Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Inligtingswet – die hondjie of die halsbandjie?

Die ANC se woordverbreking en ongekende haas om ‘n hoogs omstrede wetsontwerp deur die parlement te stoomroller, kry nou algaande weer teenspoed in eie geledere. Cosatu dreig die regering nou met die grondwethof sou belangrike konsessies nie gemaak word nie, en die oud-minister van Intelligensie, Ronnie Kasrils, spreek bedenkinge uit. Kasrils is ‘n lid van die SAKP, en die kommuniste is nie juis bekend dat hulle menings- en persvryheid baie goedgesind is nie. Maar hier sit hy sy voet neer.

‘n Baie interessante stertjie wat algaande ‘n kernelement teen die beoogde wetgewing begin word, is die posisie van verklikkers, ook bekend as fluitjieblasers.

Ten spyte van omvattende wetgewing wat veronderstel is om verklikkers wat korrupsie en ander wanpraktyke in die ope bring te beskerm, bevind hulle hul in die praktyk dikwels as vry buit, en bly hulle in die slag.

Dit gebeur ondanks ‘n uiters belangrike en rigtinggewende saak in die arbeidshof waarvolgens ‘n minister, Panuell Maduna, in die slag gebly het. In 2006 het ‘n afgedankte adjunk-direkteur-generaal van die Justisie, MM Tshishonga, die destydse Minister, Maduna, en direkteur-generaal, Vusi Pikoli arbeidshof toe geneem en gewen.

Die feite van die saak is dat Tshishonga besef het Maduna bevoordeel ‘n vriend met likwidasietenders, en het dit sonder sukses eers by Pikoli, en later by dr. Essop Pahad, minister in die presidensie aanhangig gemaak. Toe al sy amptelike opsies uitgeput is, en hy self verskuif is, het hy die saak na die media geneem. Maduna se kop moes noodwendig rol, maar Tshishonga is afgedank. Die arbeidshof het egter beslis dat hy geen ander opsie gehad het nie. Pikoli het geweier om hom weer aan te stel, en het uiteindelik weer bloedneus gekry en Tshishonga het ruim kompensasie gekry.

Die probleem waarmee verklikkers te kampe kry, is dat hulle, om korrupsie aan die kaak te stel, dikwels van vertroulike inligting van hul werkgewer gebruik moet maak. Die uitlek van vertroulike inligting, bly volgens die arbeidsreg egter steeds een van die gronde waarop ‘n werknemer ernstige teenspoed kan kry en selfs ontslaan kan word, en so ‘n proses ontaard dikwels in ‘n baie moeilike en tegniese opweeg van regsbeginsels en belange. Openbare belang weeg byvoorbeeld swaar.

Die gevaar van die nuwe wetgewing is dat baie inligting nou amptelik geklassifiseer kan word. In ‘n hipotetiese geval, is daar ‘n korrupte ooreenkoms tussen ‘n staatsdepartement en ‘n privaat maatskappy wat vir die maatskappy ‘n groot tender besorg. Om te keer dat dit op die lappe kom, klassifiseer ‘n gemagtigde in die departement die inligting hieromtrent, en ‘n verklikker wat dit uitlap, kan tot 15 jaar agter tralies beland. Hy kan hom nie meer op openbare belang beroep nie.

In die praktyk gebeur dit dikwels dat verklikkers eers sukses behaal met die aanspraak van korrupsie as hy, soos Tshishonga, die media nader. Dié soort sake is die kos van die al skaarser wordende ondersoekende joernaliste van formaat. Maar ook hy kan sy ou dae agter tralies sluit.

Heel waarskynlik is Cosatu reg in sy aanname dat die grondwethof sulke wetgewing ter syde sal stel. Dit neem egter nie die kommer weg dat die regerende party so vasbeslote is om donkerwerk te verskans nie. Voeg hierby dat daar steeds deurlopende oproepe uit die ANC kom om die mediatribunaal in te stel.

Dit is nie heeltemal ‘n verrassing nie – iemand moet die blaam vir die ANC se effens swakker vertoning in die afgelope verkiesing kry, en die media is maar te dikwels ‘n gerieflike slaansak. Hierdie geveg geniet werklik baie aandag.

Wat egter nie minder belangrik is nie, is dat fluitjieblasers behoorlik en ordentlik beskerm moet word. Die Wêreldbank beskou korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms, en die land kan nie ‘n kleptokrasie by sy – soos dr. Jakes Gerwel dit geleentheid gestel het – vrotsige regering bekostig nie.

Herman Toerien