Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Moderne geopolitiek

Nuwe tegnologiese ontwikkelings vereis ‘n voortdurende aanpassing aan ‘n konsep wat in die 60-gerjare van die vorige eeu besonder gewild was, die geopolitiek. As die strategiese belang van seeroetes bekyk word, is sekere gebiede doodgewoon belangriker as ander. Die Arabiese domino-rewolusie het onder meer beklemtoon hoe belangrik die Suezkanaal Kernmissieltegnologie het verseker dat die Noordpoolprojeksie uiters belangrik is, en ander het weer baie gemaak oor hartlandgebiede diep in ‘n kontinentale binneland wat dit bykans immuun teen aanvalle maak, soos ook Napoleon op die harde manier moes leer.

Die strategiese verbinding tussen geografiese realiteite en wêreldpolitiek is egter veel ouer, soos eers die Britse gebruik van Splendid isolation, met ‘n sterk element van merkantilisme en die Amerikaanse konsep van Hemisfere defence.

Nog ‘n geografiese konsep wat die lig gesien het, was die Noord-Suid-verdeling. Hiervolgens word van die uitgangspunt uitgegaan dat die noorde ryk, en die suide arm is. In sommige variasies is die rykdomverspreiding toegeskryf aan die uitbuiting van die suide deur die noorde, veral in die koloniale era.

Om verskeie redes het hierdie konsep in onbruik verval. Dit laat immers geen ruimte vir selfrespek nie, en so ‘n benadering kom op ‘n verskansing van die bakhandsindroom neer.

Na 1994 het die Suid-Afrikaanse regering dit egter opnuut afgestof, en slaan dit nou selfs in akademiese leerplanne uit. Dit is geen absolute verdelingslyn nie, en daar is heelwat welvarende lande in die suide, en heelwat arm lande in die noorde.

‘n Simptoom is dat daar ‘n voortdurende stroom migrasie uit die sogenaamde suide, na die sogenaamde noorde is, soos vlugtelinge uit Afrika wat Europa op enige denkbare manier probeer bereik. Die VSA het weer met die massale oorsteek van sy suidelike grens te kampe.

Dit het nie impak op die plaaslike politiek in die lande van bestemming onaangeraak gelaat nie. ‘n Rugstyfmakery in Europa het Europa nou die titel van Fort Europa besorg, en daar word menings versprei dat Europa Afrikane aan ‘n grusame lot oorlaat.

Boonop het Europa intern ook te kampe met sy eie Noord-Suid-stryd – hoofsaaklik noordelike lande soos Finland wat Griekeland, Spanje en Portugal met enorme bedrae moet probeer ekonomies beredder, terwyl die inwoners van die struikellande erg stram is om self ‘n beduidende rol te speel om hul lot te verbeter. Die noorde se bronne is nie onbeperk nie – die VSA het byvoorbeeld reeds sy perk van $14 triljoen op sy begrotingstekort bereik.

Die Vlaminge raak ook al minder geneë om Wallonië met miljarde Euro’s per jaar te bestendig. Die voormalige Wes-Duitsland moes ewe-eens miljarde Euro’s opdok om die ou Oos-Duitsland ekonomies op koers te kry.

Vir die sogenaamde noorde is die deurlopende verlening van hulp aan die sogenaamde suide nie net ‘n ekonomiese las nie, dit is ook onplesierig wanneer die noorde sien hoe die suide spandabelrig en korrup met hul geld omgaan.

Dit is nou tyd dat die suide – en nie net lande soos Indië, Sjina en Brasilië nie, hul welvaartskeppende ekonomieë vlot kry. Geen land is ‘n eiland nie, en Suid-Afrika ook nie. Om beleggersvertroue te wek is ‘n komplekse proses – dit verg dat die regering moet waak teen nar-agtige optredes in die buiteland, waarvan pres. Jacob Zuma se besoek aan Broer Leier die jongste verleentheid was. Die vrye teuels wat Malema kry om sy sê te sê is ontsettend skadelik. Dat Laurrence Mushwane steeds as voorsitter van die Menseregkommissie aanbly na sy onbekwaamheid as Openbare Beskermer in die Petro-SA-sage in die hof gaan draai het, is skandelik. Die Valke se verslag oor waarom sy ondersoek na die Wapenskandaal opgeskort is, dreig om in ‘n yslike skandaal te ontwikkel. Die lys van liederlike blapse is ontsettend lank.

‘n Verbete toeslaan op korrupsie, en ‘n verbintenis tot ‘n ontwikkelingsgerigte ekonomie sal baie bydra daartoe dat die Suid-Noord-persepsie nie sinoniem met ‘n bakhandstanery beskou word nie.

Herman Toerien