Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Mediavryheid en die internet

Dat die internet ‘n al groter rol speel om inligting in ‘n ommesientjie dwars oor die wêreld te bring, is reeds bekend. Diktators vind dit al hoe moeiliker om die vloei van inligting wat vir hulle skadelik is onder die duim te hou. Dit het ‘n belangrike rol gespeel in die domino-rewolusie wat die einde van outokratiese Arabiese leiers in lande soos Libië, Egipte en Tunisië beteken het.

Soos met persvryheid, waaronder die vryheid van die gedrukte media verstaan word, kom die vryheid van inligtingsvloei op die internet ook teen ‘n prys.

Verslaggewers Sonder Grense het pas berig oor die koplose lyk van ‘n koerantredakteur wat in Mexiko gevind is. In dele van Mexiko het die dwelmbase so ‘n stewige greep dat die blote neerpen van die woorde “dwelms” of “smokkel” iemand sy lewe kan kos. Maria Macias was die vierde vrouejoernalis wat vanjaar in Mexiko vermoor is. Die afgelope dekade is 80 joernaliste in dié land vermoor.

Wat Macias se moord effens anders maak, is dat sy waarskynlik nie vermoor is oor wat sy in haar koerant geskryf het nie, maar wat sy onder ‘n skuilnaam in haar besige tydjie op sosiale netwerke geskryf het. Haar moordenaars het dit duidelik gemaak toe hulle haar nadoods op haar sosiale netwerk aan die woord gestel het waarin die nabootsing ‘n kille waarskuwing aan ander rig.

Verslaggewers Sonder Grense het nog nie ‘n kategorie vir vermoorde internet-joernaliste nie, maar die verhaal van hoeveel “netizens”, soos dié joernaliste genoem word, wat hulle vanjaar wêreldwyd reeds agter tralies bevind het, is tog kommerwekkend. Altesaam 121 is al aangekeer, teenoor 157 joernaliste wat al in die tjoekie beland het. Altesaam 41 joernaliste is vanjaar reeds dood, hoewel dié syfer waarskynlik nog nie opgedateer is nie.

Die internet is nie net ‘n doring in die vlees van diktatoriale regerings nie, dit verseker ook dat koerante wat om die een of ander rede selektief met inligting omgaan of skroom om politiek-inkorrek te wees, mooi moet dink. Dit is ‘n paar jaar gelede ook deur Tim du Plessis, nou die hoofredakteur van Nasionale Perse se Afrikaanse koerante bemerk, toe hy geskryf het hierdie soort inligtingsvloei sal koerante wat selektief met die feite omgaan se geloofwaardigheid gou aan die kaak stel.

Die internet hou ook sekere swakhede in, wat die breër prentjie skade kan berokken.

Omdat die internet ‘n groot potensiaal bied dat bykans enigeen bykans enigiets naamloos op die internet kan plaas, veral op blogs en kommentaarkolomme, het dit gou ‘n reputasie van robuus gekry. Spoedig was ‘n groot deel daarvan onfatsoenlik en selfs vulgêr. Die oorvloed vitrioel wat langs hierdie weg versprei word, het vermoedelik aansienlike rolle gespeel in massa-skietvoorvalle in die VSA en Noorweë.

Dit het ook ‘n tuiste geword vir sogenaamde ontkenners, maak nie saak hoe min hulle is nie. Daar is nou webwerwe vir mense en groepe wat bykans enigiets ontken, soos dat vigs deur die vigsvirus veroorsaak word, dat outisme toeneem, dat die klimaat aan die verander is en vele meer.

Dit is egter die vitrioel wat hieruit voortvloei wat wêreldwyd ‘n weersin by die fatsoenlikes wek, en waar die aandrang al groter word dat die owerhede plan maak daarmee. Voeg hierby die verspreiding van pornografie en veral kinderpornografie wat dwars in die krop begin steek, en die frustrasievlakke van die Nederlandse koerant, Trouw, se opsteltema vroeër vanjaar, “Stop die vryheid,” is verstaanbaar. In die opstelle wat ingeskryf is, is bitterlik gekla oor die aanslag op mense se waardigheid, waarteen die slagoffers bykans geen verweer het nie.

Uiteraard gebruik outokratiese state hierdie soort weersin as verskoning om beperkings oor ‘n wye front te probeer bewerkstellig. Kenners was verstom toe die Egiptiese regering tydens die rewolusie daarin kon slaag om die internet in daardie land grootliks afgeskakel te kry. In China is duisende webwerwe geblok en volgens Verslaggewers Sonder Grense is tienduisende sogenaamde kuberpolisielede aangestel om die kuberruim te patrolleer om dissidentestemme op te vang. Sowat ‘n honderd kuberjoernaliste is in dié land agter tralies.

Soos alle vryhede moet ook verantwoordelik met die kubervryheid omgegaan word sodat dit nie later ‘n geval word van die baba wat saam met die badwater uitgesmyt word nie. Baie deelnemers speel duidelik buite die grense van fatsoenlikheid en skend die regte van ander.

Herman Toerien