Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Israelse fees sonder palmtakke

Asof simbolies van die skynbare internasionale koue wat Israel nou binnegaan, het Egipte aangekondig dat dié land die uitvoer van palmtakke na Israel verbied. Israel voer jaarliks sowat 700 000 palmtakke in vir die viering van die Loofhuttefees.

Dit is nog nie heeltemal duidelik of die verbod met die afgekoelde betrekking tussen Israel en Egipte te make het nie. Dié verhouding het versleg na pres. Hosni Moebarak vroeër vanjaar omver gewerp is, en het verder versleg na ‘n voorval verlede maand toe Israelse soldate vyf Egiptiese grenswagte, wat hulle vir Palestynse insypelaars aangesien het, doodgeskiet het.

Dis egter nie net met Egipte wat die wind skielik uit die woestyn begin waai het nie. Met die koue skouer wat Turkye begin draai het, het Israel sy sterkste bondgenoot in die Moslemwêreld ook begin verloor.

Sterk onderliggend aan die kwessie is die Palestynse vraagstuk – ‘n probleem wat die wyse Salomo sou slapelose nagte besorg.

Selfs met die geskiedkundige Camp David-verdrag in 1978 is bykans alle probleme tussen Egipte en Israel in die reine gebring – behalwe die Palestynse kwessie. Dié is in vae en onvoltooide terme na ‘n bylae uitgeskuif. Ander dag se probleem.

Dat Egipte bereid was om die ganse Arabiese wêreld oor die kwessie te trotseer, was dalk nie so vreemd nie. Na die ou Palestina tussen Joodse en Palestynse gebiede verdeel is het Egipte immers die een Paletynse gebied, die Gazastrook, summier geannekseer, terwyl Jordanië dieselfde met die Wes-Oewer gedoen het. Dit was in pas met die post-Ottomaanse verdeling van die gebied waar nuwe lande en hul grense besonder lukraak getrek is. Die anti-Arabiese gevoelens destyds het dus min te make gehad met die lot van die Palestyne, maar eerder ‘n ontevredenheid oor die aanwesigheid van Israel, wat hulle ook gemeen het sommer gou van die aardbol geveeg sou word.

Toe dit misluk, en die buurlande met groot hoeveelhede Palestynse vlugtelinge bly sit, het die lot van die Palestyne eers begin spreek – maar is ook gruwelik misbruik. Verskillende Arabiese lande het verskillende Palestynse terreurgroepe as oorlog deur afstandbeheer aangewend om Israel te bly destabiliseer.

Die ironie is dat die Palestyne eers weer spore van ‘n eie staat gesien het na die Palestynse gebiede deur Israel afgeneem is. Uiteindelik kon ‘n Palestynse owerheid met wye magte tot stand kom. Maar daar het dit in die dryfsand begin vasval, hoofsaaklik omdat veral Hamas bly weier het om Israel se bestaansreg te erken, en ten spyte van hewige strafmaatreëls voortgegaan het om onder meer vuurpylaanvalle op Israelse teikens te loods, waartydens selfs skole nie gespaar is nie.

Israel wen ook nie vriende nie deur voort te gaan om Joodse nedersettings in besette gebiede te bou.

Met Israel se totstandkoming het die destydse Suid-Afrikaanse regering onder leiding van die oud-predikant, dr. DF Malan, Israel dadelik erken, en godsdiensoorwegings het duidelik ‘n rol gespeel. Die bande tussen Israel en Suid-Afrika het by tye baie heg geword toe beide die druk van internasionale uitwerping begin beleef het.

Met die bewindsaanvaarding van die ANC was dit duidelik dat dié bande ingrypend sou verander. Ou bande tussen die ANC en die verskillende Palestynse bewegings sou ‘n bydrae lewer, maar so ook die feit dat verskeie belangrike rolspelers in die ANC Moslems is. Veral die Pahad-broers was sigbaar, maar van dié rolspelers het ook hul hand vinniger oorspeel as wat die ANC bereid was om te beweeg.

Dit lyk inderdaad of lande met die Palestynse owerheid se poging om ‘n nuwe status by die VN te bereik, wat Israel as ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring beskou, voor ‘n keuse gestel gaan word: Israel of Palestina.

En dit lyk of Suid-Afrika sy volle omkeer van die tyd van dr Malan gaan maak.

Dit is natuurlik moontlik dat Israel vrede met die gedagte kan maak dat daar ‘n wêreld is wat Israel én Palestina wil sien naasbestaan.

Maar dan sal Israel ook vereis dat daardie lande die Palestyne, veral Hamas, moet oortuig of dwing om Israel in vrede te laat bestaan.

Israel sit immers met een troef in die hande: Die Amerikaanse party wat besluit om sy rug op Israel te keer, of om selfs te krities teenoor Israel op te tree, sal sonder die Amerikaanse Joodse stem moet klaarkom wat vir die voorsienbare toekoms beteken so ‘n party kan maar sy deure sluit.

Herman Toerien