Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Media en mediaterapie: Politieke korrektheid as belediging vir joernaliste wat lewe en vryheid verloor het

Nuuskommentaar: Media en mediaterapie: Politieke korrektheid as belediging vir joernaliste wat lewe en vryheid verloor het

Ten spyte van die uitbundigheid waarmee miljoene mense jaarliks die nuwe jaar vier, is daar tog onderliggend die wete dat miljoene mense honger is, onderdruk word en pessimisties oor die toekoms is.

Die Russiese president, Wladimir Poetin wat pas op omstrede wyse tot Russiese president herkies is, wil mediaterapie toepas om Russe vertroue in die toekoms in te prent. Hy dui aan dat hy die voorbeeld kry by ‘n voormalige Amerikaanse president, Franklyn D. Roosevelt wat Amerikaners tydens die groot depressie van die 30’s oor die radio moed ingepraat het.

Poetin het benewens die radio nog twee hulpmiddels – die TV en die Internet, en dis juis dit wat die Russiese president vir sy terapeutiese toesprake wil inspan.

Politici is dikwels, en met goeie rede, oortuig daarvan dat hulle meester- kommunikators is. ‘n Groot deel van hul sukses is hul vermoë om gehore met ‘n kombinasie van voordag en die opsweep van emosie mee te voer. Baie van hierdie magnetisme gaan in die kliniese weergawe van die gedrukte media verlore, en daarom word koerante en tydskrifte nie as so geskik beskou waar die leier in beeld en klank te siene en te hore is nie.

Die koerante spreek ‘n ander tipe gehoor aan – dikwels die meer kritiese meningsvormer.

Of Poetin gaan slaag na hy in die onlangse verkiesing op groot skaal ‘n “njet” by die Russiese kiesers op die lyf geloop het, en waarskynlik nog swakker sou vaar as geen verkiesingsbedrog plaasgevind het nie, is ‘n ander vraag.

Deurdat Rusland 140ste uit 178 lande op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks is, is die media effektief wat toegang betref, Poetin se privaat besit. Soos dikwels is daar ‘n regstreekse korrelasie tussen ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks en sy posisie op die Korrupsie-persepsie-indeks, en in die geval van Rusland is dit veral opvallend waar Rusland die 143ste mees korrupte land ter wêreld is.

Soms sal die media vrywillig saamspeel om ‘n gees van optimisme te skep, en in die reël is dit goed. Die mate waarin die ekonomie daarin kan slaag om te presteer, hang tot ‘n groot mate af van die ingesteldheid van die mense. Dit neem egter nie die noodsaak weg dat die faktore wat die werklikheid ondermyn, verwyder moet word nie. Na verlede jaar se euforie wat met die aanbied van die wêreldbeker-sokkertoernooi geskep is, het die werklikhede hard toegeslaan en die land in ‘n gees van post-euforiese depressie, of selfs post-euforiese trauma gedompel.

Of Poetin daarin gaan slaag om deur mediaterapie ‘n meer positiewe gesindheid oor die toekoms by die Russe te skep, en sy eie beeld te bou wat waarskynlik die werklike onderliggende rede is, is nie so seker nie. Die regerings van die Arabiese lande wat voor die domino-rewolusie getuimel het, het almal omvangryke mediabeperkings toegepas en selfs die internet probeer beheer. Sirië probeer steeds ‘n alternatiewe werklikheid as dit wat die wêreld daarbuite waarneem aan sy burgers te verkwansel.

Die prys vir persvryheid, of meer korrek, mediavryheid, is hoog.

Volgens die mees onlangse syfers van Verslaggewers Sonder Grense, het daar vanjaar reeds 66 joernaliste en twee van hul medewerkers in die uitvoering van hul werk omgekom. Verlede jaar se ongevalle was 57. Op die oomblik bevind 171 joernaliste hulle agter tralies, en ook 130 internet-joernaliste is ook in aanhouding. Deur die loop van die jaar is meer as ‘n duisend joernaliste gearresteer, byna 2 000 is fisies aangeval of gedreig, bykans 500 media is gesensor, 71 joernaliste is ontvoer, 73 joernaliste het uit hul lande gevlug, 199 bloggers en internet-joernaliste is gearresteer, en 68 lande pas internetsensuur toe.

Persvryheid word as so ‘n belangrike deel van demokrasie beskou, dat dit dikwels as die vierde, maar nie-amptelike been van demokrasie bekend staan. Nie alleen is dit onontbeerlik om korrupsie teen die werk nie, dit hou die publiek ingelig sodat hulle ingeligte besluite kan neem wanneer hulle hul kruisies trek.

‘n Aspek wat minder aandag kry, is die moontlikheid van selfopgelegde sensuur. Die Suid-Afrikaanse pers, wat in privaat besit is, kom van twee kante onder druk, naamlik die regering wat dit van ‘n gebrek aan diversiteit beskuldig, en die konserwatiewer gemeenskap wat weer beweer die gedrukte media dryf ‘n liberale agenda. Die regering het dus besluit dat dit nodig is om belastinggeld in te span om ‘n eie koerant mee uit te gee, en die mantel hiervoor val klaarblyklik op die omstrede Jimmy Manyi.

Hoewel die woord, mediaterapie, nie gebruik word nie, is die argumente tog dat die media neig om op die blapse van die regering te fokus, en nie die prestasies genoegsaam uitlig nie. Die mate waaroor die regering die SAUK as veronderstelde openbare uitsaaier inspan, is ‘n omstrede kwessie, maar dit is genoegsaam om te meld dat dit soms voel of ‘n mens in twee lande woon as ‘n mens ‘n nuusbulletin op een van die SAUK se TV-senders gekyk het, en net daarna na ‘n nuusuitsending van e-TV.

Beskuldigings van die gedrukte media wat die linkse agenda sou dryf, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die vorige leier van die Kanadese Christian Heritage Party het lank ‘n Amerikaanse verslag dat die gemiddelde joernalis in die VSA liberaler as die gemiddelde Amerikaanse burger is, lank as ammunisie teen die media probeer gebruik.

Vanjaar is vinger tog twee keer ook uit effense onverwagse oord na die media gewys – Rhoda Kadalie wat politieke korrektheid in die media die diktatuur van die liberalis genoem het, en ‘n groep skrywers, waaronder Breyten Breytenbach, wat na aanleiding van die insident by Maties toe prof. Anton van Niekerk uit sy bril uit getimmer is, ‘n openbare debat bepleit het. Hulle het pertinent gepleit dat sekere menings nie in die proses in die doofpot geplaas word nie omdat dit tot frustrasie sal lei.

Hoe verder 1994 in die verskiet raak en die destydse ideale van depolarisasie in die slag bly, hoe meer word dit by kommentators mode om hulself as politiek inkorrek te beskryf. Boeke wat ‘n politieke inkorrekte weergawe van die onlangse geskiedenis weergee, waaronder die grensoorlog, sien nie net die lig nie, maar ontlok lewendige debat.

Wanneer iets mode word, is dit egter ook so dat die pioniers wat met ruggraat die pad gebaan het om die ongemaklike waarheid na die oppervlak te dwing, moet plek maak vir opportuniste wat soos cowboys daardie pionierswerk vervlak.

Die oorspronklike, “The uncomfortable truth,” word nou so wyd gebruik dat dit bykans elke aspek van die lewe bestryk, van klimaatsverandering tot kleindorpse politiekery.

Selfopgelegde sensuur is ‘n belediging vir die joernaliste wat hul lewe of vryheid verloor het om die waarheid na die oppervlak te bring – of dit nou is om die politieke spektrum bekend te stel, of dit is om diktators tot ‘n val te help bring, of dit is om korrupsie aan die kaak te stel of dwelmkartelle se doen en late aan die wêreld bekend te stel.

Suid-Afrikaners gaan in die nuwe jaar ‘n voortgesette stryd hê om mediavryheid en ander vryhede te verdedig.

‘n Sloping van die grondwet tot die vlak waar Suid-Afrika se demokrasie en vryheid vervlak is tot ‘n stemdemokrasie van oningeligtes is ‘n te duur prys om te betaal.

Opgestel vir MaroeleMedia

Herman Toerien