Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kemptonpark opgeskeur?

Afriforum logo

Afriforum logo

Die haatspraakverhoor tussen Julius Malema en die ANC aan die een kant, en Afriforum en TLU SA aan die ander kant, het benewens ‘n streng juridiese sy, ook grondwetlike, staatkundige en politiek-sosiologiese elemente. Dit is trouens moontlik dat die streng juridiese eintlik ‘n klein deel van die prentjie vorm.
Wat die grondwetlike en staatkundige betref, moet onthou word dat die huidige bedeling die gevolg van ‘n onderhandelde skikking was. Uit dié skikking is ‘n lys grondwetlike beginsels opgestel waaraan die grondwette wat daarop volg, moet voldoen. Sommer die eerste grondwetlike beginsel bepaal onder meer dat gelykheid tussen alle rasse bereik moet word. Dit impliseer dat daar nie ‘n oorwinnende ras uit die stryd getree het nie, en dat ‘n ander ras daarom ‘n soort tweedeklas burgerskap moet opneem nie.
Die tweede beginsel bepaal onder meer dat die menseregte in die land aan internasionaal-aanvaarde beginsels moet voldoen. Dit beteken eenvoudig dat die ANC se vertolking van wat haatspraak is, ongeveer irrelevant is, en dat internasionaal-aanvaarde beginsels geld. Toevallig val hierdie verhoor saam met die haatspraakverhoor van die Nederlandse politikus, Geert Wilders, en gaan Suid-Afrika juridies met baie eier in die gesig sit as hier ‘n eiesoortige koers ingeslaan word – tensy dit natuurlik algemeen aanvaar word dat dit die regte oplossing is – met die klem op oplossing.
Die derde beginsel verbied onder meer rasse-ongelykheid, en dwing maatreëls op om gelykheid te bewerkstellig. Die grondwetlike beginsels het hiermee nie in gedagte dat verskillende rassegroepe se gelykheid beteken hulle kan van mekaar sê wat hulle wil nie. Trouens, in die huidige grondwet word optredes wat oorlog aanblaas, uitlokking tot geweld of bevordering van haat onder meer op rasse- of godsdiensgronde uit die reg op vrye meningsuiting uitgesluit.
In die aanhef van die grondwet word as ideaal gestel ‘n land wat in sy diversiteit verenig is. Polariserende gedrag staan dus hierbuite.
Die politieke sosiologie leer dat die regering ‘n agent van politieke sosialisering is omdat dit die sosialiseringsproses polities kan manipuleer. Dit plaas in sy sosiale kontrak ‘n uiters groot verantwoordelikheid in die regering, wat weer grootliks deur die regerende party bepaal word.
Dat die situasie tot hierdie punt moes ontwikkel, beteken dat daar ‘n groot afwesigheid by minstens een kant is om by die gees van Kemptonpark te hou. Selfs die beste grondwet ter wêreld sal onder druk bly as daar nie ‘n sterk wilsooreenstemming is om daarby te hou nie. Ongelukkig is die tekens al lank daar dat die ANC ‘n traagheid het om daarby in te val – soos blyk daaruit dat Pansat sommer vroeg na die aanbreek van die nuwe bedeling gesê het die regering self is die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings. Hierdie tendens is deur ‘n rits grondwethofsake, soos dié van die Walker- en Modderklip-sake voortgesit. Op die oomblik word die regering se onteiening van mineraleregte, wat dikwels as die grootste diefstal in die land se geskiedenis beskryf word, bereg. Kort-kort is daar optredes dat die regering nie die skeiding van magte verstaan nie, waarvan die steeds bevestigde beleid van kaderontplooiing ‘n treurige manifestasie is. Ook die uitsprake oor mediavryheid dui op grondwetlike onvolwassenheid. En laastens – van die agendapunte op die komende ANC-jeuglkigaberaad skree teen die grondwet in.
Die tweede aspek is dat hierdie saak heel waarskynlik aandui dat die grondwet nie so volmaak en veral toepaslik vir ‘n heterogene samelewing is, soos sy fanatieke aanhangers graag glo nie. Staatsregslui is hieroor verdeeld.
Op die politiek-wetenskaplike terrein geld die beginsel dat ‘n regering in algemene belang moet regeer, nie in die belang van sy ondersteuners nie. Omdat dit wat binne die hof gesê word aan die sub judice-beginsel onderhewig word, is hierdie mening dat die regering wegstaan van die gees van Kemptonpark gebaseer uit uitlatings van onder meer Malema buite die hof gebaseer, asook die ANC se gebrek aan repudiëring.
Het van die reënboognasie waaroor oud-pres. Nelson Mandela so graag gepraat het nou onder die ANC se hande in ‘n vaal stofstorm ontaard?