Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Kabinetskommeling?

Vandag is dit wêreldwyd Mandeladag. Oud-president Nelson Mandela word te midde van ‘n mengsel van werklike geskiedenis en geweefde romantiek wyd as ikon van vrede voorgehou.

Euforie verdring egter nie oral die harde werklikheid nie – op die Horing van Afrika word sowat tien miljoen mense bedreig deur die ergste droogte in sestig jaar, wat eindeloos vererger word deur die aktiwiteite van Islamitiese insurgente. Die viering van Mandeladag sal ver van hul gedagtes wees.

Hier te lande is akademici in die politieke wetenskap en staatkunde al betreklik eenstemmig dat korrupsie in Suid-Afrika endemies geword het. Dit beteken dat tsjôtsjô eerder as markkragte en produktiwiteit, die gang van die ekonomie bepaal. Suid-Afrika spartel aan die onderpunt van die VN se sogenaamde piesangrepubliekindeks.

Op die oomblik loop praatjies oor ‘n kabinetskommeling dik. Die normale praktyk met kabinetskommelings is om ministers wat nie die mas opkom nie weg te laat, ander wat in hul portefeuljes vasgebrand het na ander portefeuljes te skuif waar die president of eerste minister meen die persoon dalk beter sal vaar, en om nuwe bloed in te voer. ‘n Minister wat op hierdie wyse sy amp verloor, is gewoonlik minder beklad as een wat summier afgedank is.

Word gekyk na die prestasiepersentasies wat die DA en die VF+ jaarliks aan kabinetministers toeken, behoort so ‘n skommeling eintlik ‘n redelike slagting op te lewer. Dit is egter nie die opposisie wat die ministers aanstel en afdank nie.

Die huidige tradisie waar selfs swak ministers selde die trekpas kry, is deur Madiba ingelui. Hoewel alles wat nou in die onderwys verkeerd is nie meer op wyle dr. Bengu se brood gesmeer kan word nie, het hy ongelooflike skade aangerig. Binnelandse Sake is weer erg deur die IVP se Mangosuthu Buthelezi geskaad.

Mandela het weliswaar nie ‘n absolute vry hand gehad nie – dit was aanvanklik ‘n oorgangsregering en hy moes mense uit die NP akkommodeer, en het ter wille van versoening ook bv die IVP betrek.

Tweedens is sy Kabinet so verteenwoordigend as moontlik uit ANC-lede saamgestel verteenwoordigend van die belangrikste stamme. ‘n Swazi-prinses hier, ‘n paar Xhosa-adelikes uit verskillende stamme daar, en so meer. Dit het beweegruimte verder beperk.

In die konteks van die Mandela-euforie het belangegroepe en individue wat hulle in swak ministeries vasgeloop het, skrywes aan die presidensie gerig om die knelpunte opgelos te probeer kry. Dit het gou-gou geblyk dat dit dadels oplewer omdat die presidensie sulke klagtes nie self hanteer nie, maar na die departemente wat verkla word terugverwys.

Elke president sedertdien het lippediens bewys aan ‘n voorneme om die staatsmasjienerie te laat vlot. Pres. Jacob Zuma se groot troef na sy verkiesing was die sogenaamde “bel vir Zuma”-projek, wat uitgebou is na ‘n reuse klagte-inbelsentrum. Vir ‘n tyd lank is dié projek selfs met groot erns uitgebou en bemark, maar die klagtes het ook nie uitgebly nie. Die groot struikelblok was dat ministers uiteindelik hulself bo openbare aanspreeklikheid verhewe beskou, en die presidensie hulle nie tot ander insigte dwing of afdank nie.

Veral teen die agtergrond van die mees onlangse Ouditeur-generaalverslag oor munisipaliteite en die Openbare Beskermer se verslag oor polisie-huurkontrakte, sou verwag word dat ‘n Kabinetskommeling met ‘n klompie weglatings onvermydelik is. Tot Zuma se krediet het hy reeds een keer so gemaak maar nie die snoeiskêr naastenby diep genoeg ingelê nie. Dit is bloot nie die ANC se tradisie dat die snoeiskêr sy werk behoorlik doen nie.

‘n Vars briesie is dat die ANC se hoofsekretaris, Gwede Mantashe begin stem dik maak dat die persepsie van korrupsie die ANC se beeld begin skade berokken, en aangespreek moet word.

Herman Toerien