Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Magstrydmania

Hierdie week hou die belofte in van ‘n magstryd wat in talle opsigte deurslaggewend vir die land kan wees.

Die Afrikaner, wat nie amptelik deel van die ANC se magstryd tussen ‘n spartelende president en te groot – vir – sy – skoene-jeugleier is nie, gaan waarskynlik meer as enigeen anders geraak word. Dit sal uiteraard ‘n invloed het op die belangrikheid en relevansie van die verkiesing van die Volkstaatverkiesingskommissie.

In tipiese eenpartymentaliteit behandel die ANC die hele aangeleentheid nie net in letter nie, maar in gees soos ‘n suiwer interne aangeleentheid. Landsbelang tel op die oog af nie. In ‘n volwasse demokrasie regeer ‘n regering immers nie in sektorale verband nie, maar in algemene belang, anders is dit ‘n diktatuur van die meerderheid.

In ‘n vorige dissiplinêre verhoor teen Julius Malema het die ANC immers reeds getoon hoe die wind waai. Malema is van verskeie ernstige oortredings aangekla, maar in wese skuldig bevind daaraan dat hy pres. Zuma beledig het deur hom met oud-president Mbeki te vergelyk.

Nou was daar weer volop rede om Malema te verhoor – al lankal. Hy het immers ‘n lied gesing wat vra dat boere doodgemaak moet word. Hy het minderhede help vervreem wat die ANC steun gekos het. Maar in plaas van om Malema vir haatspraak voor stok te kry, gooi die ANC sy volle gewig agter hom by die haatspraak-regsproses in.

Intussen het Malema weer ‘n paar keer in sy toesprake Mbeki op die skouer geklop, en was dit duidelik dat die jongeling ‘n magstryd afdwing met die man wat hom nie lank gelede nie nog as toekomstige president beskryf het.

Die verhoorweek word ingegaan met die vooruitsigte van massa-betogings om die jeugliga se steun aan Malema en die ander wat voor stok gekry word te toon. Selfs uit die Kabinet, in die vorm van minister Lindiwe Sisulu, het onbegrensde steun vir Malema gekom. Dat dit juis Sisulu is wat Malema steun, is insiggewend en kan ‘n vroeë aanduiding wees dat sy – as waarskynlik die vernaamste kandidaat vir die voortsetting van die Sisulu-politieke adel, presidensiële aspirasies het. Sy voel waarskynlik ook dat sy, as Sisulu en een van die minder suksesvolle ministers uit ‘n kabinet met volop ploeteraars, onaantasbaar is sou haar presidensiële lopie nou in die stof byt.

Vir die weifelende Zuma het die oomblik van waarheid aangebreek. Dit is duidelik dat sou hy nie nou daarin slaag om Malema as politieke rolspeler uit spel te haal nie, gaan hy met ‘n grootliks onregeerbare ANC te make hê, en gaan sy regeervermoë van die land van chaos na chaos steier. Sy kanse vir ‘n tweede termyn en blywende insulasie teen sy dag in die hof word dan ook skraler.

Bitter baie is op die spel. Beide partye dreig om vuil wasgoed in die openbaar te was wat die ander in die tronk kan laat beland. Juis hierom is daar die moontlikheid dat die saak weer in die doofpot geplaas kan word, maar dit beteken ook dat heelwat juridiese akrobasie aan die dag gelê sal moet word om nog kriminele ondersoeke wat reeds aan die gang is, in die stof te laat byt.

Op die oomblik lyk dit meer of die punt aangebreek het waar twee motorfietsryers met ‘n kragtige ysterperde op mekaar afjaag, en die sg “chicken run” speel. Soms egter, trek nie een klein koppie nie en die gevolg is nie mooi om te aanskou nie.

Ongelukkig is baie vir die land ook op die spel. As Malema die botoon voer sal die land waarskynlik die fase beleef waar die Freedom Charter belangriker as die grondwet geag word, en sal die grondwet na verwagting selfs meer as nou uitgedaag word. ‘n Proses sal aan die gang gesit word om veral ekonomiese wiele wat reeds elders misluk het te herontwerp.

Diegene wat die meeste geraak gaan word kyk van die kantlyn af en betrag dit asof die wenner deur die skiet van ‘n muntstuk bepaal gaan word: Kop of stert, almal verloor.

Herman Toerien