Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Interne verkiesings

Nuuskommentaar: Interne verkiesings

Volgens die jongste meningspeilings in die VSA vaar pres. Barack Obama op die oomblik besonder beroerd. Onder Demokrate, Obama se party, meen net 20 persent dat hy ‘n beter president as Bill Clinton is. Clinton was onder meer oor die Manica Levinski-affêre op die rooi tapyt. Van alle Amerikaners meen 56 persent dat hy net so swak, of swakker is as wat oud-pres. Geoge W. Bush was. Om dit in perspektief te stel, teen die einde van sy termyn het Gallup bevind dat George W. Bush die goedkeuring van slegs 25 persent van die Amerikaners wegdra.

Dit is egter nog betreklik lank voor die Amerikaners gaan kruisies trek, en die nominasiestryd in die Republikeinse Party is besonder fel, en die Grand Old Party, GOP, soos die Republikeinse Party bekend staan, gaan beslis skade ly. Nie net oor die kandidate mekaar nou moet beveg nie, maar oor belangegroepe wat in die konteks van koukus-ongebondhenheid nie net by kandidate flikkers gooi nie, maar die kandidate wat mekaar moet probeer oorbie om van hierdie groepe en lobby’s ter wille te wees. Die eise om hul steun te kry word genadeloos deur instansies soos die tea party, die Christian Coalition of America en ander gestel. Van die eise staan lynreg teenoor mekaar en kandidate moet kophou dat dit klap.

Obama, vry van hierdie bitter binnegevegte, is self met sy eie eierdans opgesaal. Die Palestynse kwessie het hom reeds geknou toe hy aanvanklik ‘n te positiewe beeld oor die Palestynse kwessie uitgestraal het. Sowat 80 persent van die VSA se Jode stem tradisioneel vir die Demokrate, maar dadelik het ‘n groot groep invloedryke Jode hul steun aan Republikeinse kandidate toegesê. In ‘n tussenverkiesing in New York se Brooklyn en Queens-area, wat meer as ‘n honderd jaar deur die Demokrate beheer is, het ‘n Republikeinse kandidaat koning gekraai. In hierdie kiesafdeling is drie keer meer Demokratiese ondersteuners as Republikeinse ondersteuners by hul onderskeie partye geregistreer. Dit is een van die kiesafdelings in die VSA waar die Joodse stem die swaarste tel.

Gelukkig vir Obama het sy organiseerders reeds ‘n ruk gelede die fondsinsameling vir die herverkiesingsveldtog gehou, en in ‘n korter as verwagte tydjie meer as die beoogde hoeveelheid geld ingesamel. Obama het ook nog ‘n bietjie tydsgrasie om weer deur sy eie optrede die Amerikaners se steun te verseker. Intussen dui die peiling daarop dat hy nie daarmee gaan wegkom om alles wat onder sy bewind skeefgeloop het, op die George W. Bush-era te pak nie.

In Suid-Afrika word soortgelyke interne stryde as dit wat die Republikeine in die VSA moet absorbeer nou in beide die ANC en die DA gesien. In die ANC lyk dit al hoe meer of die leierskap van pres. Jacob Zuma volgende jaar uitgedaag gaan word, terwyl die DA te kampe het met die uitdaging wat die jong Lindiwe Mazibuku aan die huidige parlementêre DA-leier, Athol Trollip, gerig het.

Die val van Thabo Mbeki het aan die land getoon hoe ingrypend die ANC se leierskapswisseling kan wees, veral in ‘n land waar kaderontlooiing dikwels aan die persoonlike vriendskappe of minstens goedkeuring van die leiers self gekoppel is. Die onrusbarende is dat een van die huidige, vernaamste drukgroepe vir Zuma se vervanging die ANC-jeugliga is, en ‘n president wat nog meer as Zuma na die pype van hierdie anargistiese drukgroep moet dans, is die laaste wat Suid-Afrika kan bekostig.

Vir die DA hang die karakter van sy toekoms baie af van wie van Mazibuku of Trollip die pyp gaan rook. Mazibuku word, reg of verkeerd, beskou as ‘n belangrike sleutel om nog meer swart steun vir die DA te werf, en haar argitekte het duidelik in die oog dat sy haar as Helen Zille se kroonprinses moet vestig. Een van haar groot nadele is dat sy nog doodstil was oor Afrikaans en haar ondersteuners werk hard hieraan. ‘n Boodskap het reeds uitgegaan dat sy waarskynlik binnekort genoeg selfvertroue sal hê om Afrikaans in die openbaar te praat.

Om nou die steun van Afrikaanssprekendes, of Afrikaners te verbeur, is in die konteks van die stemme wat nou ingebring word eerder as in die leierskap, iets wat die party nie nou kan bekostig nie.

Selfs die meester van alles vir almal wil wees, Zuma, kon nie enduit daarmee volhou nie. Obama is met die slagspreuk, “Change!”, verkies wat uiteindelik veel meer inhoudelike eise gestel het as om die Bush-era tot niet te maak, veral omdat Bush self reeds sy twee termyne uitgedien het. In die konteks van die polarisasie nou in die land is dit ook vir die DA moeilik om met leierskeuses ‘n “én – én”-situasie eerder as “of – of” op te lewer.

Herman Toerien