Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Mineraleregte

Die regering het pas nog ‘n loesing in die hof op die lyf geloop in ‘n rits hofsake waar die regering die grondwet oortree het.
Die onteiening van mineraleregte is al as die grootste diefstalgeval in die land se geskiedenis beskryf. Die regering het egter voer by stuk gehou dat hy nie die mineraleregte sonder vergoeding onteien het nie.
Die praktyk het egter anders geleer. Mense wat ten duurste klein plasies aangeskaf het omdat daar soutpanne op is wat ontgin word, moes skielik tot hul verbystering agterkom hulle besit nie die soutpanne nie, en dus in wese ook nie die grond nie. Die staat kon die ontginning van die sout as permit of reg aan enigeen verkwansel, en die grondeienaar kon baie moeilik sonder om in komplekse bemagtigingsaksies betrokke raak, sy eie sout ontgin.
Dit het uiteraard ellelange probleme ten opsigte van betreding tot gevolg gehad. Dit was afgesien daarvan dat die wetgewing oor rehabilitasie van soutpanne uit wetgewing ontleen is van lande waar sout as soutrotse in skagmyne ontgin word.
Dié probleme het nie net soutboere geraak nie, maar haas enige denkbare mineraal van selfs gruis tot skaliegas in die Karoo.
Dit het voorts nog ‘n deur vir korrupsie laat ooplê, wat inderdaad op massiewe skaal plaasgevind het.
Nou het die Hooggeregshof beslis die staat het inderdaad die mineraleregte onteien, dat dit strydig met die grondwet is, en dat boere kompensasie kan eis. Blykbaar lê ‘n soortgelyke regsproses nou ten opsigte van grondwater voor.
Alles is nie nou maanskyn en rose nie – die boere het nou net ‘n reg op kompensasie verwerf, terwyl die president van Agri SA, Johannes Möller ook aangedui het dat mynmaatskappy nou, meer as voor die hofsaak, boere sal moet ken om toegang tot die grond te verkry.
Boere het nou ‘n jaar om hul eise om kompensasie in te dien. Ook dit gaan geen maklike taak wees nie, omdat dit uiteraard onmoontlik is om presies te weet watter mineralerykdomme daar dalk onder die grond verskuil lê.
Die regering sal in alle waarskynlikheid appelleer, waarskynlik tot in die grondwethof. Afgesien van die pasella-minerale wat die regering aan hom self toegeken het waarvoor die hand nou in diep die sak gesteek moet word, skep dié uitspraak uitlegte wat as presedent dien vir die regering se grondhervormingsplanne. Heelwat van die planne wat al as opsies genoem is, is met hierdie uitspraak nou duidelik as ongrondwetlik uitgewys. Dit maak van die ANC Jeugliga se bespreking hiervan op sy komende kongres bloot ‘n akademiese oefening.
Wetgewing in die pyplyn om verblyfsekerheid uit te brei om plaaswerkers onder meer wetlik in staat te stel om sonder die boer se instemming ook onbeperk op die boer se grond te kan boer, sal heel duidelik ook nie teen hierdie presedent die pyp kan rook nie, afgesien van die ooglopende praktiese onwerkbaarheid daarvan.
Dit sal ‘n rukkie neem om die impak van die jongste uitspraak en sy volle uitwerking te bepaal en te verstaan – maar vir die huidige is dit genoeg om te besef dat die ANC een van sy mees beduidende neerlae in die hof op die bas geloop het – omdat dit sy eie werklikhede skep en die grondwet minag.