Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Klein jakkalsies wat die vrede verteer

Bakstene van brûe wat lewens eis

Hulle is dikwels self skaars ‘n baksteen hoog, maar is in staat om bakstene van ‘n oorbrug af op niksvermoedende motoriste onder te gooi.

Pas is ‘n voertuigbestuurder by Durban dood terwyl hy op die N2 gereis het. Na berig word het ‘n ander motoris kort tevore deurgeloop, en die polisie gebel om te waarsku oor die baksteengooiery, maar hy is aangeraai om na ‘n polisiekantoor te gaan om ‘n klag te gaan lê.

Dit is ongelukkig insidente wat nie vreemd aan Suid-Afrika is nie. Soms is dit misplaaste kwajongstreke, soms doodgewone kwaadwilligheid, en geoordeel aan die politieke klimaat en onrus wat soms in dieselfde omgewing heers, soms politiek geïnspireer.

Maar of die voorvalle polities gemotiveer is of nie, as die polisie traag of glad nie reageer nie, word dit gou ‘n emosionele politieke speelbal.

En dit is nie al nie. In ‘n heterogene, grootliks gepolariseerde gemeenskap sal verskeie soorte misdaad ongelukkig juis daardie polarisasie aanblaas. Die impak van plaasaanvalle en die wreedheid waarmee dit dikwels gepaard gaan, is in Suid-Afrika reeds goed bekend, en word algaande ook internasionaal bekend namate TV-stasies en ander oorsese media die nuuspotensiaal begryp. Boonop word daar ook gereeld buitelandse burgers aangeval en selfs tydens sulke aanvalle vermoor, en dit lei dikwels tot omvattende artikels oor die omvang van plaasaanvalle hier.

Polarisasie is ‘n ernstige saak, en moet oor ‘n wye front aangespreek word. Daar moet byvoorbeeld deeglik kennis geneem word van sosio-kulturele, sosio-ekonomiese, historiese en ander faktore, gerugsteun deur ‘n toepaslike grondwet n staatkundige model.

Parallelle met Sirië

Wanneer ‘n situasie eers ontspoor, is dit moeilik om die wiele weer behoorlik gespoor en aan die loop te kry. Sirië is maar een voorbeeld.

Pas het die Internasionale Rooikruis, as bewaker van die Geneefse Konvensie, die situasie in Sirië as burgeroorlog beskryf. Dit is gevolg deur woeste gevegte in Damaskus self.

Onlangs het ‘n Nederlandse joernalis besoek aan Damaskus gebring en ‘n dakpartytjie van ‘n groep elite bygewoon. Met rookwolke van ontploffings op die agtergrond, verkies dié mense, soos die presidentsvrou, om die erns af te maak. Hulle leef nog van manikuur tot manikuur tot planne vir studie oorsee, alles teen die agtergrond van die geloof dat Bashar al Assad steeds aan bewind sal wees. Dat hul uitkyk bydra daartoe dat die saak van misdade teen die mensdom teen van hul eie gesinslede aan die opbou is, kom waarskynlik nie by hulle op nie.

Assad is heel moontlik nie ‘n monster van dieselfde omvang as sy pa, wyle Hafiz al Assad nie, en hy het in die samestelling van sy diktatuur ook deeglik rekening gehou met sy land se heterogeniteit. Sy parlement, so gebrekkig soos die magte daarvan ook al mag wees, het gewaarborgde setels vir minderhede soos die Christene, Armeniërs en ander bevat. Die motief hiervoor was waarskynlik deels om te verseker dat sy eie groep, die Alawiete, ‘n minderheidsgroep in die Sjiïtiese minderheid, ook verteenwoordiging sou hê. Terwyl hy die veiligheidmagte se topposte met Alawiete gelaai het, is die Soenies deur senior aanstellings in die res van die staatsdiens bevoordeel.

Christene is dus minder entoesiasties oor die opstand, veral oor die deelname van Moslem-fundamentaliste daaraan en die lot van Christene elders waar die sekulêre karakter van sommige Arabiese lande in die slag gebly het.

Dit neem egter niks daarvan weg dat Assad en van sy ondersteuners hulle aan wandade skuldig maak nie, en met die foutlyne wat na buurlande toe strek, bly dit ‘n streekprobleem wat weens die strategiese aard van hierdie omgewing, ‘n wêreldprobleem is. Saam met die opbouende spanning in die Straat van Hormoez en Al-Kaïda-gesinde groepe in Yemen se sabotasie van oliepyplyne is die olieprys besig om opwaarts te kruip, om maar een voorbeeld te noem.

Assad se bewind trek al meer noustrop. Pas het Rusland, een van Assad se bondgenote, beweer die Weste pers hom af om ‘n nuwe VN-resolusie te steun wat ingevolge hoofstuk 7 van die VN-handves militêre ingryping moontlik sal maak. Daar was egter al ‘n ruk lank aanduidings dat Rusland sy mantel na die wind begin draai het. Turkye gaan hom ook nie twee keer laat nooi om Assad se bewind aan te val nie, na die verhoudinge tussen dié twee state erg versuur het.

Deel van die werklikheid en hanteer dit

Of die elite en die gewone burger die werklikheid probeer ontvlug deur dakpartytjies te hou, of in “veilige” motors op breë nasionale paaie onderdeur oorbrûe te ry, die werklikheid gaan nie weg nie. Gewoonlik is dit die klein jakkalsies wat die werklikheid oor die barrikades van duiwelsvurkheinings en deur die tralies van diefwering bring. Suid-Afrika het reeds as gevolg van hierdie soort misdaad tot die 127ste plek uit 158 state op die internasionale vredesindeks agteruitgeboer. Dit is maar 20 plekke beter as Sirië se 147de plek op die 2012-indeks. Die geweld van dienstebetogings help ook nie die land se posisie op indekse aan nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Spotprent: Touw