Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kammaland en die ANC-Jeugliga

Terwyl die ANC wal gooi om te verduidelik dat die ANC-jeugliga – en in die besonder Julius Malema – se radikale onteieningspraatjies bloot praatjies in die wind is, is dit ook so dat die land ‘n prys hiervoor betaal.

Geen land se ekonomie is ‘n selfonderhoudende eiland nie, en die land wat meer uit sy ekonomie probeer slurp as wat daar is om op te slurp, gaan die gevolge pynlik voel.

Dié waarheid word op die oomblik kliphard onderstreep deur die lot van die sogenaamde Pigs-lande in Europa. Pigs is ‘n afkorting vir Portugal, Ierland / Ysland, Griekeland en Spanje. Hierdie lande word met reuse hulppakette aan die dryf gehou, maar in ruil moet die gordel van verantwoordelikheid ingetrek word – en dis waar die kinkel in die kabel lê.

Die hulppakkette wat die lande benodig laat die koppe duisel: Spanje $600 miljard, Portugal $122 miljard, Ierland $113 miljard, Griekeland $134 miljard.

Ysland, waar die probleme begin het, word gewoonlik nie bygereken nie omdat die bedrag ($4,6 miljard) betreklik klein is en die IMF, eerder as die Europese Unie, die herstelwerk kom doen het.

Veral die Grieke, so lyk dit, is traag om die gordel in te trek om hul land se ekonomie weer in balans van produktiwiteit en ekonomiese vrugte te bring. Weens die komplekse verweefdheid van ekonomieë, het die Wall Street-aandelebeurs ‘n sewe persent daling beleef toe kommer op die grootste was dat die Grieke sou vasbrand met terugbetaling.

Om gewoon vas te brand, is nie ‘n opsie nie. In 2002 het Argentinië vasgebrand, en die gevolg was grootstskaalse werksverliese, banke wat disfunksioneel geraak het, en ‘n beleggersvakuum.

Oral in Europa is daar tekens dat die vasteland begin moeilik raak vir die Grieke wat net wil skep sonder om self ‘n bydrae te lewer. Onlangs het die Europese pers ‘n pragtige kunstenaarsvoorstelling gedra van ‘n swart gat wat ‘n naasliggende ster leegsuig. Die Nederlandse koerant, Trouw, gebruik nou ook die swart gat-beeld om te toon hoe probeer word om Griekeland se ekonomie vlot te kry.

Die interessantheid is dat die Christian Science Monitor in sy uitgebreide verslag oor die ANC-Jeugligakongres skaars na Malema se wilde nasionaliseringsbekpraatjies verwys. Dié koerant maak wel groot gewag van die liga se aandrang dat die Navo-leiers, waaronder pres. Barack Obama, voor die internasionale strafhof gedaag moet word weens Navo se optrede in Libië. Die hele doel is om die jeugliga as laf af te maak.

Dit is in belang van Suid-Afrika en werkskepping dat Malema en kie as irrelevante lawaaimakers afgemaak word. Maar dis nog beter dat die liga in die eerste plek verantwoordelik met sy woorde moet omgaan – en die ANC sal moet leer om sy heethoofde vas te vat.

Herman Toerien