Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kennis is mag, en die verantwoordelike aanwending die produk van opvoeding

Die hoofrede waarom ‘n volwaardige vrye markekonomie nie volgens sy optimum-potensiaal kan funksioneer nie, is omdat so ‘n prestasievlak vereis dat die deelnemers volmaakte kennis moet hê. Ten spyte van die mees gevorderde tegnologie en kennis letterlik aan die vingerpunte, word so ‘n kennisvlak nie bereik nie, en is allerlei sosiale ingenieurswese nodig om die stelsel te laat werk.

Daar is ‘n prys vir behoorlike vryheid – ook op die politiek-staatkundige front. Wanneer ‘n kieser sy kruisie gaan trek, moet hy oor ‘n magdom inligting beskik, soos ook wat die beleid is van die partye waaruit hy kan kies is, en wat die uitvoeringspotensiaal van die leiers van daardie partye is. Ten spyte van intensiewe en duur verkiesingsveldtogte stem ‘n groot deel van die kiesers nie volgens hul kennis nie, maar uit sentimente soos gedeelde velkleur en ook protesstemme.

Pas het die Duitse kanselier, Angela Merkel, se Christen-Demokratiese Unie in die deelstaat Mecklenburg-Vorpommern, in die ou Oos-Duitsland, gevoelig agteruit geboer. Nie alleen het die Sosiaal-Demokrate vooruit geboer nie, maar het die Groenes (8,4 %) die eerste keer die drempel oorgesteek om nou ook in hierdie deelstaat se parlement verteenwoordiging te kry. Die uitslag is vir ‘n nog groter slag omdat dit haar tuisstaat is, en dit beteken dat haar party nou in byna al ses van die sewe deelstaatverkiesings wat vanjaar plaasvind agteruit geboer het.

Die CDU se kreeftegang word aan ongelukkigheid met dié party se ekonomiese beleid beskou.

Die werklike harde feite is dat Duitsland se ekonomie, wat swaar getrek het onder die heropbou van die voormalige Oos-Duitsland, op die oomblik waarskynlik die belangrikste ekonomiese rolspeler in die wêreld is. Duitsland, die grootste ekonomie in Europa, het sy werkloosheidskoers – ‘n prys van die heropbouprogram, moeitevol afgewerk sodat dit nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd laer a dié van die VSA is. Ekonomiese aanduiders soos rentekoerse op staatsuitgifte, is hoofsaaklik goed, veral vergeleke met sommige Europese lande.

Met die VSA wat ‘n vertrouensknou weg het, en Japan wat ekonomies steier onder die nagevolge van Maart se aardbewing en tsunami, met gevolglike snelle afwisseling van premiers in bitter interne stryde, het Merkel die ondankbare rol gekry om vertroue nie net in Europa se ekonomie nie, maar dié van die wêreld te bestendig. Dit verg dikwels meer as net mondelinge akrobasie, maar ook aktiewe deelname deur die Duitsers – wat ekonomiese gevolge inhou. Sonder behoorlike verrekening van die groter prentjie, wreek die Duitsers hulle by die stembus.

Europa en die wêreld se ekonomiese kopsorge strek veel verder as Griekeland van premier Pappa Ekonomikrisis, soos die Europeërs ligweg spot.

‘n Ontleding van pres. Barack Obama se verkiesingsuitslae met sy bewindsoorname dui ook daarop dat hy die pyp deur populisme gerook het. Die gebiede waar Obama sy steun getrek het, bestaan volgens prof. Joseph Olson hoofsaaklik uit lae inkomstegroepe waarvan baie van staatstoelaes afhanklik is.

Suid-Afrika is nou ‘n ruk lank gekaap deur die populisme van ‘n ANC-jeugliga wat nie ‘n snars vir die werklikhede omgee nie. ‘n Grypmentaliteit het deur opswepende praatjies ontstaan, en ‘n regering wat nie bereid is om soos Merkel, die gevolge te dra van oningeligte kortsigtigheid nie, het ‘n krisis laat ontwikkel. Slegs ‘n goed-ingeligte kieserspubliek kan ‘n demokrasie laat werk. Met die opening van die noordelike akademiese jaar het die president van die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen, Robbert Dijkgraaf, ‘n pleidooi gelewer dat gespesialiseerde kennis nie in “hokkies” geplaas moet word nie, maar dat die kennis ook dwarsleggend die kennisvelde verbind. Dit is nodig om nie net vir die wêreld van vandag te beplan nie, maar ook vir die wêreld oor twintig tot dertig jaar.

Terwyl massas inligting beskikbaar is, beteken dit min dat die algemene kennis van individue beroerd is, en die toepassingvermoë van dit waaroor wel beskik word, bykans nul is. Vroeër vanjaar het die Persombudsman van SA tydens ‘n opleidingsessie van nuusredakteurs gekla oor dié mense se gebrekkige vlakke van algemene kennis.

Maar die persoon sonder parate kennis het die mag aan sy vingerpunte om ‘n onverantwoordelike, onbevoegde en selfs korrupte regering aan bewind te stel.

Kennis is mag, en die verantwoordelike toepassing van daardie kennis is die produk van opvoeding. ‘n Sware verantwoordelikheid. ‘n Normlose opvoeding is ‘n ramp.

Herman Toerien