Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Jeugliga-optog

Suid-Afrikaners is met reg bekommerd oor die verloop en gevolge van die ANC-jeug se protesaksies vandag en môre.

Navorsing wat in Junie vanjaar voltooi is dui wel daarop dat die aantal protesaksies sedert ‘n tipe hoogtepunt in 2009 afgeneem het, maar dat die geweld wat daarmee voortgegaan het bly toeneem het.

Volgens Municipal IQ het protesoptogte wat met munisipale dienslewering verband hou in 2009 vlakke van bykans 2 per week bereik. Sowat die helfte van die protesaksies sedert 2004 het in 2009 plaasgevind.

In die jongste studie, deur Jelani Karamoko en Hirsh Jain word die aanbied van verlede jaar se wêreldbeker-sokkertoernooi as ‘n tipe keerpunt beskou waarna ‘n afname begin intree het. ‘n Meer siniese gehoor sal wel onthou dat die pas afgedankte minister Sicelo Siceka toe oproermakers in Gauteng ondubbelsinnig gewaarsku het dat hulle met die volle mag van die polisiediens getref sal word as hulle nie hul protesaksie staak nie.

‘n Ander faktor wat geweld tydens optogte kan demp is ‘n onlangse appèlhofbeslissing dat vakbonde aanspreeklik gehou kan word vir die skade wat hul lede tydens optogte aanrig. Cosatu probeer reeds na die Grondwethof hieroor appelleer, maar intussen is dit ‘n kleinood waaraan ‘n verantwoordelike gemeenskap klou.

Min Suid-Afrikaners verwag dat die optogte wat nou beplan sonder insidente gaan verloop. Die vandalisme en geweld tydens Julius Malema se aanvanklike verskynings in sy dissiplinêre verhoor vroeër vanjaar by Lethuli-huis is vars in die geheue, en die verhoor moes ook hieroor verskuif word. Boonop het stakende optoggangers onlangs in Kaapstad en elders hulle aan blatante vandalisme en selfs plundering skuldig gemaak.

Talle e-posse het in omloop gekom dat die beplanners van vandag en môre se optogte in hul beplanning ook doelbewuste geweld ingebou het. Teen die agtergrond van wat dikwels gebeur, het die lesers dit dikwels vir soetkoek opgevreet, en die feit dat die Jeugliga tot op die laste nippertjie gewag het om dit te ontken, het ook nie gehelp nie. In teendeel, Malema se uitsprake oor grondgryp het radikaler geword.

Dit is byna lagwekkend dat Malema dié optog simbolies koppel aan die uitkringende Wall Street-besetting wat nou al in talle ander wêreldstede wortel geskiet het. Die enigste ooreenkoms is die uiterlike manifestasie van skeefgetrekte ekonomieë. Hoewel die Wall Street-protes nog ‘n identiteit aan die ontwikkel is, is die duidelikste manifestasie dat keelvol geraak is vir magnate wat so inhalig geword het dat hul grypsug die werking van die vrye mark begin skeeftrek het. Van rassisme en sosialisme is min of geen tekens nie.

In Suid-Afrika, soos ook blyk uit dié week se mini-begroting het die inhaligheid in die owerheids- en veral semi-owerheidsektor en ‘n banale gees van luukses en vermorsing van ministers tot munisipale besture die uitgawekant van die owerhede daardie hupstoot gegee dat, soos Casotu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi gister gewaarsku het dat die land in die moeilikheid is. Nuus 24 haal hom soos volg aan: “Daar is geen twyfel daaraan dat ons tans teen onsself baklei…en daar is ‘n poging deur die elite om almal stil te maak, selfs permanent stil te maak.”

Vavi het ook gesê dat regeringsamptenare te besig was met magspeletjies om oor arm mense en werkloses om te gee.

“Ons is polities in die moeilikheid.

“Ons sal nie in 2014 kan antwoord as mense vra wat ons gedoen het om werkloosheid en armoede in die land die hoof te bied nie.”

Dat Malema en kie die ekonomiese klimaat uitbuit, is gewis, maar die motief is waarskynlik minder edel – hy staan op die punt om waarskynlik juis weens die wyse waarop hy steun mobiliseer, uit die ANC geskop te word. Dit sal ‘n ernstige terugslag vir sy eie beweerde tenderpreneurskap en inhaligheid wees.

Die optogte is in alle waarskynlikheid niks anders as ‘n magsvertoon om aan pres. Jacob Zuma te toon dat dit uiters gevaarlik kan wees om hom in die politieke woestyn te probeer dwing nie.

Die ironie is dat Malema self een van die hoofvoeders van die werklikheid is wat hom steun besorg. Ongelukkig is dit ‘n onbegonne taak om die skade wat hy die land reeds met sy optrede en losbekkigheid aangerig het, in rand en sent uit te druk. Verslaggewers Sonder Grense het sy omstrede optrede teenoor ‘n BBC-joernalis juis verlede jaar as een van drie faktore genoem hoekom Suid-Afrika flink die kreeftegang op die persvryheidsindeks gegaan het. Daar is ‘n ooreenkoms tussen ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks en lande se posisie op die beleggersvertroueindeks.

As ‘n miljoen rand skade gekoppel word aan elke nasionaliserings- en grondgrypuitspraak, gaan die skade van die wapenskandaal kort voor lank soos kleingeld begin lyk.

Malema is natuurlik nie alleen te blameer nie – die onwilligheid van die regering om Malema tot orde te roep het heel waarskynlik nog meer skade aangerig.

Wat die huidige optogte betref, is dit waarskynlik wys om indien nodig, die lyf skaars te hou in die omgewings, en as daar skade aangerig word, druk uit te oefen dat die jeugliga – of die ANC self wat die optogte nou voorwaardelik steun – die koste dra. En ook ‘n skerp wakende oog hou dat die ANC daardie uitgawes nie weer op die een of ander manier as ‘n rekening aan die belastingbetalers opdis nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien