Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Lindiwe en die tweepartypersepsie

Die stryd om die DA se parlementêre leierskap het om verskeie redes meer aandag geniet as wat ‘n soortgelyke verkiesing in die meeste amptelike opposisiepartye elders ter wêreld sou ontlok. Hiervoor bestaan verskeie redes, waaronder dat die parlementêre leierskap gewoonlik deur die partyleier self gehou word. In die DA is die leierskap versprei na die Wes-Kaapse premierskap, en die burgemeesterskap van Kaapstad, wat in die konteks van wat die DA self beheer, belangrik is. Dit bied aan die DA die geleentheid om ‘n persepsie van doeltreffende regering te vorm as teenstelling vir die spartelende provinsies en munisipaliteite onder ANC-beheer.

Die stryd om parlementêre leierskap is by ‘n groot deel van die publiek grootliks as ‘n wit – swart stryd ervaar, waar die prentjie van verkiesingsplakkate voltrek sou word waarop die gesigte van die partyleier, Helen Zille, die leier van die ID, Patricia de Lille en Lindiwe Mazibuku gepryk het. Die boodskap was duidelik – die DA het homself as veelrassige party bemark.

In die leierskapstryd het Zille en De Lille dit baie duidelik gemaak dat sy Lindiwe steun. Trouens, dit is al lank duidelik dat Zille nie oorloop van entoesiasme oor Athol Trollip in dié amp nie. Dat ideologie hierin ‘n groot rol speel, is ook duidelik soos blyk dat Zille voorheen haar gewig by Ryan Coetzee ingewerp het. Dat Trollip Coetzee verslaan het is grootliks ideologies vertolk.

Coetzee en Lindiwe word nie net as ideologiese klone van Zille beskou nie, maar ook as mense wat nie die rug teen haar sal styfmaak nie. Trollip, daarenteen, het ‘n wil van sy eie, en dit het al duidelik gemanifesteer, onder meer deurdat hy nie vrywillig vir Zille se leierskeuses terugstaan nie.

Toe Trollip parlementêre leier geword het, is meer behoudende kiesers landswyd daarop gewys dat hy ‘n uitgesproke Christen is. Dit het in daardie stadium ook al geblyk soos toe hy, as Oos-Kaapse leier, op dieselfde dag as wat Dianne Kohler-Barnard ‘n verklaring uitgereik het om steun aan nuwe aborsiewetgewing toe te sê, ook ‘n amptelike DA-verklaring daarteen uitgereik het.

Terwyl DA-leiers nou oor ‘n wye steun formeel positief is oor Lindiwe se verkiesing, is daar ‘n wanklankie in die persoon van die vorige Noord-Kaapse leier van die party, dr. Chris Liebenberg. Hy meen daar kan nou ‘n breuk tussen, wat hy noem, die liberale en sosiaal-demokrate in die party ontstaan.

By die gewone kiesers sal die persepsie wees dat dit ‘n meer behoudende faksie is wat slae gekry het. Die teenwoordigheid van hierdie faksie, die nalatenskap van die kortstondige huwelik met die NNP, is dikwels as problematies vir die DA beskou. Dié behoudendheid is in ‘n stadium so sterk deur dr. Tertius Delport bemark dat dr. Dan Roodt, die gesig van Praag, selfs kortstondig DA-lid geword het.

Na verwagting sal Zille nou haar hande vryer hê om die DA as die erfdeel van Helen Suzman te bemark soos sy reeds doen. As oud-lid van die UDF- geaffilieerde Black Sash het sy voor die munisipale verkiesing die DA tot die Freedom Charter verbind, en die DA as die ware erfgename van oud-pres. Nelson Mandela se ideale beskryf.

In ‘n de facto-tweepartybedeling waar die regerende party ‘n broad church is, en die amptelike opposisie ook tekens gedra het van alles vir almal probeer wees, is dit belangrik dat iets ideologies begin kristalliseer. Dit is wel so dat in ‘n land waar korrupsie volgens aanduidings endemies geword het, baie kiesers ideologie as luukse sal beskou en eerstens sal fokus op ‘n party wat die beeld dra van sterk teen korrupsie wees, en ‘n voorbeeld van skoon administrasie stel. Dus ‘n soort opvatting by baie kiesers van eers die ANC stuit, en dan die luukse van ’n ware oop, ideologiese veelpartydemokrasie opneem.

Op die duur handel demokrasie egter as keuses tussen ideologieë en beleid, en is ‘n tweepartybedeling in ‘n land waar koukusgebondenheid, anders as in die VSA, die norm is nie bevorderlik vir ‘n oop demokrasie nie.

Die openlike steun wat Zille en De Lille aan die jong en on ervare Lindiwe toegesê het, sal beteken dat sy hard sal moet werk om enige persepsie van fopswarte, soos Praag na haar verkiesing verwys, af te skud. Die druk is ook op haar om aan die verwagtinge te voldoen. Die verwagtinge is groot – sy was byvoorbeeld al ‘n geruime tyd die DA se landbou- en grondsake-woordvoerder eerder as Laurie Bosman, wat voorheen president van Agri SA was.

Of gaan haar bekwaamheid bloot gemeet word aan die mate waarin sy a naprater van Zille gaan bly?

Of gaan sy gemeet word aan die hand van die hoeveelheid swart kiesers wat sy vir die DA gaan trek, soos dikwels openlik gestel word?

Of gaan haar verkiesing weer lewe blaas in die kleiner politieke partye wat al hoe meer noustrop trek namate die DA sy beeld versterk het as enigste lewensvatbare opposisie vir die ANC?

Die kommissie van ondersoek na die wapenskandaal se mandaat sal na verwagting voorkom dat die ANC self as die kampvegter teen korrupsie dié rol oorneem. Die fynskrif is dat pres. Jacob Zuma – of wie dan ook al president gaan wees, nie uitvoering aan die bevindings van die kommissie hoef te gee nie. Dit plaas ‘n voorbehoud op al die positiewe elemente van die kommissie, soos die integriteit en ondersoekmandaat, as alles oor die finale hekkie kan struikel en die kwessie oor twee jaar, wanneer die ondersoek afgehandel is, in die doofpot geplaas kan word – so onwaarskynlik soos wat dit ook al mag wees.

Tot die verslag, dié keer ongeredigeer, aan die publiek bekend gemaak word, sal die demokrasie in Suid-Afrika gekristalliseer bly as ‘n persepsie van die ANC en korrupsie wat ten alle koste verslaan moet word, en vervang moet word deur iets wat nie korrupsie duld nie en doeltreffend kan regeer. Die DA het dié rol vernuftig opgeneem.

Danksy die opkoms van die sosiale media sal die DA se ideologiese karakter egter al hoe meer onder die vergrootglas geplaas word, en as die etniese diversiteit tot ‘n inkrimping van ideologiese diversiteit lei, gaan ander opposisiepartye dit uitbuit, al is die korrupsie-albatros nog nie verdryf nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien