Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Nog meer Malema

Die wensdenkery dat die ANC se leierskapsverkiesing ‘n nuwe jeugleier sou lewer, het toe ‘n Malema gebaar.

Omdat Malema steeds, soos ‘n stout peuter, besig is om sy grense te toets, is dit ongelukkig nie ‘n geval dat die land weet waarvoor hy hom inlaat nie – dié jongeling gaan steeds kyk hoeveel hy buite perke kan speel en daarmee wegkom. Dit beteken nuwe kopsorge vir die land.

Dit is haas ongelooflik hoeveel skade Malema in ‘n betreklike kort tydjie op sy eie kon aanrig.

Baie water het al in die see geloop van hy uitdagend verklaar het dat hy sal doodmaak vir Zuma. Dié geleentheid het sommer ook die aandag van die Openbare Beskermer geniet omdat nie Malema nie, en ook nie Zuma nie, in daardie stadium enige amptelike poste beklee het wat dit geregverdig het dat hulle by ‘n amptelike jeugdaggeleentheid op staatskoste kon optree.

Skynbaar was daar ‘n verband tussen sy omstrede uitsprake en die geïdentifiseerde bedreiging wat die jongeling ‘n BBP-beskermingseenhied besorg het.

Sy peperduur smaak en tenderpreneurskap staan in skrille kontras met die uitsprake oor die nasionalisering van myne en banke, en grondgryp volgens die Zimbabwiese model.

Op die oomblik word uitspraak afgewag oor ‘n haatspraakklag, terwyl talle soortgelyke klagtes teen hom ook reeds aanhangig gemaak is. Sy onbeskofte optrede teenoor ‘n BBC-joernalis het die land ‘n paar plekke op die persvryheidsindeks gekos, en daarmee saam kan met stelligheid aanvaar word, ‘n hele paar werksgeleenthede.

Zuma het hom by geleentheid ‘n toekomstige president van die land genoem, en die afgelope naweek het swart ondersoekende joernaliste tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie so onwaarskynlik is nie.

Veral twee faktore maak Malema baie gevaarlik: Sy vermoë om nuwe grense te vind om uit te daag, en ‘n president wat slaprug hieroor staan. Trouens, waar Malema gou geleer het alles is hom geoorloof, behalwe om in die karakter van Zuma in te klim, het Malema daardie struikelblok ook reeds baasgeraak. Onlangs was dit opsigtelik dat Malema se skielike aanprysing van oud-pres. Thabo Mbeki neergekom het daarop dat hy sy vinger in Zuma se oog druk.

Stemme binne die ANC dat Malema se manewales die ANC stemme gekos het, is begroet met ‘n aandrang dat die Jeugliga uit jongmense bestaan, en toegelaat moet word om jong menings uit te spreek.

Nie dat Malema ooit baie respek vir die grondwet, en veral die onderhandelde gees waarbinne dit beslag gekry het openbaar het nie, maar hy het dit duidelik gemaak dat juis dit nou die grens gaan wees wat hy gaan toets. Hy dring daarop aan dat die ANC nou optree ooreenkomstige sy status as oorwinnaar. Die spelreëls van ‘n onderhandelde skikking staan hom klaarblyklik nie aan nie.

Van die uitkomste wat hy opeis is duidelik ongrondwetlik, maar hierdie struikelblok word oorkom deur die grondwet ondergeskik aan die Freedom Charter te stel.

Die verloop demonstreer hoe belangrik is dat gesonde gesinswaardes gehandhaaf moet word. Ongelukkig toon die werklikheid dat baie gesinne nie meer beide ouers tuis het nie, en maatskaplike syfers toon weer dat baie van die ouers wat wel tuis is, geen behoorlike voorbeeld vir die jonges stel nie.

Die jeug is ‘n land se toekoms. Hierdie toekoms lyk nie baie rooskleurig nie.

Herman Toerien