Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Meet en pas

Begrotings, insluitende mediumtermyn-begrotings, is meer as net die berekening van inkomstes en hoe die aanwending van uitgawes hanteer gaan word.

Dit moet ook gebruik word om ekonomiese groei te stimuleer, en die ekonomie op die regte plekke te laat groei om as doeltreffende enjinkamer vir die hele ekonomie te dien.

Die sogenaamde mini-begroting wat gister in die parlement ter tafel gelê is, is om verskeie redes uiters belangrik. Ten eerste was die hoofbegroting begin vanjaar ‘n tipiese verkiesingsbegroting, wat beteken dat realisme eers later ingebou word. Ten tweede het die wêreldekonomie bly noustrop trek, met die Griekse debakel wat soos ‘n blok aan die been saamgesleep word. Boonop het pres Barack Obama heelwat vertroue ingeboet, wat die VSA as dirigent vir ekonomiese herstel effens geneutraliseer het, terwyl die ooglopende plaasvervangers, Angela Merkel van Duitsland en Japan om hul eie redes nie die toon aangegee het wat die wêreldekonomie verlang het nie. Merkel het telkens vir Nicolas Sarkozy, die Franse president gewag om in te val, terwyl Frankryk eintlik self met een voet in die ekonomiese graf en die ander op ‘n piesangskil staan.

Die Griekse tragedie kan naamlik maklik na die ander sogenaamde Piggs-lande oorspoel, en Frankryk het ook reeds van die simptome onder lede.

Japan se ekonomie is na die Maart-aardbewing en tsunami onder druk, en die premierskap het die karakter van ‘n roldeur aangeneem. Gelukkig lyk dit of Japan nou raakgevat het.

Een van die simptome van die ongewone ekonomiese klimaat is dat die goudprys nou al weke lank hoër as die platinumprys is. In die begin van Oktober was goud byna-byna $200 per fyn ons hoër as platinum, en al het dit sedertdien vernou is die prysverskil nog meer as $100 per fyn ons. Toe goud in 1990 op die platinumprys begin inhaal het, het die wêreld op ‘n resessie afgestuur. Nou is daar volgens baie Amerikaanse ekonome sprake van ‘n sogenaamde “double dip”-resessie.

Oral oor die wêreld word weer oor kapitalisme en die vrye mark besin. Gelukkig dink bykans niemand buite Suid-Afrika meer in die rigting van sosialisme en self kommunisme as alternatief vir die vrye mark nie, hoewel magnate, bankbase en hoofde van staatskorporasies nie gou weer sonder ‘n lawaai van die publiek met buitensporige salarisse en bonusse, dikwels duidelik vulgêr, gaan wegkom nie. Die Wall Street-besetting en die uitkring daarvan wêreldwyd dui op ‘n aandrang dat moraliteit moet geld. Die Belgiese ekonomiese herstelplan sluit byvoorbeeld meer as een hoofstuk oor die moraliteitskwessie in. Ook ander lande se ekonomiese herstelplanne skenk hieraan aandag, en soek na meganismes om moraliteit meer bepalend in die ekonomie neerslag te laat vind.

In ‘n wêreld waar die oog op groot rolspelers gehou word, moet lande soos Suid-Afrika die beste voet as beleggingsland voorsit. Ongelukkig word die skade wat Julius Malema aan die land aanrig nie deur ferm politieke leiding getemper nie. Korrupsie in Suid-Afrika ken skynbaar geen brieke nie, en die media krap kort-kort astronomiese spandabelrigheid deur die ministers en selfs die parlement uit. Die sogenaamde people’s parliament onlangs in Bloemfontein om die regering nader aan die mense te bring was nie net absurd duur nie, feitlik niemand van die publiek is weens veiligheidsmaatreëls toegelaat om dit by te woon nie.

‘n Gedempte ekonomie beteken ‘n kleiner fiskale inkomste. Ongelukkig het Suid-Afrika in die aangesig van die komende ekonomiese winter uitlegte begin aangaan wat noodwendig enorme druk sou begin plaas. Die kabinet is ongehoord vergroot. Die president se harem met gepaardgaande ondersteunings-personeel se impak op uitgawes is nie gering nie.

Sekere soorte uitgawes help wel om die ekonomie te stimuleer, maar gans te veel uitgawes soos die aankoop van luukse ingevoerde motors, luukse buitelandse ekskursies en die aankoop van ingevoerde brandstof om die vloot aan die loop te hou beteken dat kapitaal wat moes werk en werk skep, die land uitvloei. Volgens die minister kan munisipaliteite hul uitgawes met 15 % sny deur onnodige luukshede uit te skakel. Dit is R27 miljard per jaar. Voeg die impak van kaderontplooiing en affirmative action op doeltreffendheid en innovasie, en die ekonomie moet harde houe kry.

Om in balans tussen inkomste en die vereiste uitgawes vir ekonomiese groei te bly gaan meer lenings aangegaan word. Dit word in gewone Afrikaans met staatskuld vertaal, en dit is basies wat die VSA sy Trippel-A-gradering gekos het, en die Grieke in die sop laat beland het. Die sleutel is dat die lenings binne perke moet wees, en gebruik moet word om die ekonomie te laat groei sodat die ekonomie dividende kan lewer om die lenings te diens. Dit laat nie ruimte vir vermorsing en korrupsie nie.

Die voorbeelde moet nóú gestel word. Daar kan in ‘n land wat die hoogste meetbare inkomstegaping ter wêreld het, nie verwag word dat die meer wordende werkloses en armes tevrede gaan bly terwyl die eietydse Mandaryne in die sogenaamde onproduktiewe sektor hul vulgêre grypsug met net nog groter inhaligheid probeer bevredig nie. Die minister het aangedui staatsamptenare moet oor die volgende drie jaar verhogings van 5 % verwag. Brieke op staatsamptenare se salarisse is ‘n erkende manier om inflasie te rem, maar indien dit nie ewehandig toegepas word nie, word ‘n reeds skeefgetrekte situasie verder skeefgetrek. Met staatsamptenare moet die minister byvoorbeeld amptenare op alle vlakke insluit, asook amptenare by munisipaliteite en semi-staatsinstellings. Indien Salga byvoorbeeld munisipaliteite tot ‘n tien persent verhoging sou afpers, maar die belastingbetalende publiek se inkomste groei stadiger of gaan selfs die kreeftegang, gee iets eenvoudig mee as munisipale tariewe ruim opwaarts aangepas word om grypsug te finansier.

Gordel intrek-boodskappe behoort immers meer op die eietydse Mandaryne betrekking te hê as op die armes. Iemand wat niks het nie, se gordel-intrekkery beteken immers niks nie, behalwe miskien die koste van nog ‘n armlastige begrafnis en nog wesies wat die verantwoordelikheid van die staat word..

En Malema en kie moet kennis neem dat die grypgedagtes op die produktiewe sektor in meer as een opsig neerkom op die slag van die gans wat die goue eiers lê. ‘n Sterk, groeiende privaat sektor waar entrepreneurskap beloon word laat die ekonomie groei, dit skep werksgeleenthede en uiteindelik vul dit die staatskoffers.

Nasionaliseringspraatjies en dreigemente oor vat wat aan ander behoort skaad die kragte wat in die ekonomie werksaam is. Dit laat werksgeleenthede in die slag bly, knou vertroue, demp beleggersentoesiasme en uiteindelik vermeerder armoede. Bejaardes se neseiers raak ontoereikend en op hul oudag moet die oues na al meer en meer beskeie woonplekke begin verhuis on die pot aan die kook, en eietydse Mandaryne se sakke gevul te hou.

Die minister se krimpende speelruimte sou selfs Houdini benoud maak – en moontlik is die Vryheidsfront Plus reg in sy oordeel dat die minister nou desperaat raak – maar dan – die minister gaan dit nog meer hotagter kry as hy aanhou om belangrike geleenthede soos hierdie te verpas deur nie beleggers se vrese vir nasionalisering te besweer nie. Sy mededeling dat Suid-Afrika nie ‘n ryk land is nie, behoort darem as ‘n skoot koue water in Malema en kie se gesigte te dien, maar dié boodskap sal eers geglo word as die ministers duidelik tekens van gordel intrek begin toon, en die bestuur van staatskorporasies nie langer swak prestasies met duiselingwekkende bonusse beloon nie.

En dit sal ook help om die regte boodskap uit te stuur deur met entoesiasme en sonder aansiens des persoons korrupsie uit te roei. Korrupsie beroof die land van sy toekoms. Na raming kos elke item in Suid-Afrika weens korrupsie gemiddeld 20 % duurder as wat dit moes. Sonder daardie 20 % sou minister Pravin Gordhan se taak aansienlik makliker gewees het.

Dan sal Jan Publiek ook meer geneë wees om die sente te rek … as hulle net iewers ‘n sent in die hande kan kry om te rek.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien