Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kan SA die ANC bekostig?

Verlede jaar het die ANC-ondersteuner, prof. Jakes Gerwel, in sy rubriek in Rapport lang lippie getrek oor die ANC so dikwels as, soos hy dit gestel het, ‘n landsvyand voorgestel word.
Hy het geskryf dat die ANC wel ‘n vrotsige regering mag wees, maar ‘n landsvyand kan dit nie wees nie omdat die meeste kiesers vir die ANC stem.
Sonder om die rasionaal hiervan te probeer verstaan, open dit nietemin die deur vir indringende vrae.
Slegs een uit tien Suid-Afrikaners is tevrede met die vlak van dienslewering. Tog hou die ANC voet by stuk dat hy sy kader-ontplooiingsbeleid sal voortsit. So ook ander beleidsrigtings wat die bestuur van die land laat ontspoor.
Politieke kommentators meen korrupsie het endemies geword, en volgens die Wêreldbank se beskouing van korrupsie, is so ‘n land se toekoms gesteel.
Met meer as 70 % van die land se inwoners wat meen hulle is Christene, val dit vreemd op dat die ANC kort-kort die weerlig van kerke trek oor omstrede godsdiensuitsprake. Boonop kan die ANC se aborsiebeleid en dobbelbeleid nie met enige kerkgenootskap wat die term kerkgenootskap waardig is, se standpunte oor hierdie sake versoen word nie.
Niks skilder egter so ‘n bisarre prentjie soos die ANC se omarming van Julius Malema met die huidige haatspraakverhoor nie. Byna vergete omstredenhede word nou, vlak voor ‘n verkiesing, in herinneringe opgeroep soos die bloedbad toe vanuit die destydse Shell House op ‘n IVP-betoging geskiet is. Die woorde waaroor Malema aangekla word, word volgens ‘n peiling deur TNS , deur 75 % Suid-Afrikaners as haatspraak beskou. Dit sluit 66 % swart mense in wat meen dis haatspraak.
Op die Afrikatoneel probeer die land ‘n rol in vredesbemiddeling speel, maar boer ook hier die kreeftegang. Die Ivoorkus-verhaal verloop sonder enige aanduiding dat Suid-Afrika se pogings ‘n invloed het anders as om die proses te vertraag, in Libië lyk dit of die AU se afvaardiging waarvan pres. Zuma deel is, bloot weer deur Ghaddafi donkie-ore aangesit is, en in Zimbabwe bly Mugabe so ‘n groot probleem soos altyd.
In ‘n simplistiese demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.
In ‘n heterogene land kan die blaam egter nie net op die kiesers geplaas word nie. Met die ontwerp van enige land se grondwet is die adviseurs en betrokkenes immers behoorlik bewus van sekere realiteite, en word dit staatkundig verreken, soos wat in Indië, België, Switserland en vele meer gebeur het.
Deel van die proses om die land op ‘n vreedsame ontwikkelingskoers te plaas, is om respek te toon vir alternatiewe staatkundige modelle, veral as die voorstanders van ‘n nuwe Kodesa op soveel suksesvolle alternatiewe modelle kan wys.
Dit is immers nie reg dat ‘n ganse bevolking skade ly oor die meerderheid kiesers dwase keuses maak met die vestiging van ‘n diktatuur van die meerderheid nie. En te dikwels word kritiek op die ANC en sy ringkoppe nog as kritiek op swart mense beskou of ervaar, en dit verdiep die komplekse karakter van polarisasie. En kritiek lewer is die aard van ‘n liberale demokrasie.