Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Krisis in die Straat van Hormoez en die impak van die afstof van geopolitiek op Suid-Afrika

Indien Iran se dreigemente realiseer om die Straat van Hormoez effektief genoeg te sluit sodat ‘n derde van die wêreld se olievoorrade geraak word, sal Suid-Afrika se strategiese belangrikheid weer onder die loep kom.

Die gebeure en soortgelykes lei daartoe dat daar nie te veel stof op die werke van die vaders van geopolitiek vergaar nie, hoewel met ander oë na die belang daarvan gekyk word.

Geopolitiek, ook bekend as geostrategie, het sedert die tweede helfte van die 19de eeu as vertakking van politieke geografie ontstaan. Die bekendste denkers op die gebied was kapt. AT Mahan wat na die belangrikheid van seeroetes gekyk het, Halford Mackinder wat na die belangrikheid van landbesetting en veral in die sogenaamde Eurasiese hartlandgebied gekyk het, en De Seversy wat lug-oorheersing deur die bril van sy Noordpoolprojeksie bekyk het.

Die belangrikheid waarmee na die uitgangspunte gekyk word het verander namate nuwe tegnologie ontwikkel het. Kernwapens en interkontinentale missiele het De Seversky se idees lewend gehou, hoewel die beginsels van eerste slaan en tweede slaan, die belangrikheid van duikbote met kernwapens gesorg het dat Mahan se gedagtes weer nuwe stukrag gekry het.

Hoewel geopolitiek as ‘n min of meer verouderde benadering beskou word, het dit nooit heeltemal verdwyn nie – bloot in ander variasies bly voortleef. Die bekende Monroe-leer met die gedagte van die sogenaamde “hemisfeer defence” het lank ‘n impak gehad. Die ontstaan van Navo as geografiese verdedigingsmag se impak strek veel wyer as die Noord-Atlantiese gebied, met die Middellandse See wat uiters belangrik is soos blyk uit die belangrikheid dat Turkye lidland van Navo moet wees.

Dit is ook goed gedemonstreer tydens ‘n beraad oor internasionale terreur en wêreldsekuriteit wat in die middel sewentigs gehou is.

By dié geleentheid het Ciro Zoppo die belang van die Middellandse See beklemtoon, en het Piere Hasner na Europa se belang gekyk. Brian Jenkins het onder meer opgemerk dat internasionale terreur ‘n nuwe element van internasionale verhoudinge geword het.

Trouens, die opkoms van kernafskrikking en internasionale terreur het nuwe lewe in die geopolitiek geblaas. Die konsep het min of meer soos volg gewerk: Weens die katastrofale uitwerking wat kernwapens op die kernmoondhede self sou kon hê, is terreur as oorlog deur afstandbeheer ingespan om strategiese voordele te verkry. Spesifieke dele van die wêreld kon om verskillende redes, of ‘n kombinasie van meer as een rede, meer belangrik as ander wees. Mahan se seemag-gedagtes is gebruik om gebiede se belang in terme van strategiese seeroetes te bepaal, terwyl ander meer ekonomies na belangrike fokuspunte gekyk het, soos die aanwesigheid van aardolie en strategiese minerale. Dit is meer korrek om gekombineerd hierna te kyk – die belang van die Straat van Homoez sou immers nietig gewees het as dit nie was vir die ru-olie wat hierlangs verskeep is nie.

Suid-Afrika se potensiële beheer oor die Kaapse seeroete het opnuut aandag getrek na die kwesbaarheid van die Seuz-kanaal in die Israel-Arabiese konflik geblyk het.

Moderne geostratege het gou opgelet dat daar by bykans elke strategiese geografiese punt op die aardkors terreur bedryf is, en dat die meeste van dié groepe ‘n Marxistiese grondslag gehad het. Gou-gou is die afleiding gemaak dat dit die Sowjet-Unie was wat dit as oorlog deur langafstandbeheer aanstig om strategiese voordele bo die VSA dwars oor die wêreld te verkry, maar op ‘n intensiteitsvlak wat nie ‘n Amerikaanse konvensionele en veral nie ‘n kernreaksie sou ontlok nie.

‘n Vinnige oorsig dui daarop dat daar óf meriete in die siening was, óf dat toeval ‘n reuse rol gespeel het.

Suid-Afrika en Suider-Afrika het byvoorbeeld netjies in die prentjie gepas. Benewens die seeroete, is die gebied wat strek tot in die teenswoordige DRK se Katanga-provinsie ‘n broodmandjie van strategiese minerale wat wissel van aardolie wat in Angola ontdek is, tot kobalt, chroom, vanadium, platinum en ander. In Suid-Afrika was die ANC en die PAC veral bedrywig, en het die Poqo-voorvalle die oë van die wêreld onder meer vasgevang. In bykans elke land was insurgensie – ook insurgente met ‘n Marxistiese grondslag, soos die MPLA in Angola, Mugabe met sy ZANU in die destydse Rhodesië en Frelimo in Mosambiek.

Die Horing van Afrika is ook belangrik weens die seeroetes wat dit beheer, soos nou blyk uit die meer as net lastigheidswaarde van die Somaliese seerowers. Die Sowjet-Unie het gou ‘n stewige vastrapplek in Somalië onder die beheer van Siad Barre gekry, terwyl omliggende gebiede soos Noordoos Kenia en die Ogaden onder irridentistiese insurgensie begin deurloop het. Ethiopië onder die leiding van die pro-westerse keiser Haile Selassie het in ‘n stadium met ses etniese afskeidingsoorloë tegelyk te make gehad. Toe sy bewind omvergewerp is, en hy deur die Marxis Haile Mengistu vervang is, het die Sowjet-Unie nie ‘n oomblik geaarsel nie, Barre die rug toegekeer en met Kubaanse hulp die Somalies uit die Ogaden verdring.

Min of meer dieselfde het in ander strategiese gebiede gebeur, soos die MIR en Monteneiro’s in onderskeidelik Chili en Argentinië, die ‘n rits organisasies rondom die Panama-gebied, met Suid-Afrika se ambassadeur wat in El Salvador ontvoer en vermoor is as herinnering.

Rondom die Suezkanaal was ‘n groot groep Palestynse terreurbewegings aktief, die meeste onder die sambreelliggaam van die PLO.

Die Straat van Gibraltar was nog ‘n interessante studie, met Brittanje wat in beheer is van Gibraltar, maar Spanje wat weer Ceuta en Melilla aan die Marokkaanse kus besit. In Spanje was veral die Baskiese terreurgroep, ETA bedrywig, terwyl die Weste Marokko se besetting van Wes-Sahara min of meer openlik gesteun het en so die Marxistiese Polisario in obskuriteit probeer dwing het.

Na die Koue Oorlog het die geopolitiek weer stof begin vergaar, maar die opkoms van Moslem-radikalisme soos gemanifesteer in die Ajatollah-revolusie in Iran, die Taliban in Afganistan en Al-Kaida verhinder dat die stoflaag te dik word.

Die Arabiese Lente het gou die strategiese Suezkanaal gebied bereik, maar toestande in ander Arabiese lande soos Jemen en Bahrein hou ook implikasies vir ander belangrike seeroetes in.

Al het Iran in Augustus verlede jaar ‘n belangrike strategiese bondgenoot in die steek gelaat te hy sy geldelike hulp aan Hamas opgeskort het omdat Hamas nie vir Sirië se Assad in die bresse getree het nie, kan Iran op kort kennis weer strategiese kapitaal koop en Hamas as bedreiging vir Suez heraktiveer. Hierdie kanaal word baie maklik geblokkeer deur skepe daarin te sink. So kan die wêreld se pogings om die Straat van Hormoez oop te hou, binne ‘n ommesientjie grootliks geneutraliseer word.

Die Kaap as seeroete bly belangrik, maar die belangrikheid daarvan word grootliks bepaal deur faktore elders. En dié faktore dra daartoe by dat Suid-Afrika ‘n duideliker buitelandse beleid moet ontwikkel, waarin Suid-Afrika se belange nie te dwars van die belange van die wêreld kan staan nie.

As dit in belang van die wêreld se groot moondhede word om Suid-Afrika met die oog op regeringsverandering te destabiliseer, is bykans alles wat nodig is om dié destabilasie te veroorsaak aanwesig, van heterogeniteit tot polarisasie tot ideologiese onverdraagsaamheid op die pole. Selfs liberale grondwette is nie hierteen bestand nie. Benewens Satre en Fanon, het ‘n groep Franse intellektuele ‘n begronding aan anargie self verskaf, terwyl die sogenaamde Angry Brigade in Brittanje tande gewys het. Die Ierse Republikeinse Leër en selfs meer radikale groepe het terreur gesaai terwyl beide Brittanje en Ierland liberale demokrasieë is.

Vir Suid-Afrika moet die hantering van dié konflikpotensiaal egter nie afhang van die belang wat iemand doer ver daarin het nie – om die land in vrede en harmonie optimale ontwikkelingsgeleenthede te bied, moet ‘n selfopgelegde taak wees. Solank gemeenskappe vervreem word, en Malema en kie steeds revolusionêre praatjies maak, so lank word die land gepolariseer en sal die versoeking altyd daar bly dat iemand iets daaraan doen om strategiese voordeel te put.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

2 Responses to Nuuskommentaar: Krisis in die Straat van Hormoez en die impak van die afstof van geopolitiek op Suid-Afrika

  1. Herman

    Januarie 13, 2012 at 7:00 am

    Dankie vir die raad. Ou laai van my – hoe korter ek ‘n artikel moet maak, hoe instinktief meer probeer ek in sinne prop. Herman

  2. PietPress

    Januarie 13, 2012 at 6:39 am

    Ouboet – jou sinne is te lank. G’n mens kan jou argument volg as mens so lomp in Afrikaans skryf nie.