Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Landelike veiligheidstrategie

Een van die groot geheime van ‘n strategie is dat alle rolspelers daarby ingebind word.

Onlangs het die polisiehoof – terwyl die Openbare Beskermer vurige kole oor sy hoof omgekeer het – ‘n landelike veiligheidstrategie in Bethlehem gaan bekend stel. Min of meer dieselfde tyd is ‘n boer van die distrik in ‘n plaasaanval gewond, en is ‘n plaas daar naby beset met die polisie wat nie ‘n vinger verroer nie. Regstegniese redes….

Wanneer ‘n strategie suksesvol deurgevoer moet word, moet alle moontlike regstegniese probleme so ver as moontlik en so ver as wat dit in die konteks van natuurlike geregtigheid haalbaar is, uit die weg geruim te word. Aan watter kriteria van natuurlike geregtigheid voldoen wetgewing wat toelaat dat ‘n plaas beset word, die slotte afgebreek en in die geboue ingebreek en die inhoud geplunder word?

‘n Verdere probleem is die boodskap wat dit uitstuur. Dit, tesame met ongeopponeerde uitsprake oor grondgryp sonder vergoeding, en selfs die uitvoer van dié konsep na ‘n onwillige Botswana, stuur die boodskap uit dat die grondeienaars die vyand is – ‘n soort vrybuit.

En gaan sing dan nog liedjies dat boere doodgemaak mag word, en dit word tot in die hoogste regeringskringe gesteun, dan kan ‘n landelike veiligheidstrategie byna op die maag geskryf word.

Selfs lewenslange vonnisse wat die moordenaars van die Potgietergesin van Lindley – ook naby Bethlehem – opgelê is, se afskrikwaarde bly grootliks in die slag as die vonnisse nie deur darem minstens die ministers van Landbou en van Polisie geloof word nie.

En nou was daar een van die grusaamste plaasmoorde nog in die distrik van Reitz, ook naby Bethlehem.

Weer swyg hulle in alle amptelike tale wat ‘n bydrae kon lewer om die boodskap duidelik tuis te bring dis verkeerd en onaanvaarbaar.

Dit sou byvoorbeeld ondenkbaar wees dat die minister van Polisie sou swyg oor die vlaag moorde op polisielede, dikwels om wapens te bekom.

En tog, wys TLU-SA uit, word in verhouding tot getalle meer boere vermoor as polisielede.

Volgens Interpol is die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere sowat 300 per 100 000 per jaar. Die wêreld se gemiddelde moordkoers is sowat 5 per 100 000 per jaar. Tradisioneel word die werk van Chinese steenkoolmynwerkers as die gevaarlikste beroep ter wêreld beskou, en hul ongevallesyfer is sowat 130 per 100 000 per jaar, dus minder as die helfte van die moordkoers onder ons boere. En moorde is nie al beroepsrisiko waaraan boere blootgestel word nie.

Geagte ministers, periodieke verklarings gaan nie die boodskap tuis bring nie. Daar moet elke keer ‘n boodskap uitgaan, wyd uitgaan.

Geagte ministers, besluit of die landelike veiligheidsplan jul erns is. Indien wel, bring die boodskap by die doelwit. Of anders, moenie verbaas wees om te hoor dié of daardie groep het nog ‘n klag van volksmoord by ‘n internasionale liggaam gaan lê nie.

Dis nie net die boere wat gaan baat by ‘n vasvat van aanhitsende retoriek nie. Plaaswerkers se werksekuriteit en wat daarmee gepaard gaan veel meer inhoud hê. Met meer beleggersvertroue kan die ontsettende werkloosheidsprobleem ook beter aangespreek word.

Aanvaar daar is nie so ‘n ding soos ‘n losbekkige Malema én ekonomiese groei nie.

Herman Toerien