Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Juju en die Afrikaner se moermeter

“Die boere se moermeter loop in die rooi.”

Dit was die woorde van mnr. André Botha, veiligheidshoof van Agri SA in sy reaksie op die TLU SA se stelling dat die aantal plaasmoorde in Januarie vanjaar op ‘n besonder donker en bloedige jaar dui. Altesaam vier plaasmoorde het so ver bekend vanjaar al voorgekom.

Plaasmoorde is egter nie al wat die Afrikaner ontstel nie. Julius Malema sal moontlik in die geskiedenis afgaan as die een mens wat daarin kon slaag wat min van die grootste Afrikanerhelde kon doen – om ‘n sterk gevoel van eensgesindheid onder die Afrikaner te kweek.

Malema, meer as enige ander politieke figuur, kry dit reg om die Afrikaner oor minstens een saak eensgesind te kry – om hul moermeters in die rooi in te jaag. Geen politieke party wat hoegenaamd in Afrikanerstemme belangstel, kan dit meer veilig waag om ‘n standpunt van pro-Malema in te neem, of selfs ter wille van swart stemme ‘n dowe oor op die fenomeen te draai nie.

Uit Afrikanergeledere is al dikwels geskryf dat dit so moeilik is om hierdie weerbarsitige volk in een kamp te kry soos om ‘n trop wilde tarentale na ‘n hoenderhok te probeer aanjaag. Kom dit egter by Malema, word tot by wyse van spreke uit dieselfde liedboek gesing en is daar geen kleingeestigheid oor of ‘n melodie dalk nou hopperig is of nie.

Jingos en vyfdekolonners is daar wel ook – maar ook hulle dien meer om saam te snoer en hulself te isoleer as om op ‘n spektrum van opinies te dui. Pogings om Afriforum oor sy saak in die gelykheidshof teen Malema se singery van “Skiet die Boere” verdag te maak, het dié keer in die kritici se gesigte ontplof.

Die ANC se besluit om Malema tot in die grondwetlike hof oor sy sangtalent by te staan, het waarskynlik meer as enigiets anders daartoe bygedra dat Afrikaners bykans onsigbaar was tydens die ANC se eeufeesvieringe. Trouens, wit lede se afwesigheid as profielvangers tydens die verrigtinge het die ANC se uitgesproke aansprake oor die herontdekking van sy nie-rassigheid belaglik gemaak. Afrikaners in die ANC soos Marthinus van Schalkwyk het sulke lae profiele tydens die verrigtinge gehandhaaf hulle kon regop onderdeur ‘n mat hardloop sonder dat hul hare deurmekaar sou raak.

Die sg Cape Liberals se pogings om die Universiteit van Stellenbosch verder te verengels en om die voorstanders van die behoud van Afrikaans as verkramp te probeer afmaak, het dié keer teen ‘n Afrikanermuur vasgeloop.

Die doodsvonnis is selfs oor die term Afrikaanses as politieke korrekte skepping om almal wat Afrikaanssprekend is te beskryf, uitgespreek.

Die nuwe taal-wetsontwerp wat die regering onder druk van die howe die lig laat sien het, het soos selde Afrikaanssprekendes in teenkanting saamgesnoer.

Malema se rol om die Afrikaner in sy huidige vormingsproses tydens sy omswerwinge in die woestyn te slyp sal eers heelwat later in die geskiedenis bepaal word. In dié stadium is dit egter duidelik dat Malema wel grootliks eiehandig daarin geslaag het om vlakke van polarisasie in die land die hoogte in te jaag.

Malema, waarskynlik meer as enigeen voor hom, het die grondwet se vermoë om diversiteit in die land doeltreffend te ondervang, deeglik getoets. Die koor van stemme van Afrikaanse kommentators wat die lofliedere oor die grondwet as so goeie grondwet besing het, het byna doodstil geword.

Malema het reggekry wat Jimmy Manyi basies net met die bruin mense kon regkry. Manyi het oornag daarin geslaag om bruin meningsvormers en kommentators se pennevrug teen die ANC opgekommandeer te kry. ANC-apologete vanuit hierdie geledere soos dr. Jakes Gerwel moes hierna hul woorde mooi kies wanneer hulle hul ANC-simpatie in Afrikaanse koerante wou laat blyk.

Malema het egter op die oog af die rassebagasie van die Afrikaner afgestroop. Die politieke dampkring wat die Afrikaner as noodwendig as blank beskou, het nie verdamp nie, maar is nou grootliks randfigure in die politieke debat oor waarheen die Afrikaner onderweg is.

In plaas van politieke korrektheid, het politieke inkorrektheid die gonswoord geword. Waar politiek inkorrekte manuskripte ‘n paar jaar gelede nog by uitgewers met ‘n houtoog bekyk is, word daar nou selfs boeke bemark as politiek inkorrek.

Dit is vanuit ‘n politieke perspektief nog te vroeg om werklik te praat van ‘n volk se herontwaking, veral as die ou politieke spelreëls gebruik word om die golf te toets. Heelwat debat lê nog voor, en die kleurkwessie gaan weer en weer getoets word terwyl die kultuurkwessie, wat volkeregtelik en volgens die bestaande grondwet die norm behoort te wees, hard sal moet skrum vir ‘n plek in die eerste span.

Die nuwe golf is ook nie primêr op politieke isolasie afgestem nie. Afriforum het binne sowat 24 uur genoeg handtekeninge teen die beoogde wet op staatsinligting bymekaar gemaak om ‘n kilometerlange rol name by die Unigebou te kon ooprol.

Die golf is egter reeds duidelik genoeg gedefinieer dat politieke kommentators wat dit graag wil miskyk, hulself kort voor lank by die groterwordende ashoop van uitgediende kommentators kan bevind… of hul brood en botter moet verdien by die media wat die Afrikanersaak probeer rysmier. Afrikaanse redakteurs wat nie die golf raakgelees kry nie, of nie wil raaklees nie, gaan toenemend in administratiewe poste herontplooi word of hul koerante gaan duike op die lyf loop.

En wie moet die Afrikaner bedank? Beslis nie Bolandbank nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien