Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Media gee klein partye vlerke

Net voor die wêreldmarkte ineen gestort het, het die sogenaamde “jaar van higiëne” in Europa gefokus op die moraliteit van die politici en die media, wat in die skynbare beweging na konserwatiewer waardes al hoe meer bevraagteken is.
Die knou wat die wêreldekonomie weg het, het die aandag gou weggevoer van hierdie luukse. Maar nie voor belangrike Europese politici van die media as die vierde, nie-amptelike been van die demokrasie verwys het nie. Ironies, was die “vader” van hierdie gedagte, Yves Leterne, kort hierna self die slagoffer toe die media ‘n misstap aan die groot klok gehang het.
Met ontrafeling van die fiskale krisis het die media ‘n ontsaglike belangrike rol gespeel om van die oorsake – soos die matelose inhaligheid van vele aan die bokant van die korporatiewe leer – aan die kaak te stel.
Veral toe ‘n groot Amerikaanse firma wat staatshulp gekry het om uit die verknorsing te kom, dadelik ‘n groot hap hiervan gebruik om rojale bonusse aan die topbestuur toe te ken, het die media dit goed aan die kaak gestel, sodat die stap omgekeer moes word.
In Ysland het die ysterhand-bankiers nog argaïese wetgewing gebruik om hul konkelwerk te verdoesel, toe die media daaroor rol, en Ysland nuwe wetgewing instel wat dit aan die voorpunt van mediavryheid geplaas het.
In Suid-Afrika was daar veral twee bastions wat weens hul Zuma-bande onaantasbaar geblyk te wees het – Shabir Shaik en Paul Ngobeni. Laasgenoemde was een van die strategiese ontwerpers van pres,. Zuma se verweer in die hofsaak wat met Shaik verband hou. Hy is ‘n voortvlugtige uit die VSA waar ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname in Massachusetts steeds geld.
In Suid-Afrika is hy onder meer as die minister van Verdediging, Lindiwe Sisulu, se regsadviseur aangestel. Alle deure om vas te stel hoe hy in die eerste plek aangestel kon wees, en verder, hoe hy daarin kon slaag om ‘n veiligheidsklaring te kry, is skynbaar toegeklap.
Die media het egter aanhou vrae vra oor Shaik se opspraakwekkende parool, en oor Ngobeni se doen en late. Hierdeur is opposisiepartye wat ook gekrap het, vlerke gegee.
Skielik is Shaik in arres en word sy sake skynbaar nou in alle erns ondersoek. Ngbeni is met volle salaris geskors hangende ‘n moontlike afdanking. Formeel word Ngobeni se kop geëis oor ‘n aanval op minister Trevor Manuel.
Sinies, maar meer waarskynlik, hou dit verband met ‘n verslag oor Ngobeni se sake wat binne twee weke van die Openbare Beskermer verwag word.
Die huidige Openbare Beskermer het gou gewys dat sy geen regeringsmarionet is nie, en die bevinding teen onder meer nog een van Zuma se getrouste kornuite, die nasionale polisiekommissaris Bheki Cele, onderstreep dit. Haar bevinding het sleg op Zuma se beeld gereflekteer. Shaik het die politieke reddingsboei wat hy gekry het duidelik, en tot verleentheid van Zuma misbruik. En die beskikbare feite oor Ngobeni laat ‘n gunstige verslag deur die Openbare Beskermer na wensdenkery klink.
Die media se rol om ‘n persepsie te versterk dat Zuma een ding oor korrupsie sê, maar ‘n ander toepas veral as dit by lojaliste kom, is skynbaar besig om sy tol te eis. – Herman Toerien