielik voor nominasietyd ‘n toeloop gehad van nuwe lede wat senior posisies in die ANC beklee het, maar in die nomisietyd in die stof gebyt het. Die kleiner partye, oortuig van hierdie nuwelinge se persoonlike steun op grondvlak, raap hulle dikwels op en stel hulle in die plek van party-lojaliste. Met die oorlooptydperk is baie van hulle terug na hul oorspronklike politieke tuiste, die ANC.
Met die wegdoen van oorlopery is nie net die posisie van partyleiers met sterk diktatoriale kenmerke verskans nie, maar het die nominasiestryd feller geword omdat dit, nou meer as voorheen, die punt van finale beslissing is. Vir baie maak dit die verskil van soustrein ry, of heeltemal inkomsteloos wees.
‘n Newe-effek van die eenparty-geneigdheid is dat daar ‘n de facto tweepartybedeling ontstaan. Kiesers wat nie vir die ANC kans sien nie, konsolideer rondom die sterkste opposisie ten einde die ANC so gou as moontlik sy eenparty-boeliestatus te ontneem. Hierdie proses sou meer sin gemaak het sou die twee grootste partye – al is die een by verre groter as die ander, uiteenlopende ideologiese pole verteenwoordig het. Beide is egter in die humanistiese spektrum gesetel. Dit beteken dat baie kiesers pragmaties teen hul eie beginsels stem, of dat diegene wat beginselvas vir hul eie oortuigings stem, se stemme nie gehoor word soos dit in ‘n ware veelpartydemokrasie hoort nie.
Die demokrasie is moontlik nie heeltemal foutloos nie, maar soos die verweer dikwels lui, dit is darem die beste alternatiewe euwel wat ons het. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op kiesers want hul kruisies kan hul lewens en die lewens van ander dramaties wysig.