Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Koverte militêre operasies in Libië

Terwyl die stryd om beheer van Libië bloedig voortduur, en aanvanklik aanvaar is dat die Weste militêr gesproke min of meer met die hande gevou sal sit, het twee insidente die saak in ‘n ietwat ander perspektief gestel.
Die eerste was toe magte lojaal aan Ghaddafi drie Nederlandse soldate aangekeer het wat met die ontruiming van burgerlikes uit Sirte behulpsaam was. ‘n Groot kleed van geheimhouding is nog oor hierdie saak getrek.
Intussen het die Britte ook eier in die gesig gekry, toe lede van sy bekende SAS saam met ander mense deur die rebelle aangekeer, en later weer vrygelaat is. Die Britte se amptelike weergawe is dat die span saam met MI -6 lede ingestuur is om diplomate te vergesel om kontak met die opstandelinge se leiers te bewerkstellig. Hulle is weens ‘n misverstand aangekeer.
Die SAS se roemryke geskiedenis het toevallig ook in Noord-Afrika begin, toe dié eenheid gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir spesiale operasies in dié wêrelddeel in die lewe geroep is. Sedertdien tree die SAS wêreldwyd kovert op, en min is oor hul doen en late bekend. Dat hulle gereeld in teen-terreuroperasies betrokke is, is gewis. Hulle is immers opgelei om met terroriste te handel op ‘n manier waarvoor niemand anders opgelei word nie – wat dit ook al mag beteken.

Intussen het die Christian Science Monitor berig dat pres. Barack Obama ‘n lys moontlike opsies by die Pentagon aangevra oor wat hy kan doen om Ghaddafi uit Libië verwyder te kry. Die koerant bespiegel dat dit nie naastenby iets soos Operation Desert Storm of selfs pres. Ronald Reagan se bombardement van Tripoli in 1982 insluit nie.
Twee teen-terreuroorloë waar die VSA liederlik in die woestynsand vasgeval het, en ‘n gevolglike gekneusde internasionale beeld sal stellig veel bydra daartoe dat die VSA twee keer sal dink voor die land weer cowboy speel – al is daar aansienlik regse Kongresdruk op Obama om gou militêr met Ghaddafi klaar te speel.

Maar tog waai daar ‘n effense ander politieke wind as toe die Bush-kombinasie die septer oor die VSA geswaai het. Ghaddafi het in sy irrasionele reaksie op die opstand onder meer teen Al Kaïda te velde getrek, en dit gestel dat dié terreurorganisasie agter die opstand sit. Sodoende het Ghaddafi in effek ‘n belangrike struikelblok uit die weg geruim.
Voorts is die wêreldmening bykans histeries oor Ghaddafi se bloedige optrede teen opstandelinge.
Voorts het ‘n verswakte Egiptiese weermag tydens ‘n konfrontasie met Libië die destydse veelgeroemde Libiese weermag in ‘n japtrap afgestof. Dit lyk of ‘n paar goedgemikte bomme die skaal beslissend in die guns van die opstandelinge geswaai sal kry.

Die Libiese opstand is ook nie iets wat in isolasie gebeur nie – dit woed oor ‘n groot deel van die Arabiese wêreld, en die Weste doen besonder baie moeite om invloed te behou waar die ou regerings reeds geval het, onder meer deur groot finansiële bystand om grondwetlike demokrasieë te vestig. In Bahrein het die tot onlangs bykans ondenkbare gebeur – duisende Sjiïtiese opstandelinge wat betoog dat die VSA meer moet doen om vir hulle groter vryhede te help verwerf.
As sake reg uiteenval, en ‘n bietjie ferm militêre optrede in Libië kan eerder gesindhede in olieryke lande verbeter as versuur, sal die versoeking groot wees om die gety teen Ghaddafi beslissend te draai. En hoe langer gesloer word, hoe langer gaan die wêreld duur betaal – in die vorm van peper duur ru-olie.
Herman Toerien