Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kerke en die verkiesing

Kerkleiers van die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik waarin dit aan kiesers gestel word dat stemreg nie net ‘n reg is nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid.
Voorts het die kerkleiers die mening uitgespreek dat as ‘n land met oorwegend Christene hul stemme uitbring, die resultaat ‘n Christelike weerspieëling behoort te wees. Dit is ‘n manifestasie van die kerk se profetiese stem in aksie.
Die kerke gaan verstaanbaar nie so ver as om sekere partye by die naam aan te beveel, en ander as opsies af te raai nie. Hieroor sal verskillende Christene verskillende menings hê.
Christen-demokrate en aanhangers van Christelike volkseie sal byvoorbeeld daarop wys dat, al maak selferkende Christene meer as 70 persent van die kiesers uit, die land se politiek oorweldigend oorheers word deur partye wat in die humanisme gesetel is, en dat daar aansienlike verskuiwings op die politieke landskap moet kom voor sake waarteen die kerke uitgesproke is, soos aborsies op aanvraag, die wettiging van pornografie en dobbel, en ‘n rits ander kwessies, ernstig vir herroeping oorweeg sal word. Die Christen is immers nie net in sy kerk ‘n Christen nie, maar ook in sy werkplek, sy gesin, sy huwelik, sy hele lewe en dus die politiek ook.
Die gewone argument, dat politiek en godsdiens geskei moet word, oortuig nie diegene in die Christen-politieke spektrum nie. Die Here word immers nie aan- en afgeskakel nie.
Dit is egter ook baie duidelik dat die meerderheid kiesers glad nie hul morele oortuigings, en selfs die demokrasie in die oog het wanneer hulle hul op die politieke terrein begeef nie. Die nominasiestryde, veral in die ANC, verloop sterk volgens die kenmerke van ‘n eenpartybedeling – met ander woorde, die verloorder nou, is reeds uit, en die wenner van die nominasiestryd, bewimpel of nie, is dikwels effektief reeds verkies. Verkiesings in Suid-Afrika word ook dikwels ‘n rasse-sensus genoem. Onder hierdie omstandighede sal sake tot ‘n de facto-tweepartystelsel neig waar ook die vernaamste teenstander die kenmerke van die sg “broad church” sal aanneem om so wyd as moontlik te hark, en met die vernaamste doel om die de facto eenpartybedeling eers te knak, voor normale demokrasie kan geld waar kiesers volgens hul beginsels kan stem.
Daar is egter baie redes hoekom Suid-Afrika nie die Amerikaanse de facto-tweepartymodel kan navolg nie. ‘n Belangrike verskil is die koukusgebondenheid wat hier geld, wat ook op daardie vlak verhinder dat eie, ook Christelike oortuigings die deurslag kan gee.
Maar selfs al word die koukusstelsel verslap, en kan belangegroepe soos die Amerikaanse Christian Coalition ook hier as lobbies werk, is daar steeds ‘n slagveld. So ‘n lobbystelsel leen hom uitstekend tot ‘n korruptokrasie, en die Amerikaners moet selfs nou nog deurlopend gate toestop hierteen. Min mense sal daarvan verskil dat Suid-Afrika, wat gereedheid hiervoor betref, nog ‘n lang pad het om te bewandel.
In die finale instansie: As die demokrasie nie beteken mense kan vir hul eie beginsels stem nie, is dit wat die kerkleiers nou as riglyne stel en gevolg voorsien, slegs ‘n droom. As die kerke dan nie standpunt oor spesifieke aspekte wil stel nie, is dit die verantwoordelikheid van die Christen-kieser om vas te stel wat sy kerk se standpunt oor sake is – en dan ‘n gewetenskeuse te maak. Die meeste kerke het in elk geval nou met soveel interne twis te make, dat verdere verdeling oor politiek so nodig is soos skerpioene op brood. Ook as ‘n mens ‘n bietjie insig het in die pastorale belading waarmee die meeste leraars te kampe het, moet daar begrip wees dat aksente eers geplaas word waar die nood die grootste is.