Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Moraliteit, of afwesigheid daarvan in internasionale politiek

Suid-Afrika word nou geskud deur die onthullings dat dié land wapens ter waarde van miljoene rande aan verklaarde terroristestate verkwansel het.
Dié inligting het bekend geword ondanks pogings om dit vir die algemene publiek geheim te hou.
Die name van twee state val op – Libië en Sirië.
In beide is daar nou opstande weens die onderdrukking van menseregte. Die komitee wat Suid-Afrika se wapenuitvoere moet goedkeur, word deur wetgewing belet om wapenverkope aan lande wat menseregte skend goed te keur. In beide is burgerlikes geskiet, en is dit heel moontlik dat Suid-Afrikaanse kiesers onwetend bloed op die hande het van diegene wat durf aandring het op regte wat as universeel beskou word.
Die komitee kan nie onkunde pleit nie. In die geval van Sirië word menseregte formeel onderdruk deur ‘n noodtoestand wat met die Baathparty se staatsgreep in die 60’s ingestel is. Om die menseregtevergrype in Libië nie te kon raaksien nie, beteken die komiteelede moet almal met ideologiese wit kieries oor die weg kom.
Terwyl dié gru-prentjie ontvou, verkondig pres. Zuma steeds aan kiesers dat die ANC die Here se politieke keuse is. Hy doen dit in weerwil daarvan dat bykans elke saakmakende kerk in die land, waaronder die Afrikaanse susterkerke en die AGS, sy optrede gekritiseer het. Die VGK het selfs so ver gegaan en lidmate ontmoedig om vir die ANC te stem.
‘n Christen – nie eens ‘n Christenparty nie – span immers God as sy werktuig in nie. Die Christen bly God se werktuig. Met al die saakmakende kerke gekant teen die regering se aborsiebeleid, is dit vanselfsprekend dat nie alle Christene die ANC as die Here se keuse sal beskou nie.
Boonop meen baie waarnemers dat Suid-Afrika te midde van bekpraatjies tot die teendeel ‘n land geword het waar korrupsie endemies is. Op die vooraand van die landswye plaaslike regeringsverkiesings kom ongemaklike inligting oor die minister vir hierdie portefeulje aan die lig.
Ongelukkig is Suid-Afrika, minstens wat die internasionale terrein betref, nie heeltemal alleen nie. ‘n Maand gelede het die Amerikaanse Hoogste hof, na ‘n verbete appèlproses deur die Fed, beslis dat die Amerikaanse Federale Reserwebank bekend moet maak aan watter banke geld geleen is om die 2008 fiskale krisis die hoof te bied. Met die bekendmaking van die inligting, was dit ook duidelik hoekom so verbete walgegooi is – ‘n groot porsie van die hulp aan buitelandse banke het aan die Arabiese Bank gegaan, waarin die Libiese Bank ‘n derde van die aandele hou.
Hoewel die VSA in 2008 na intensiewe lobbiewerk teen ‘n koste van miljoene rande handelsbeperkinge met Libië opgeskort het, was die land steeds formeel ‘n terreurstaat toe die lening toegestaan is. Die helde-ontvangs wat die Lockerbie-bomplanter in 2009 Libië ontvang het, het ook nie veel gedoen om die deursnee Amerikaner lus te maak om Maummar Ghaddafi as vriend te omhels nie.
Terwyl die VSA die status van terroristestaat teen Sirië handhaaf, is diplomatieke betrekkinge op ambassadeursvlak met dié land hervat.
Dit is nie om dowe neute dat die gesegde lui dat in internasionale betrekkinge, ‘n land nie vriende het nie, net belange. Een van die interessante kenmerke is dat opposisiepartye in sommige lande skielik ‘n koue skouer by hul susterpartye in ander lande ervaar, waar daardie susterpartye aan bewind kom. Hierdie stiefsusters handhaaf dan hartlike bilaterale betrekkinge met ander regerende partye met wie hulle ideologies so te sê niks in gemeen het nie.
Die gewone kiesers beleef egter ongemak as betrekkinge met muishondlande ook hartlik raak, en daarom is internasionale handel rondom wapentransaksies en ander omstrede kwessies gereeld donkerwerk. Dit maak nie saak hoeveel “Ammendments” daar aan ‘n grondwet is om die status van menseregte tot die hoogste vlakke te voer nie, buite die lig is dikwels konkelwerk aan die gang. – Herman Toerien