Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Minderheidsregte en die ANC – en die getwiet van modelle

In ‘n artikel in Media 24 se dagbladpers word na die onlangs-gestigte Solidariteitbeweging gekyk. Dit kan gelees word by

http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2012/05/10/VB/9/solidar.html

Die verslaggeefster het onder meer ‘n draai by die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantshe, gemaak en daar na die ANC se standpunt oor minderheidsregte uitgevra. Sy antwoord was ‘n onheilspellende stelling dat dit nie beskerm behoort te word nie – in elk geval nie ten koste van ‘n meerderheid nie.

Minderheidsregte, per definisie, kan nie die regte van meerderhede bedreig nie. Minderheidsregte bestaan juis om die minderhede teen ‘n diktatuur van die meerderheid te beskerm.

Tweedens bind die grondwet Suid-Afrika aan internasionale verdrae wat dit onderteken het, asook aan die internasionale reg. Onder die belangrikstes is die VN se Deklarasie vir die Regte van Persone wat aan nasionale, etniese, godsdienstige en taal-minderhede behoort, en die Deklarasie oor die Regte van Inheemse mense. Hulle is te lese by:

Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities en die Declaration on the Rights of Indigenous Peoples.

Ook in die grondwet is verskeie aanduidings dat minderhede sekere regte het.

Dit is positiewe regte, dws regte wat pertinent aan minderhede toegeken word. Die ANC kan dit slegs ontneem deur die grondwet en sy verbintenis tot internasionale verdrae te skend. Eersgenoemde deklarasie laat geen twyfel nie – dit is regte wat lande moet (Engels: shall) handhaaf.

Die finale kwessie ter tafel is dat Mantashe verkeerdelik minderheidsregte aan ras gelykstel. Sy leefwêreld vier binnekort die mondigwording van ondergang – die laaste apartheidswet is oor ‘n maand of wat 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder. Boonop is die ANC, as die argitekte en oprigters van neo-apartheid waarin ‘n meerderheidsras wetlik en voortdurend bevoordeel word, en minderhede teen gediskrimineer word. Dit kwalifiseer nie eens om onder die gelaaide term, “affirmative action” geklassifiseer te word nie, want dié begrip word wêreldwyd ook aan die beskerming van minderhede gekoppel.

En met die New Hampshire-saak oor die bevordering van brandweermanne is selfs hieroor perke gestel deurdat affirmative action nie tot ‘n verlaging van lewensbelangrike standaarde en vaardighede mag lei nie.

Met positiewe minderheidsregte is die raskwessie byna altyd uitgesluit. Dit kan byvoorbeeld nie as norm gebruik word om ‘n volk mee te definieer nie (vgl ook die HAT se definisie van volk), en die regte rondom ras staan byna altyd as die sogenaamde negatiewe regte bekend, soos ook in ons grondwet. Die grondwet stel onder meer ‘n verbod op die onbillike diskriminasie teenoor iemand op grond van ras, en die verbod op haatspraak sluit ook ‘n kategorie oor ras in. Die debakel oor die koppe van twee modelle, die een wit wat die k-woord ingespan het, die ander swart wat geskryf het sy wens alle blankes is dood, is voorbeelde hiervan. Hier hou dit geen verband met minderheidsregte van enige aard nie.

‘n Voorbeeld waar dit wel met minderheidsregte verband hou is die haatspraak-hofsaak wat Afriforum en TLU-SA teen Julius Malema aanhangig gemaak en gewen het. In hierdie saak het die ANC sy volle gewig agter Malema ingewerp, en ook die saak op appèl geneem.

Dit sal Mantashe ook loon om ‘n oomblik te besin oor hoe die raskwessie aanwesig is in die hofsaak wat teen die staat aanhangig gemaak is om die regering te dwing om die taalwet op die wetboek te plaas, soos wat die grondwet vereis. Selfs die kwessie dat dié hofsaak deur ‘n Afrikaanssprekende aanhangig gemaak is, kan nie na ras herlei word nie omdat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie. Dié feit is alom bekend omdat dit deurlopend gebruik word in argumente teen die verengelsing van Maties.

Mantshe se opmerking kelder terselfdertyd die sin daarvan om dié week met ‘n groot aantal Afrikaanse kultuurleiers te gepraat het. Kultuurregte maak immers ‘n baie belangrike onderdeel van minderheidsregte uit. Deur minderheidsregte so van die tafel te vee, laat by wyse niks op die tafel oor om met kultuurleiers gesprek te voer nie.

Mantashe moet deur die ANC gerepudieer word, en die Solidariteitbeweging moet om verskoning gevra word. As Suid-Afrika nie die internasionale reg en sy verbintenis tot verdrae respekteer nie, kan dit nie kla as Suid-Afrika sy internasionale geloofwaardigheid verbeur nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien