Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Laat Malema se kop rol

Hoe gouer die ANC Julius Malema uit politieke sirkulasie haal, en sy bekkighede uit die kollektiewe geheue van die land laat verdamp, hoe gouer het die ANC iets werklik in landsbelang gedoen.
Verlede jaar het prof. Jakes Gerwel, ‘n bekende ANC- apologeet, nog in sy rubriek in Rapport opgemerk die ANC mag dalk ‘n vrotsige regering wees, maar skerp beswaar gehad dat dié organisasie so dikwels as landsvyand uitgebeeld word. Sy argument was dat ‘n party wat soveel steun by die kiesers het, nie ‘n landsvyand kan wees nie.
Die werklike toets is egter of ‘n regerende party in algemene belang, eerder as sektorale belang, regeer. Oor in wie se belang die ANC regeer, kan na die steun wat die organisasie aan Jimmy Manyi toegesê het, haas geen twyfel wees nie.
In die proses het daar wel ‘n intellektuele vraag in die ANC ontstaan – is die ANC nie-rassig, of nie. Of meer akademies uitgedruk, nie-rassig of veelrassig? Laasgenoemde is ‘n gelaaide term, omdat dit in die internasionale konteks nie beteken daar kan maar willekeurig teen die “ander rasse” gediskrimineer word en soos tweederangse of selfs derderangse burgers behandel nie.
Malema se onderrok het al by talle geleenthede erg uitgehang. Op die oomblik is daar ‘n morele vraag nadat die ANC tot die hofstryd toegetree het om Malema te ondersteun in die saak waar die sing van die liedjie, Maak dood die boere, as haatspraak getoets word. Regskenners het bykans eenstemmigheid dat dit op volksmoord neerkom, omdat die VN se definisie van volksmoord ook die aanhitsing daartoe insluit.
Die jongste uitspraak van Malema laat sy onderrok by wyse van spreke heeltemal afval. By ‘n volgepakte fondsinsamelingsgeleentheid vir die ANC-jeugliga het hy swart mense aangeraai om meer kinders te hê, omdat dit deel van die voortgesette revolusie is. Dit verdwerg in wese ander uitlatings wat hy by die geleentheid gemaak het wat, erg eufemisties, as uiters onverantwoordelik beskou sal word.
Wat Malema sê is nie op sy eie so skadelik nie, as die ANC en veral pres. Jacob Zuma se slaphand-reaksie daarop.
Die uitlating oor baie kinders was waarskynlik juis ‘n witvoetjie – of moet ‘n mens eerder sê – ‘n swartvoetjie-soekery by Zuma nadat hy in ‘n stadium krities oor dié saak gestaan het?
Na die Manyi-debakel uitgebreek het, het Manyi ook uit ‘n ander oord steun gekry – van mense wat meen per definisie kan ‘n swart persoon nie rassisties wees nie. Op die een of ander manier word tot die slotsom gekom slegs blankes kan rassisties wees. Die houding is egter waarskynlik die ergste vorm van rassisme omdat dit die deur vir ongebreidelde rassediskriminasie ooplaat – solank die plegers net nie wit is nie.
Die ANC het nou, danksy Malema, die geleentheid om te toon of dit ‘n landsvyand is, en of Gerwel reg is dat die ANC dit nie is nie. Dit help dadels as die OVK sê Suid-Afrikaners moet die land liefhê en gaan stem, solank dit beteken sommige mense moet die land meer lief hê as ander, teen wie blatant gediskrimineer word en as vrybuit vir rassistiese aanvalle hanteer word. Juis hulle moet na die stembusse opruk en alles in die stryd werp om diskriminasie te straf.