Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Koste van SA-korrupsie in Rand en sent

Korrupsie in Suid-Afrika kos die land jaarliks die bedrag van R657 biljoen – min of meer die ekwivalent van wat die Inkomstediens jaarliks soos bloed uit ‘n klip getap kry.

Dié bedrag is deur Sentigol bereken na aanleiding van beraamde syfers vir Afrika. Korrupsie beloop na raming 25 van Afrika se BNP, wat die pryse van goedere vir die verbruiker met sowat 20 % opjaag.

Onder die implikasies is dat werkers op hoër salarisse sal aandring, en dit is interessant dat daar juis nou weer in die middel van die stakingseisoen van die periodieke geluide uit die ANC kom dat korrupsie aangespreek moet word.

Onder die voorstelle is dat etiek-gerigte vakke weer in skoolleerplanne ingesluit moet word. Die mense moet van jongs af die verskil tussen reg en verkeerd geleer word.

Die Wêreldbank beskryf korrupsie as die berowing van ‘n land van sy toekoms. Verskeie kommentators meen korrupsie in die land het endemies geword. Almal betaal die prys – van ‘n pad wat voortydig weens swak vakmanskap en afskeepmateriaal gou-gou lyk of ‘n meteorietreën dit getref het, tot munisipaliteite met hoogbetaalde soustreinryers aan die kop wat nie basiese dienste kan lewer en ‘n skoon verslag by die ouditeur-generaal kan verwerf nie.

Om kinders etiek te leer terwyl die hoëlui dikwels nie eens hul dag in die hof kry nie, stel nie ‘n watwonderse voorbeeld vir die jonges nie. Handelsmisdaad styg volgens die amptelike polisiestatistiek die afgelope aantal jare skerp.

Etiek is iets wat die kind aan die moedersknie moet leer, maar die ideale situasie bestaan nie oral nie. Dan moet teruggeval word op skole waar sommige leerkragte wat gereeld laat kom en as rolmodelle dikwels baie te wense oorlaat.

In die na-oorlogse Duitsland is godsdiensonderrig ‘n verpligte vak. Die owerhede hoop om hierdeur ‘n gesindheid te kweek wat die ontstaan van ‘n filosofie soos dié van die Nazi’s sal voorkom. Hoewel die aanbied van godsdiens as vak verpligtend is, is die neem daarvan teen die agtergrond van die land se godsdiensvryheid nie verpligtend nie. Die afgelope jaar of twee kan leerlinge kies tussen onderrig in die Cristendom of Islam, hoewel die keuring van onderwysers om die Islam aan te bied om verstaanbare redes ook aan streng vereistes moet voldoen.

Suid-Afrika het nou gaan eksperimenteer met die uiterste vorme van liberale waardes, en ‘n etiekvakuum in ‘n gemeenskap gelaat wat dit kennelik nie kon verwerk nie.

Dit sal maar gesien moet word of die aanbied van etiek-kurisusse sonder ‘n godsdiensnaelstring praktiese neerslag in die vorm van veldherwinning teen korrupsie gaan vind. Dis ‘n langtermynprojek.

Wat nou nodig is, is ‘n uitgesproke, praktiese aanslag teen korrupsie. As ‘n hof, soos dikwels gebeur, ‘n tender wat deur ‘n tenderraad goedgekeur is tersyde stel, moet die lede van tenderraad minstens afgedank word, en verkieslik ook vervolg word. Korrupsie is immers reeds in ‘n hof bewys.

‘n Senior munisipale amptenaar wat vir korrupsie uitgevang word, moenie gewoon weer elders ontplooi word nie.

Ministers en senior ampsdraers kan gerus ‘n blaadjie neem uit voorbeelde elders waar dié mense dadelik bedank as hulle deur openbare aanspreeklikheid geïmpliseer word.

Ondersoeke na korrupsie, soos dié na die spook van ‘n wapentransaksie moenie in die doofpot geplaas word nie, maar alle sweempies van agterdog moet bevredigend uit die weg geruim word.

Wanneer mense besef daar is werklik ‘n omgewing van zero-tolleransie teen misdaad, sal al ver gevorder wees. As ‘n regerende party dit nie kan doen nie, moet hy so gou as die eerste verkiesing uitgestem word.

Anders betaal almal die prys.

Kerke kan gerus ook meer gereeld hul profetiese stem teen hierdie kanker in die gemeenskap uitoefen, en nie skuil agter die argument dat dit op godsdienstige imperialisme neerkom nie.

Geen super-belasting, of dit nou teen wittes of teen die rykes gehef word, sal dit kan regmaak nie.

Gelukkig het ‘n aantal bekende firmas in die privaat sektor soos Sanlam en Barloworld besluit om nie op die regering te wag nie, en die projek, Tendersure TM van stapel gestuur.

Herman Toerien