Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Munisipale oudit bly donker wolk met dun minder donker randjie

‘n Jaar gelede het die sedertdien rustende Minister van Samewerkende Regering, Sicelo Shiceka, ‘n gesamentlike nuuskonferensie met die Ouditeur-generaal toegespreek. Die doel van die konferensie was om gesamentlike doelwitte op te stel, wat onder meer insluit dat alle munisipaliteite teen 2014 skoon oudits moet behaal. By dié geleentheid is ook aangekondig dat handleidings aan 283 munisipaliteite oorhandig om dié doelwit te behaal.

Sedertdien is gereeld politieke stellings gemaak dat die doelwit van ‘n 100 % skoon oudits teen 2014 op koers is.

Pas is die uitslag bekend gemaak van die land se munisipaliteite se oudit-vertonings vir die boekjaar wat Junie verlede jaar ten einde geloop word.

So ‘n verslag is omvattend en sal deeglike studie verg om verantwoordelike vertolkings te maak. Van die regering se kant word uiteraard op die blinker kant van die munt gefokus, en van diegene wat hulle reeds op vertolking verlaat, op die minder blink kant.

Wat die blinker kant betref het die aantal munisipaliteite wat ongekwalifiseerde verslae gekry het, van vier na sewe verbeter. Dit sluit een Metro in – Kaapstad, vir wie dit in elk geval nie ‘n nuwe ervaring is nie.

Altesaam 57 munisipaliteite het hul ouditmenings verbeter, 165 se status het nie verander nie, en 15 het agteruit geboer.

Die feit is dat ‘n ongekwalifiseerde ouditmening die enigste aanvaarbare is. Dit is ook nie so onbereikbaar moeilik nie, soos blyk daaruit dat Mpumalanga, enkele jare gelede nog Mamparralanga genoem weens onder meer onderwysskandale, en nou op die voorpunt van munisipale onrus oor dienslewering, die meeste skoon oudits opgelewer het, naamlik drie uit sewe.

Die ongemagtigde en vrugtelose uitgawes het met 77 % toegeneem, maar 51 munisipaliteite, waaronder Johannesburg, se verslae is teen die afsnytydperk nog nie ingedien nie. Hierdie munisipaliteite presteer gewoonlik power. Die prentjie kan dus aansienlik swakker lyk. Boonop is die vlak van verslagdoening van sowat 84 % van die munisipaliteite gebrekkig, dikwels skokkend gebrekkig.

Sodra belangrike data bekom kan word – die Ouditeur-generaal se webwerf is nou baie moeilik bereikbaar – sal besonderhede vasgestel kan word soos hoeveel munisipaliteite skoon ouditmenings met ‘n paar inskrywings gekry het. Dit word gewoonlik ook as skoon oudits aangebied, en is waarskynlik die rede waarom Overstrand en ander Wes-Kaapse munisipaliteite wat gewoonlik goed vaar nie op die lys is nie.

Die tempo waarteen verbetering skynbaar intree, laat dit ooglopend lyk of die 2014-ideaal nie naastenby bereik sal word nie. Dis egter nie iets waarmee voete gesleep kan word nie – so ‘n verslag moet koue rillings langs die ruggrate van beleggers en potensiële beleggers afstuur – om nie van die inwoners van daardie munisipale gebiede te praat nie.

Ongelukkig het die ANC hom onlangs opnuut verbind tot die indiensnemingspraktyke wat die probleem veroorsaak, waaronder kaderontplooiing die hoofprobleem is. Die minister se herontplooiingskomitee onder die leiding van George Seitisho verseker dat onbekwame en selfs skelm amptenare elders gehersirkuleer word – met dieselfde gevolge. Dieselfde komitee is ook getaak met die omkeerstrategie. Van ‘n hout-yster gepraat….

Herman Toerien