Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Koerde in die Siriese opstand

Dit is nie om dowe neute nie dat bitter min gehoor word van die betrokkenheid van Koerde by die Siriese opstande. Dit beteken egter nie dat dit nie ‘n baie belangrike faktor is nie, en heel moontlik bepalend kan wees nie.

Sowat 20 miljoene Koerde woon in Koerdestan, ‘n vaag-omlynde gebied wat oor die grense van Turkye, Sirië, Irak en Iran strek. Tog is dit volgens VN die grootste volk wat homself nie iewers staatkundig kan uitdruk nie.

Die Koerde, anders as hul Arabiese bure, is Indo-Germane en verskil daarom ook etnies en taalkundig van die Turke. In al vier lande waarin die Koerde hulle hul bevind, is hulle al wreed onderdruk, en het onder Saddam – en dalk ook in Iran – onder biologiese en chemiese uitwissingsaanvalle deurgeloop.

Die Koerde maak sowat 10 % van die Siriese bevolking uit, en volgens sommige skattings kan tot 3,5 miljoen mense in Sirië van Koerdiese afkoms wees. Honderde duisende het egter beperkte burgerskap (die ajanib) of geen burgerregte nie (die maktoum).

Die laaste groot Koerdiese opstand in Sirië was in 2004 in die stad Qamishli, en minstens 30 mense het omgekom en honderde is beseer. Die Arabiere het hande gevou gekyk hoe die Koerde onderdruk word, en dit speel ‘n bepaalde rol in hoe die Koerde veral aanvanklik op die opstande gereageer het.

Die antwoord is so eenvoudig – sake tussen die Koerde en Arabiere stryk selde: Die opstande het juis tydens ‘n sokkerwedstryd uitgebreek toe Arabiese toeskouers die Koerde met foto’s en slagspreuke van Saddam getreiter het. Dit terwyl die Siriërs – ook Siriese Arabiere – nie ooghare vir Saddam gehad het nie.

Kort tevore is Sirië se betrekkinge met Turkye versuur toe Sirië asiel aan Koerdiese vlugtelinge uit Turkye verleen het.

Tog bly Koerdiese deelname aan die Siriese opstand vir die opstandelinge belangrik – die Koerde word as die bes-georganiseerde groep beskou, en het moontlik die vermoë om die magsbalans te laat kantel. Pres. Bashir al-Assad besef dit, en het ook inderhaas ‘n groot aantal Koerde se burgerregte herstel.

Net as ‘n terloopse tussenval: Sirië is wel oorwegende Arabies, maar ook besonder heterogeen, met twee bekende Christen-gemeenskappe – die Armeniërs en Assiriërs, van wie beide se volksgenote onder volksmoorde aan die hand van die Turke deurgeloop het. Veral die Armeniërs het groot bevolkings in diaspora, en in die VSA bestaan ‘n kragtige Armeense lobby. Armeniërs in diaspora speel egter ook beduidende rolle op die politiek in lande soos Nederland en Frankryk. Die Koerdiese lobby in Europa kan ook nie onderskat word nie.

Verder speel Al-Assad se bewind in Sirië ‘n belangrike geostrategiese rol vir Iran, aangesien die Assad-regime Alawiete is, ‘n sekte verwant aan die oorheersende Sjiïete in Iran. Die Siriese Arabiere is egter meestal Soenies.

Om die situasie in Sirië aan te spreek is dus nie net een van internasionale moraliteit nie, maar die verrekening van soveel magselemente, dat ‘n simplistiese oplossing hom nie sommer voordoen nie.

As is verbrande hout, maar dit kan met groot stelligheid aanvaar word dat die situasie minstens niks ergers sou gewees het as die moondhede nie met die geografiese verdeling van die Midde-Ooste in ‘n laat-stadium volstruispolitiek begin speel het nie, en toegesien is dat die beloofde Koerdistan as volwaardige staat tot stand sou kom. Agterna staatkundige lapwerk bevredig selde, en soos met die Balkan, kan bitter baie bloed vloei.

Herman Toerien