Subscribe by Email

Nuuskommentaar : Kan die aardbewings by Augrabies tot grote lei?

Met die aanbieding van COP 17 in Suid-Afrika is Suid-Afrikaners goed bewus gemaak van hoe klimaatverandering vir sekere lande rampspoedige gevolge kan hê. In die buitelandse media, waar COP 17 grootliks as mislukking beskryf is en Suid-Afrika se lomp hantering van die verrigtinge hoofsaaklik geblameer word, is groot gewag gemaak van die lot van ‘n aantal eilandnasies wat ernstig deur ‘n stygende seevlak bedreig word. Hulle is veral kwesbaar teen tsunami’s wat deur aardbewings elders veroorsaak word.

Terwyl die mens volgens die oorwig wetenskaplike gegewens self deels vir die tempo waarteen die klimaat verander verantwoordelik gehou kan word, is daar egter natuurrampe waaraan die mense niks in terme van voorkoming kan doen nie – aardbewings.

Die grootste aardbewings kom gewoonlik voor waar die tektoniese plate waaruit die aardkors bestaan, mekaar ontmoet.

Benewens die duisende lewens wat met die groot aardbewing en tsunami verlore is wat Japan vroeër vanjaar getref het, word die totale koste op $309 miljard beraam. ‘n Kernkragreaktor is beskadig, en die koste se impak op die Japannese BNP het die proses waarteen Japan se premiers mekaar aflos, bekend as roldeur-opvolging, voorlopig versnel.

Die nuus het ook pas bekend geword dat ‘n Indonesiese meisie wat as sewejarige met die groot Asiatiese tsunami van ouers geskei geraak het, pas as 15-jarige met haar ouers herenig is. Dit het geblyk dat sy op ‘n naburige eiland deur ‘n vrou as bedelslaaf aangehou is.

Daar is geen aanduidings dat die aarde aardbewinggewys meer stabiel raak nie. Die Amerikaanse USGC se wêreldkaart waarop aardbewings bygehou word, dui deurlopend in die orde van 200 aardbewings per week van beduidende omvang wêreldwyd aan. Verlede jaar was daar die meeste aardbewings van magnitude 7 of meer in ‘n jaar vir die afsienbare aantal jare, naamlik 22. Die sterkste was een van M 8,8 wat Chili getref het, maar ‘n aardbewing van 7 wat Haïti grootliks in puin gelê het, het die meeste aandag geniet. Die seismiese moment-magnitudeskaal wat die USGC gebruik is, soos die Richterskaal wat onder meer deur Suid-Afrika gebruik word, ‘n logaritmiese skaal waar ‘n aardbewing wat 7 meet, tien keer so sterk is soos een wat 6 registreer.

Vanjaar was daar reeds 19 aardbewings van M7 en sterker, met die Japannese aardbewing van 9 die grootste bielie. Die aardbewing wat op 21 Februarie soveel dood en verwoesting in Christchurch gesaai het, het M 6,1 gemeet.

‘n Aardbewing van M 7,1 wat die Suidooste van Turkye op 23 Oktober getref het, het ook groot skade en lewensverlies veroorsaak.

Die hoeveelheid skade wat ‘n aardbewing kan aanrig word egter nie net deur die sterkte bepaal nie, maar hoe naby aan die episentrum die beboude gebied is, die tipe rotsformasie en die diepte daarvan. Aardbewings kan baie na-aan die oppervlak plaasvind, soos dié by Christchurch, of baie diep. In die omgewing van Fidji is die diepte dikwels meer as 500 kilometer onder die aardoppervlak.

Spanje en Wes-Turkye is vanjaar ook deur aardbewings van minder as M6 getref wat dood en skade tot gevolg gehad het.

Vanjaar het ook die interessantheid opgelewer dat ‘n groep Italiaanse wetenskaplikes van onder meer strafbare manslag aangekla is omdat hulle in 2009 nie ‘n aardbewing voorspel het wat in die Italiaanse dorpie L’Aquila getref het nie. Die aardbewing van M 6.3 het tot die dood van 309 mense gelei en baie skade aan veral historiese geboue aangerig. Die groep wetenskaplikes is opdrag gegee om die moontlikheid van ‘n sterk aardbewing te voorspel nadat die gebied deur ‘n vlaag swak aardbewings getref is. Kort na hulle verslag voltooi is waarin hulle die mening uitgespreek het dat ‘n grote onwaarskynlik is, het die dodelike aardbewing gevolg. In hul verslag het hulle wel voorgestel dat bouregulasies verskerp moet word.

Aardbewings word egter steeds in die literatuur as onvoorspelbaar beskryf, en dit is veral moeilik om te voorspel of, soos dit genoem word, ‘n swerm ligte aardbewings in ‘n gebied tot ‘n grote kan lei.

In die VSA kom daar byvoorbeeld al vir eeue periodieke swerms ligte aardbewing in Arkansas voor, met steeds geen aanduiding dat dit ‘n grote tot gevolg kan hê nie. Vroeër vanjaar het die USGC berig dat die jongste vlaag in daardie stadium reeds sowat 60 opgelewer het waarvan die sterkste in die orde van die sterkstes by Augrabies was. Nogtans meld die USGC dat dit nie bereid is om te voorspel dat ‘n grote nie kan plaasvind nie, en ‘n ontruimingshandboek is selfs vir die area geskryf.

Net soos by Augrabies is die wetenskaplikes nie seker wat die aardbewings veroorsaak nie.

Dit is soortgelyk as die situasie by Luckhoff, waar periodiek ook ligte aardbewings voorkom sonder dat die oorsaak daarvan duidelik is. Dié verskynsel is selfs met die ontwerp van die Van der Kloofdam in verrekening gebring.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Geowetenskappe het Sondagaand se skudding by Augrabies, wat 5 op die Richterskaal aangeteken het, as die sterkste beskryf van die swerm wat die gebied die afgelope sowat ‘n jaar tref. Die USGC het dieselfde skudding op die moment-magnitudeskaal as M 4,3 aangedui, dus ongeveer 70 keer swakker as die aardbewing van M 5.9 wat Christchurch dieselfde dag getref het.

Die feit dat Suid-Afrika steeds ‘n aangepaste Richerskaal gebruik, ‘n metodiek wat vir ‘n deel van suidelike Kalifornië ontwikkel is, skep uiteraard verwarring. Omdat verskillende aspekte gemeet word, kan die lesing van die een skaal nie maklik na die ander omgewerk word soos wat byvoorbeeld met verskillende geldeenhede gemaak kan word nie.

Al is die Richterskaal vir gebruik in ‘n deel van Kalifornië ontwerp, is dit akkurater in Suid-Afrika wat minder breukvlakke het.

Nogtans erken die Raad vir Geowetenskappe dat die Moment-mangnitudeskaal akkurater is as die Richterskaal, en word ‘n formule vir omrekening vir Suid-Afrika binnekort in Science gepubliseer. ‘n Studie word binnekort onderneem om die formules te bepaal waarvolgens die Moment- magnitude skaal ook akkuraat in Suid-Afrika gebruik kan word.

Intussen moet Suid-Afrikaners maar verlief neem daarmee om in die nuus te hoor dat aardbewings elders ter wêreld se sterkte foutiewelik in Richerskaal uitgedruk word.

Die groot skade in verskeie Bolandse dorpe ten spyt, is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrika sommer deur ‘n groot aardbewing getref sal word. Kontinentale drywing, die hoofdryfkrag van aardbewings, neig om weg van die kontinent plaas te vind.

Die aarde baat egter ook mildelik uit die meganisme wat vir die verskuiwing van tektoniese plate verantwoordelik is. Die konveksiestrome in die aarde se gesmelte ingewande wek die krag op wat die aarde se beskermende magneetveld in stand hou. Dié veld, soos met die osoonlaag, beskerm lewe op aarde teen skadelike kosmiese bestraling. Bemande ruimtestasies soos die IRS neig dus om so na as moontlik aan die atmosfeer te wentel om die bemanning maksimaal deur die magneetveld te beskerm. Dit word vandag ook as belangrike hulpmiddel vir die bepaling van die ouderdom van fossiele gebruik.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien