Subscribe by Email

Nuuskommentaar: News of the World slag vir media-selfregulering

Vir mediavryheid in Suid-Afrika kon die meeluisterskandaal van die Britse News of the World kwalik op ‘n slegter tyd gekom het.

Hoewel ontken word dat die nuwe inisiatief van verskeie belangrike medialiggame in Suid-Afrika om ‘n basis vir behoorlike selfregulering te vind, saamval met planne van die Suid-Afrikaanse regering om die media en die reg tot inligting te beperk, is die tydberekening tog belangrik. By dié geleentheid het oud-hoofregte Pius Langa hom ook ten gunste van selfregulering uitgespreek.

Die laaste ding wat die Suid-Afrikaanse demokrasie nou nodig gehad het, is ‘n insident soos die meeluisterskandaal van die News of the Wolrd.

Nie net is die konsep van selfregulering hiermee in Brittanje effektief nek omgedraai nie, maar in verskeie Europese lande is die gety sterk daarteen gedraai.

Vir die lande van veral Noord-Europa wat hoog op die lys van mees persvrye lande is, en ‘n groot groep saam in die eerste plek saamkoek, sal die Britse blaps waarskynlik in die praktyk min negatiewe gevolge inhou. Vir lande soos Italië, waar die bejaarde premier superman in die bed is maar volgens homself te oud is vir nog ‘n termyn, kan sake baie anders lyk. Italië deel die 49ste posisie op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks met Burkina Faso, heelwat swakker daaraan toe as Suid-Afrika se 38ste posisie. Suid-Afrika, op sy beurt, is maar die 5de mees persvrye land in Afrika.

Die wegdoen van selfregulering beteken gelukkig in Europa nie die staat neem die rol oor nie. Die model wat voorgehou word is ‘n onafhanklike liggaam waarin die staat en media ewe min invloed uitoefen. Gegewe die wyse waarop veronderstelde onafhanklike liggame, soos die SABC-raad hier deur die politici gekaap word, moet Suid-Afrikaners baie skrikkerig wees vir ‘n soortgelyke model hier te lande.

Dit was al lank duidelik dat die media baie versigtig moet wees oor die persepsie wat die publiek van hulle vorm. Voor die aanbreek van die wêreld-ekonomiese krisis was daar ‘n Europese veldtog om moraliteit by die politici en media te probeer herstel, ‘n duidelik reaksie op die persepsie dat dié twee beroepe die laagste vlakke van moraliteit oplewer. Die ekonomiese krisis, wat vir baie koerante ‘n oorlewingstryd beteken het, het die aandag weggelei. Dit het ook baie gehelp dat die media, in besonder in Ysland, so hard gedelf het om die rol van inhalige bankbase in die krisis aan die dag te lê.

Dit het pas aan die lig gekom dat City Press syfers het wat dui daarop dat minder as 20 % van die publiek vertroue in die media het. Hoe sterk die regering se periodieke aanvalle op die media hierin ‘n rol speel sal waarskynlik eers later sigbaar wees.

Die media is, soos selfs die demokrasie, nie perfek nie. Soos die politiek-wetenskaplike wysheid lui: Die demokrasie is nie ‘n volmaakte model nie, maar die beste wat ons het. Een van die beste waarborge vir die beter funksionering van ‘n demokrasie is mediavryheid.

Waarnemers gebruik reeds ontstellende terminologie om die vlakke van korrupsie in Suid-Afrika te beskryf, en die term, “korrupsie het endemies geword” is nie vreemd nie. Korrupsie bedreig nie net demokrasie nie, maar die land as funksionele entiteit.

Mediavryheid is die beste waarborg teen korrupsie. Dit is daarom belangrik dat die media in Suid-Afrika selfregulering gegun word.

Herman Toerien