Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Inligtingswetsontwerp en Motala

Presies hoe belangrik openbare belang is as verweer teen vervolging om as fluitjieblaser op te tree, blyk uit ‘n saak van 2006, die saak van Tshishonga versus die Minister van Justisie en ander.

In hierdie saak duik ‘n bekende naam op – Enver Motala, die man wat pas as likwadateur geskrap is na hy die afgelope agt jaar sowat 600 likwidasies vir die Departement van Justisie gedoen het. Dit het pas aan die lig gekom dat Motala, toe hy nog die naam Enver Dawood gehad het, aan diefstal en 93 aanklagte van bedrog skuldig bevind is. Maar nog groter name is gediskrediteer – Penuel Maduna, Vusi Pikholi en Essop Pahad.

‘n Adjunk-direkteur-generaal van die departement, Mike Tshishonga, is reeds in 2003 afgedank na hy beswaar gemaak het teen die destydse minister, Maduna se inmenging om Motala as likwidateur aangestel te kry. Tshishonga, wie se taak spesifiek die bestryding van korrupsie in die afdeling ingesluit het, het lont geruik, en by die destydse direkteur-generaal, Pikholi gaan kla. Toe dit bloot intimidasie van Maduna oplewer, het hy onder meer by dr. Pahad, minister in die Kantoor van president Thabo Mbeki, gaan kla. Ook dit het dadels opgelewer. Trouens, Maduna het in ‘n stadium aangedui dat hy ‘n lastereis van byna ‘n miljoen rand teen Tshishonga gaan instel.

Uiteindelik het Tshishonga die saak openbaar gemaak, onder andere deur die saak aan die media bekend te maak. In daardie stadium was dit, so ver bekend, nog nie bekend dat Motala in werklikheid weens ‘n misdaadrekord gediskwalifiseer moes wees nie – bloot dat daar ongerymdhede was met die toewysing van die kontrakte.

Tshishonga is summier afgedank, maar het die staat arbeidshof toe geneem, wat in breë trekke in sy guns beslis het omdat die afgedankte geen ander opsie gehad het om die korrupsie oopgevlek te kry nie. ‘n Tweede hofsaak het gevolg nadat Pikholi versuim het om Tshishonga in sy pos her aan te stel. Die staat moes die regskostes betaal en Tshishonga ‘n jaar se salaris betaal. Maduna se kop as politikus het gerol.

‘n Belangrike beginsel het deel van die arbeidsreg geword. Die beskerming van fluitjieblasers is stellig die belangrikste wapen teen korrupsie. Tog, sedertdien, was daar talle gevalle van fluitjieblasers wat afgedank is en genadeloos geviktimiseer is. Onlangs het Afriforum bekend gemaak dat dié organisasie die fluitblaser wat die omstrede Noord-Kaapse politikus, John Block in die hof laat beland het, onder sy beskerming moes neem, sodat dié persoon veilig met die Openbare Beskermer kontak kan maak.

Teen dié agtergrond is dit onrusbarend dat Motala na die Tshishonga-saak steeds in oorvloed aangewend is.

Selfs na die Thishonga-saak was die posisie van fluitjieblasers baie broos, en met die pertinente weglating van openbare belang uit die voorgestelde inligtingswet, gaan die howe hard moet werk om ‘n geskikte presedentereg hieroor te ontwikkel, mits die wetgewing self dit moontlik maak. Dit is moontlik dat dié wet as ongrondwetlik bevind kan word, maar daar moet dan ook rekening gehou word met pres. Jacob Zuma se aanstelling van regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter.

Die verloop van soortgelyke wetgewing in Brasilië maak dit in oorvloed duidelik – die soort beperkings wat die ANC hier in die Inligtingswetsontwerp wil deur stoomroller, dien werklik net een doel – om te keer dat korrupsie op die lappe kom.

En om te verstaan hoekom fluitjieblasers hulle op openbare belang moet kan beroep, hoef nie verder as die Tshishonga-saak gesoek te word nie. Die skandalige stropery van die twee goudmyne Orkney en Grootvlei in die likwidasie van Pamodzi Gold, waarby die name van bekende politici se familie opduik, en wat deur Motala behartig is, staan as liederlike aanklag teen die ANC se hantering van die Inligtingswetsontwerp. Intussen sweer die wapenskandaal nog onverpoosd om aan te toon dat nog meer nodig is om korrupsie kort te vat, nie maatreëls wat dit nog moeiliker vir fluitjieblasers maak nie.

Herman Toerien